Bebe Rexha

Daar is baie wat haar styl innoverend noem, maar daar was gemengde reaksie oor Bebe Rexha (33) se blou blaarvormige skepping by vanjaar se MTV EMAs in November.
Die kleur van die skepping het goed gepas by die "Say My Name"-sangeres, maar sy moes heelaand die punt van die skepping vashou om seker te maak die uitrusting bly in die regte vorm.
Machine Gun Kelly

Machine Gun Kelly (32) is baie bekend vir sy musiek soos "My Ex's Best Friend", maar met sy dapper uitrustings het hy ook al begin naam maak as styl-ikoon. Vanjaar het hy 'n pers Dolce & Gabbana-pak gedra met tientalle spykers daaraan.
Ná die geleentheid was daar net een vraag op almal se lippe oor dié gewaagde uitrusting: Hoe het hy gesit? Hy het dit later op Instagram gesê hy het glad nie gesit by die geleentheid nie, en hy het die uitrusting by die venue aangetrek. Van sy aanhangers op Twitter het hom vergelyk met 'n seepampoentjie, ander het gesê hy lyk soos die covid-19-virus.
Andrew Ecker en Ariel Dumas

Ariel Dumas (39), 'n skrywer van The Late Show with Stephen Colbert, het geskitter by vanjaar se Emmys - letterlik. Ariel het 'n eenstuk met blinkers aangehad, terwyl haar man, Andrew Ecker, 'n bypassende disko-pak aangehad het. Die tweestuks het omtrent gelyk soos 'n kruising tussen 'n meermin en 'n diskobal.
Emily Heller

Die komediant en skrywer Emily Heller (37) laat gereeld die tonge klap met haar interessante uitrustings. By verlede jaar se Emmys het sy 'n handsak met "gettyimages" daarop gehad, waarmee sy seker gemaak het dat die fotograwe haar sal raaksien.
Vanjaar het sy 'n geblomde rok met 'n "Kick Me!"-teken agterop gedra. Daar was ook 'n stuk toiletpapier onder haar skoen. Dit was 'n oorspronklike idee, maar ons dink sy sit die pot 'n bietjie mis met dié uitrusting.
Kanye West

Kanye West (45) was vanjaar gereeld in die spervuur oor sy omstrede uitlatings op Twitter, en sy styl is geen uitsondering nie.
By vanjaar se BET-prysaand het hy 'n donkerbruin ensemble met 'n los T-hemp, bruin broek en los leeragtige baadjie daaroor gedra. Hy het daarby 'n swart masker gedra wat sy hele gesig bedek het met 'n bruin hoed en sonbrille daaroor. Dié uitrusting sou dalk beter gewerk het vir 'n braai saam met vriende eerder as 'n glansryke prysgeleentheid.
Khalid

Die jong sanger en liedjieskrywer Khalid (24) het al 'n paar groot treffers op sy kerfstok, maar die R&B-koning se uitrusting was minder gewild by die VMA's. Hy het 'n los broek en los T-hemp bo-oor 'n langmouhemp aangehad. Hoewel die snit dalk vir hom werk, pas die pers en borriegeel nie goed saam nie.
Fredrik Robertson

Die modeghoeroe en LGBTQ+-aktivis Fredrik Robertson (50) het behoorlik die internet laat gons oor sy verskyning by die Met-gala. Fredrik het 'n futuristiese-styl gedra wat vlerke voorgestel het om in te pas by die "Gilded Glamour"-tema by vanjaar se Met Gala.
Hoewel hy, anders as Machine Gun Kelly, darem met sy uitrusting kon sit, het dié skepping baie soos eetgerei gelyk.
Billie Eilish

Wat Billie Eilish (21) se rok besonders gemaak het, was dat dit heeltemal uit herwinde materiale gemaak is, maar dié rok het nie heeltemal gewerk vir die sangeres nie.
Die liggroen-en-room skepping het 'n stywe korset met 'n lae neklyn, lang moue en twee bande om die skouers gehad. Die plastiek blom op die voorkant saam met die groen kantmoue het nie goed saamgewerk nie en het haar uitgewas laat lyk.
Gigi Hadid

Daar was baie gemengde reaksies oor Gigi Hadid (27) se dramatiese wynrooi jas bo-oor 'n latex-eenstuk met 'n ingeboude korset by vanjaar se Met-gala. Die kleur pas haar goed, maar ons is nie seker oor die oorgroot baadjie wat herinner aan die soort wat Disney-skurke gewoonlik dra nie.
Aan die een kant het mense gesê dis gepas en maak 'n stelling, maar die Australiese satiriese blad Fashion Critical het gesê haar skepping lyk soos 12 slaapsakke wat aan mekaar vasgestik is.
Emily Ratajkowski

Die Amerikaanse aktrise en model Emily Ratajkowski (31) het in die argiewe gaan krap vir haar Met-gala-uitrusting vir vanjaar, en baie mense op sosiale media was van mening dit moes maar eerder in die argiewe gebly het.
Die uitrusting is van 'n 1992 Versace-versameling, en die waaghalsige bostuk bestaan net uit krale. Dié uitrusting herinner aan iemand wat deur Kersliggies gehardloop het.
Bronne: mtv.com, harpersbazaar.com, nytimes.com, rollingstone.com, billboard.com, sportskeeda.com, dailymail.com, pagesix.com, popsugar.com, scmp.com
















