Alexis Preller se invloed het verder gestrek as sy eie kuns. Hy het generasies Suid-Afrikaanse kunstenaars geïnspireer om hul stem te ontdek. Jana Marx het sy kunswerke in Londen besigtig.
Die Suid-Afrikaanse kunstenaar Alexis Preller was op die kruin van sy loopbaan. Trouens, hy het by die "Oscars" van skilderkuns in Venesië uitgestal en die wêreld aan sy voete gehad. Maar toe tree die internasionale kultuurboikot van die 1960's teen Suid-Afrika in werking en Preller val van die kunswêreld se radar af.
Preller se kunswerke vol lewendige, helder kleure, vorms en mitologiese simboliek was 'n samevloeiing van invloede van oor die wêreld, gedryf deur 'n kunstenaarsgees wat maar net nie tot rus kon kom nie.
Daarom het die kunsafslaer Strauss & Co vanjaar seker gemaak hierdie modernistiese kunstenaar kry sy beurt op die wêreldverhoog.
'n Eksklusiewe versameling van die ontslape Preller se kunswerke is in Maart vanjaar vir die eerste keer tot nog toe in Londen ten toon gestel. Van die werke is te koop aangebied en ander - uit private versamelings - was slegs vir besigtiging.
Preller het bande met Brittanje nadat hy in 1934 aan die Westminster-kunsskool in Londen studeer het.
"Weens Suid-Afrika se onstuimige geskiedenis in die laat 19de en vroeë 20ste eeu is daar verskeie ‘vermiste moderniste' wie se werk nie die aandag gekry het wat dit verdien het nie," sê Kate Fellens, Strauss & Co-direkteur, wat deesdae in Londen woon.
Preller se kunswerke vol lewendige, helder kleure, vorms en mitologiese simboliek was 'n samevloeiing van invloede van oor die wêreld, gedryf deur 'n kunstenaarsgees wat maar net nie tot rus kon kom nie. Hy was 'n ware Suid-Afrikaanse meester wat, ondanks terugslae, sy eie pad in die 20ste-eeuse kunswêreld oopgekerf het. Daar loop ook sterk surrealistiese lyne deur die meeste van sy werke.

Van drama tot skilderkuns
Preller is in 1911 in Pretoria gebore en het aan Pretoria Boys High skoolgegaan, waar hy aan sy liefde vir die kunste kon uiting gee. Hiér het die teatergogga hom gebyt en het hy aan die skool se verhoogproduksies deelgeneem. Ná skool het hy vir 'n kort rukkie as 'n klerk gewerk voordat hy in 1934 na Londen is.
In Londen het sy paaie met die Suid-Afrikaanse skilder J.H. Pierneef gekruis. Preller was onseker of hy kunstenaar of dramaturg wou word, maar Pierneef het hom oorreed om hom by die Westminster-kunsskool in Londen aan te sluit, waar hy onder Mark Gertler geleer het.
Gertler was 'n belangrike Britse modernistiese skilder en Preller het van sy moderne aanslag gehou.
Preller het hier ook vir die eerste keer te doen gekry met die Europese meesters wat so lief was vir kleur en vorm. Gedurende sy studie in Londen het hy graag Vincent van Gogh en Paul Gauguin se kuns bestudeer.
Gauguin was 'n Franse post-impressionistiese skilder - 'n voorloper - wat bekend was vir sy dapper gebruik van kleur en die invloede van Tahiti in sy kuns. Sy unieke styl het die vroeë 20ste-eeuse kunsbewegings beïnvloed.
Die Nederlands gebore Van Gogh is bekend om sy helder, post-impressionistiese meesterstukke. Hoewel hy eers ná sy dood werklik bekendheid verwerf het, het sy kuns diep spore in die ontwikkeling van modernistiese kuns getrap.
In 1935 het Preller teruggekeer na Pretoria, waar hy sy eerste tentoonstelling gehou het. Sy eerste kunswerke bevat elemente van sowel Van Gogh as Gauguin, asook dié van Irma Stern, wat ook bekend is vir helder kleure en sterk kwashale.

Die ‘Suid-Afrikaanse Gauguin'
Preller het in 1937 sy vaardighede aan die Académie de la Grande Chaumière in Parys gaan verder slyp, maar dis sy persoonlike reise wat hom uiteindelik as kunstenaar gekenmerk het.
Volgens dr. Alastair Meredith, kunsspesialis en hoof van Strauss & Co se kunsafdeling, het Preller al hoe meer geïnspireer geraak deur die Mapogger- of Ndebele-dorpies rondom Pretoria - toe nog 'n landelike gebied.
"Hierdie dorpies is meestal deur vroue en kinders bewoon, want die mans het op die myne gewerk."
Die Mapoggers se sterk kulturele en godsdienstige tradisies, helderkleurige komberse en die koperringe om hul nek, gewrigte en enkels het Preller aan priesteresse in 'n kloosterkonteks herinner. Hy het ook die res van Afrika beter leer ken en van Swaziland tot in die Belgiese Kongo gereis.
"Hy was daar toe die (Nyamulagira)-vulkaan uitbars en hy was steeds daar toe die Tweede Wêreldoorlog in September 1939 uitbreek," sê Meredith.
Blootstelling aan Afrika-landskappe, -kulture en -stamkuns het 'n onuitwisbare merk op Preller se kuns gelaat. Die lewendige kleure, elemente uit die natuur en Afrika-maskers het hul weg na Preller se skilderye gevind. Dit het hom die skerpsinnige bynaam "die Suid-Afrikaanse Gauguin" besorg.
Volgens Meredith het Preller ná die uitbreek van die oorlog kuslangs deur die Tanganjika-streek, wat deesdae deel is van Tanzanië, na Pretoria teruggekeer. Dit het die gebruik van seekleure en vismotiewe in sy kuns geïnspireer.
'n Jaar nadat die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het, het Preller diensplig as deel van die mediese korps in Noord-Afrika gaan doen, al het hy geen mediese agtergrond gehad benewens die basiese opleiding wat troepe ontvang het nie.
"Preller het in die voorste linie gewerk en in allerlei operasies en die herstel van geamputeerde ledemate geassisteer. Ek dink hy was ontsettend getraumatiseer deur wat hy daar gesien het," sê Meredith. Hierdie ervaring het 'n reeks skilderye met liggame met letsels of sonder ledemate geïnspireer.
Boonop is hy gevang en in 1942 en 1943 as 'n krygsgevangene in Libië, Egipte en Italië aangehou. Ná sy vrylating in 1943 het hy na Pretoria teruggekeer en vir hom 'n mooi huis gebou.
Gebroke harte en liggame
"Preller was 'n openlik gay man in 'n uiters konserwatiewe omgewing," sê Meredith. "Sy eerste lewensmaat, Christi Truter, was 'n balletdanser. Hul verhouding het in 1946 katastrofies verbrokkel. Die werke wat hy reg ná hierdie verbrokkeling geskilder het, is baie donker - baie gefokus op pyn, lyding en marteling."
In dieselfde jaar het Preller homself om die lewe probeer bring deur groen verf te drink met die hoop dat die arseeninhoud daarvan hom sou vergiftig, sê Meredith. Maar hy het oorleef en aan die einde van 1946 weer na Europa gereis om sy kop skoon te kry, volgens die biografie Alexis Preller: A Visual Biography deur Esmé Berman.
In Parys het hy die kunsgalerye gereeld besoek om sy gebroke hart en troebel gemoed te laaf. Die Afrika-versamelings by die Trocadéro-museum het hom veral geïnspireer. Hy het ook die antieke Griekse standbeelde deur 'n lens van verwoesting (hetsy deur die lewe of deur oorlog veroorsaak) beskou. In 1947 het hy met hernude inspirasie na Suid-Afrika teruggekeer.
Modernisme in Suid-Afrika in Preller se dae was 'n ingewikkelde tyd. Terwyl Europese bewegings soos die surrealisme aanhangers gehad het, het plaaslike kunstenaars met hul identiteit geworstel.
Hoewel Preller se vroeë werke definitiewe tekens van die invloed van Gauguin en Van Gogh getoon het, het hy hulle nooit net nagemaak nie. Hy het ook geweier om tot enige denkrigting beperk te word. Hy het aanhou eksperimenteer.
In 1948 en 1949 het hy sy huis en persoonlike besittings verkoop en in 'n hut in die Seychelle gaan woon. Hier het hy vir hom 'n ateljee ingerig wat oor die see uitkyk en met Gauguin se Tahitiaanse beelde in sy agterkop het hy die kleurvolle eiland, vissermanne en eksotiese vrugte en blomme geskilder wat hy elke dag om hom gesien het.
Egiptiese in vloede en Dogon-beelde
'n Studiereis na Italië en Egipte in 1953 was die dryfkrag agter Preller se skepping van 'n denkbeeldige Afrika-volk met sy eie mistieke etniese kultuur, voorgeslagte en simbole.
Hy het aanklank gevind by Europese bewegings soos die ekspressionisme en tegnieke van Piero della Francesca, asook invloede van antieke Egiptiese muurkuns en die kalmte van die vroeë Renaissance-kuns. Francesca was 'n meester van perspektief en vorm gedurende die vroeë Italiaanse Renaissance. Sy kuns is 'n kombinasie van kalm, geometriese vorms.
Preller was ook beïndruk met Dogon-beeldhouwerk. Die Dogon-volk woon in 'n geïsoleerde streek van Mali, suid van die Sahara-woestyn. Die simboliese Dogon-beeldhouwerke was deel van die volk se mitologiese godsdienspraktyke.
In 1954 het hy op 'n vriend se plaas naby Hartbeespoortdam gaan woon en in 1956 het hy van sy nuwe werke by die Venesiese Biënnale, wat as die "Oscars" of "Olimpiese Spele" van beeldende kuns beskou word, ten toon gestel.
Volgens Meredith het die wêreld van hier af vir hom oopgelê, maar dieselfde wêreld was genoop om sanksies teen apartheid-Suid-Afrika in te stel.
Preller was een van talle Afrika-kunstenaars wat nie meer by oorsese kunsfeeste kon uitstal nie.
Preller se nalatenskap
Preller se kuns het nie net die Suid-Afrikaanse kunswêreld verryk nie, maar ook die definisie van kunsbewegings in 'n postkoloniale konteks uitgedaag.
As een van Afrika se moderne voorlopers is sy uitsette 'n blywende bewys van sy meedoënlose strewe na artistieke uitdrukking. Sy skilderye, met hul lewendige kleure, simboliese narratiewe en boeiende komposisies, is gesog onder versamelaars.
Preller se invloed het egter verder gestrek as sy eie kuns. Hy het generasies van kunstenaars ná hom geïnspireer om hul eie, unieke stem te ontdek.
In sy laaste jare het hy baie uitgesproke geword oor sy seksualiteit en is deur die Suid-Afrikaanse regering genader om in 'n komitee te dien wat hom op die welstand van gay mense toespits.
Preller is oorlede op 13 Desember 1975. Hy was 64 jaar oud.



















