Styl

Hiér is SARIE-lesers se top-5 parfuums

FOTO: Unsplash
FOTO: Unsplash

Ons het vroeër die week op ons Facebook-blad vir ons lesers gevra watter parfuums julle graag in jul Kerskous sal wil kry. Die SARIE-span het egter nooit gedink ons sou meer as 1 400 antwoorde in net 'n paar dae ontvang nie! Ons was ook beïndruk met die wye verskeidenheid van geure wat ons lesers van hou: van ou bekendes soos Chanel No. 5 en Elizabeth Arden se ikoniese Red Door tot nuwe moderne geure soos DKNY Be Delicious en Estée Lauder Modern Muse.

Hiér is jul top-vyf gewildste geure:

1. Elizabeth Arden Red Door

2. Thierry Mugler Alien

3. Elizabeth Taylor White Diamonds

4. Clinique Aromatics Elixir

5. Chanel No. 5

Volgens Diana Rankin, parfuumkenner en eienaar van die geur-boetiek Perfume Power in Somerset-Wes, hou die meeste vroue van blomnote soos jasmyn, roos, lelie en viooltjie, terwyl sitrusnote veral tydens die somer gewild is omdat dit jou sonnig en optimisties laat voel.

Nuwe geur-seisoen

Diana glo egter dat jy, nes 'n nuwe haarsnit of klerekas, elke twee tot drie jaar vir jouself 'n nuwe geur moet kies. "'n Vars nuwe geur kan verfrissend wees. Dit gee jou gemoed onmiddellik 'n hupstoot." Boonop word die reuk van parfuum dikwels nou aan herinneringe wat jy koester verbind. As jy byvoorbeeld 'n nuwe parfuum kies vir n spesiale geleentheid, soos vir 'n verjaarsdag, gradeplegtigheid, werksbevordering of selfs vir die feesseisoen, sal jy altyd 'n geur-assosiasie met dié geleentheid of tyd van jou lewe hê, sê Diana.

Maar hoe kies jy 'n nuwe parfuum waarvan jy weet jy sal hou? "Die beste plek om te begin is om te weet watter geurfamilie jy verkies: blom-, vars-, Oosterse- of houtgeure?" Vra dan by die toonbank om 'n paar opsies in jou gunsteling-geurfamilie te toets. As jy onseker is, kyk na die note in jou ou gunsteling-parfuum.

FOTO: Instagram (@sherry.shop89)
FOTO: Instagram (@sherry.shop89)

Probeer dié nuwe geure gebaseer op jou ou-gunsteling:

(druk die pyl na regs)

Jy hou van … Elizabeth Arden Red Door (R695 vir 100 ml EDT)

Die ikoniese geur bevat note van heuning, roos, soetemaling en ilang-ilang.

Probeer … Paco Rabanne Lady Million Privé (R1 150 vir 50 ml EDP)

Die geur bevat 'n hart van romerige vanielje en sonsoekertjie (heliotroop) en 'n basis van kakaobone en heuning.

Jy hou van … Thierry Mugler Alien (R1 180 vir 60 ml EDP)

Die ster note is jasmyn, hout en muskus.

Probeer … Thierry Mugler Alien Eau Sublime (R855 vir 60 ml EDT)

'n Nuwe vars, sonnige geur met note van nartjie, bitterlemoen en jasmyn. Beskikbaar vir 'n beperkte tyd

Jy hou van … Elizabeth Taylor White Diamonds (R620 vir 100 ml EDT)

Die geur bevat lelie, soetemaling en jasmyn, asook aldehide.

Probeer … Gucci Bloom (R1 335 vir 50 ml EDP)

Die parfuumnote sluit in soetemaling en jasmyn, asook die rangoon-rankplant uit Indië wat eksklusief in dié nuwe parfuum gebruik word.

Jy hou van … Clinique Aromatics Elixir (R1 050 vir 45 ml)

Patsjoelie, kuskusgras, wierook en aldehiede bekoor in dié ou-gunsteling.

Probeer … Balmain Extatic Gold Musk (R1 195 vir 90 ml EDT)

Aldehiede met 'n swaarder geur danksy sandelhout, kasjmier en muskus. By Dis-Chem en Truworths

Jy hou van … Chanel No. 5 (R1 600 vir 50 ml EDP)

Die eerste geur met 'n oorvloed jasmyn en aldehide wat ekstra rykheid verleen.

Probeer … Chanel No. 5 L'Eau (R1 600 vir 50 ml)

Die nuwe veerligte weergawe sit die klem op vars sitrusgeure.

Wenk: Vir 'n geur wat langer op jou vel hou, maar nie te swaar is nie, kyk uit vir parfuums wat note soos seder- en sandelhout, patsjoelie, vanielje en sitroen bevat, sê Diana.

Monica Pienaar

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM