Styl

Ryno Mulder: Die troos van twak

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Op hoërskool het ek verlief geraak op 'n roker. 'n Vintage suèdeleerbaadjie het om my beminde se skouers gehang, daar was 'n Nine Inch Nails-kasset binne sy Walkman en wanneer hy gestap het, was dit met 'n ongeërgde slingerswaai in sy heupe. En dan, 'n Peter Stuyvesant wat vanaf sy onderlip hang, nes James Dean in Giant.

Dit was skoolvakansie en die res van my gesin was weg Karoo toe. Ek het in my slaapkamer se buitedeur, wat oopgemaak het op ons agterstoep, gestaan en onbehendig geoefen om aan 'n sigaret te teug, sodat ek my crush kon beïndruk.

Audrey Hepburn was self 'n drie-pakkies-per-dag-meisie. Haar karakter Holly Golightly uit Breakfast at Tiffany's se reklamefoto is deel van ons kollektiewe popkultuur bewussyn. Foto: Pixabay
Audrey Hepburn was self 'n drie-pakkies-per-dag-meisie. Haar karakter Holly Golightly uit Breakfast at Tiffany's se reklamefoto is deel van ons kollektiewe popkultuur bewussyn. Foto: Pixabay

Kort-kort het ek seker gemaak oom Riël, die buurman, sien my nie raak nie. Hy is self 'n geelvinger-stoker met 'n Rothmans-kug, maar netnou klik hy by my ma-hulle.

Ek het bietjies-bietjies geteug sodat ek nie verstik nie en bitter góór ná die tyd gevoel.

So verander ek my strategie. Ek hoef nie regtig te rook nie, ek kan mos net lyk asof ek rook. Ek bemeester die kuns om sigaret in die hand te poseer en nie die rook heeltemal in te trek nie - netnou hoes ek voor hom.

Boonop het my beste hoërskoolvriendin, Rolanda, 'n vrolike meisie met 'n permanente blos en 'n hewige Bredasdorp-bry, my in my kwaad gestook.

Sy was al teen matriek 'n pakkie-'n-dag-meisie en het elke eetlusdemper op ons dorpsapteek se rak beproef, maar sigarette was haar gunsteling.

Tannie Connie, haar ma, het ons toegelaat om in hul huis te rook, leeg te lê en MTV-musiekvideo's te kyk terwyl ons eintlik huiswerk moes doen.

Die kruin van koel

Toe my kalwerliefde sneuwel, het ek, buiten die emosionele letsel, nog 'n memento saam met my geneem - 'n lewenslange romanse met rookgoed.

In my universiteitsdae het ek op Die Mystic Boer se stoep deur The Face-tydskrif geblaai, terwyl ek eintlik klas moes draf. Hierin het ek gelees Kate Moss rook Marlboro Lights.

Wanneer 'n vriend oorsee gegaan het, is 'n karton Marlboro's altyd bestel, jy kon eers vanaf 2003 die handelsmerk in Suid-Afrika koop. Die onderliggende beginsel was pure magical thinking. As ek rook wat Kate Moss rook, sal ek ook so cool soos sy kan wees?

My eerste tydskrifredakteur was haar tyd vooruit met skynheilige kritiek oor my beheptheid met vlymskerp wang-, sleutel- en heupbene.

Sy het gemaan dat 'n skraal voorkoms en sigaret tussen die vingers binnekort so passé soos blou oogskadu en blow wave-kuiwe gaan wees. Maar die modewêreld verval altyd een of ander tyd weer in haar ou, slegte gewoontes, net met 'n nuwe vernislagie. Nostalgie vir die negentigs en vroeë 2000's vier tans hoogty.

Fluweelsweetpakke is terug, Kim Kardashian se kurwes is skoonveld te danke aan Ozempic en Instagram-selfies wys hoe Marc Jacobs, Bella Hadid en Dakota Johnson skelm by die Met Gala in die badkamer rook, nes stout tieners.

Jeug en rebelsheid is deur popkultuur by ons kollektiewe bewussyn ingebrand. Dink aan Audrey Hepburn, self 'n drie-pakkies-per-dag-meisie, se Breakfast at Tiffany's reklamefoto.

Of Uma Thurman met haar inkswart Cleopatra-bob in Pulp Fiction.

Een van my gunsteling-rook-oomblikke was in die Tom Ford-rolprent A Single Man. Julianne Moore se karakter, 'n elegante middeljarige vrou met 'n allegaartjie van voorliefdes van alles van kalmeerpille tot jenewer, steek daarin 'n pienk-en-goue sigaret op.

Ek het kort daarna New York platgestap om die einste Nat Sherman-sigarette in reënboogkleure te vind, wat net vir foto's en spesiale geleenthede gespaar is. Teen dié tyd het ek ten volle Oscar Wilde se woorde begryp: " 'n Sigaret is die behaaglikste van plesiertjies. Dis voortreflik, maar laat jou altyd onbevredig."

Maar kan woke-kultuur, wat vir die siniese onder ons voel soos die teater van deugsaamheid, rook kanselleer?

Die departement van gesondheid probeer al dekades lank, maar steeds sal jy die kanniedood stokers soos uitgeworpenes op die kantoorperseel se uithoeke vind - soos melaatses by die stadspoorte.

Die tabakmaatskappy Philip Morris International is reeds besig om hulself te herposisioneer. Die plan is om hul topverkoper, die $33 miljard-handelsmerk Marlboro, binne die volgende dekade met IQOS e-sigarette te vervang.

Noem my sinies, maar dit klink soos 'n droid uit Star Wars. Wie sal jy eerder oopmond wil soen, C-3PO, of die Marlboroman?

Slaan 'n dampie

As jy ook al die wasige wêreld van vaping betree het, sal jy weet 'n aarbeimelkskommel-gegeurde rookervaring verwar jou sintuie. Boonop lyk die draak­agtige wolke rondom jou kop potsierlik - asof jy op 'n reusesampioen hoort en in raaisels praat.

As ek lus is vir 'n pienk melkskommel, sal ek myself Wimpy toe haas, baie dankie.

Hoe sal ikone soos Marlon Brando, James Dean en selfs Cruella de Vil lyk wat 'n vape-pyp, pleks van 'n sigaret, tussen hul lippe vasknyp?

Boonop ontbreek die lekkerste, belangrikste gedeelte van rook by e-sigarette - die drie-stap-ritueel. Eers haal jy die sigaret uit sy pakkie, plaas hom tussen jou lippe en adem die rokerige karamel van die tabak in.

Dan steek jy hom aan en asem die eerste trek, altyd die lekkerste, in. Dalk lê die genot van die ritueel by ons oer-instink om mag oor die natuur in te span met behulp van vuur - vir kos, hitte en offerande aan die gode.

Die rookritueel is 'n vorm van meditasie. 'n Oomblik van selfsug of ontsnapping. Of as ons nou regtig pseudo-geestesgesondheid wil gebruik om dit te regverdig, 'n manier om mindfulness te beoefen.

Dit kalmeer jou, herfokus jou aandag en daar is regte-egte wetenskaplike studies wat wys dat dit Parkinson se siekte voorkom. Maar jy sal steeds met emfiseem, longkanker en plooie opgeskeep sit.

Vlietend en vlugtig

Soveel soos ek die afgelope paar jaar myself probeer wysmaak ek wil ophou, glo ek dit nie. Ek verander my taktiek en gebruik dit as 'n beloning.

Sodra ek lus kry vir rook, moet ek eers 'n taak op my doenlysie voltooi. As dit afgehandel is, het die hunkering hopelik oorgewaai.

Indien nie, oortuig ek myself om nog iets te takel, dán verdien ek regtig daardie sigaret.

Al probleem was dat my brein 'n pavloviese hunkering na 'n nikotienbeloning ontwikkel het elke keer wanneer ek 'n onaangename taak voltooi.

Belastingberekenings, skottelgoed was en uitstaande betalings vanuit moeilike kliënte invorder maak my alles vreeslik lus vir rook.

Toe ek aan die begin van die jaar deur 'n ernstige lugweg­infeksie platgeslaan is, was rook buite die kwessie. Ylend van die koors het ek 'n silwerrandjie rondom die donderwolk probeer vind - ek kan ophou rook.

Ek onthou nie my laaste sigaret nie. Ek weet dit was in Madrid, 'n ekstra lang een wat dieselfde prys was as die gewone standaardlengte sigarette.

Ek het die boksie, waarin twee sigarette oor was, in my hotel­kamerlaai gelos. Ek vermoed ek onthou nie my laaste sigaret nie, omdat ek nie regtig geweet het dis my laaste een nie.

Mark Twain het gesê "om op te hou rook is die maklikste ding ooit! Ek weet, want ek het dit al 'n duisend keer gedoen."

Dis eers nou dat ek begryp waarom mense wat al jare lank nie hul mond aan drank sit nie, hulself nog alkoholiste noem. Ek het ses maande gelede gerook, maar ek is steeds 'n roker.

My rookskerm was my veilige plek, dit het my herinner hoe vlietend en tydelik die lewe regtig is.

Dalk sal ek weer eendag een opsteek. Net nie nou nie.

  • Mulder is 'n grimeerkunstenaar en voormalige skoonheidsredakteur van Sandton.
Ryno Mulder

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM