
Waar swart maskara eens op 'n tyd byna elke vrou se verlate-eiland-produk was, lyk dit asof dié staatmaker nou 'n tree terugstaan.
Op TikTok kry jy meer as 11 000 grimeervideo's onder die hutsmerk #nomascara, en verskeie Hollywood-bekendes deel grimeervoorkomste waar hulle min of geen maskara dra nie - ja, selfs Kylie Jenner!
Hoe laat hulle dit werk? Die sleutel is om steeds die res van jou gesig subtiel glansryk te grimeer en net jou wimpers skoon te los.
Moet ook nie bang wees vir treffende lippe nie. Só lyk jy sjiek, vars en modern.


Dra dit só
Om seker te maak jou wimpers lyk op hul beste sonder 'n laag maskara, is dit 'n goeie idee om gereeld 'n wimperserum te gebruik wat jou wimpers dikker en sterker laat groei. Jy moet dit op die lange duur daagliks aanwend vir merkbare resultate, sê Ryno Mulder, bekende grimeerkunstenaar.
Laat tint jou wimpers gitswart en oorweeg 'n lash lift-behandeling, waar jou wimperhaartjies professioneel opwaarts geset word om die illusie van langer wimpers met 'n natuurlike krul te skep.
Kontak Ryno Mulder: 071 688 0242, @makeupbyryno





















