Glansgolwe in ’n kits

In die wêreld van hare gons dit nou oor lugstileerders (airstylers). Dié veelsydige toestelle werk soos ’n haardroër en stileringsborsel of krultang in een om hare blitsvinnig uit te blaas en sagte krulle te skep.
Vir ’n feeshaarstyl wat glansryk lyk maar steeds min moeite verg, is sagte golwe met ’n kantpaadjie die antwoord, sê René Ferreira, nasionale opleidingsbestuurder van die plaaslike haartoestelreeks Veaudry International.
“Dink die ‘ek-het-so-wakker-geword-voorkoms’, maar met moderne rooitapytglans.”
Of jy jou hare lank of in ’n kort bobstyl dra, gebruik ’n lugstileerder soos die Veaudry myAirStyler om los golwe te skep. Borsel jou hare liggies uit sodra dit afgekoel het en set in plek met ’n glans-haarsproei.
Op jou naels
Dié feestyd is helder kleure op jou naels die perfekte bykomstigheid by enige uitrusting. Ons gunstelinge is bottergeel, pienk toermalyn en sagte koraal om jou voorkoms elegant en speels af te rond
– Debra Rheeders, bemarkingsbestuurder van Bio Sculpture
Getoets deur Monica: Bederf hare met ’n behandeling

Die feesgety is sinoniem met glans, en wie wil nie met ’n blink haredos spog nie? Ná ’n lang jaar het my hare droog en leweloos gevoel.
Ek het gegaan vir die Brasiliaanse haarsorgreeks INOAR se gewilde Japanese Silk Superfood Hair Treatment (vanaf R550) by Prisma Hair Design in Durbanville. Die behandeling is ontwikkel om haargroei te bevorder en jou hare ’n vog-hupstoot te gee – iets wat alle haartipes nodig het.
Dit verminder ook enige grofheid en donsige krulle (frizz). Ek kon nie glo hoe superblink en gesond my hare ná die behandeling gelyk het nie! Boonop hou die resultate sowat ses weke.
By uitsoeksalonne
Jou goue blomgeur

Die nuutste Dior J’adore-fyngeur, L’Or (R3 950 vir 50 ml EDP), spog met versterkte konsentrasies van die geur se kenmerkende blomnote – lemoenbloeisel, jasmyn en roos – vir ’n parfuum wat tegelyk sterk en sensueel is.

Die ikoniese goue band om die bottelnek, geïnspireer deur die nekstukke van die Masai-stam van Kenia, is nou ’n bekoorlike soliede vorm om die warmte van die geur te weerspieël.
Afrika-skoonheid seëvier
K-Beauty ken ons, maar die laaste paar jaar is A-Beauty (kort vir African Beauty) ook gewild.
Dié tendens plaas die skoonheidsvoordele en ryk geskiedenis agter ons kontinent se unieke botaniese skatkiste op die voorgrond. Dink maroela, galambotter, aalwyn, rooibos, boegoe en die herlewingsplant, om maar net ’n paar bestanddele te noem.
A-skoonheid beklemtoon ook volhoubaarheid en eenvoudige organiese formulerings.
“Suid-Afrika is die tuiste van meer as 10 persent van die wêreld se plantspesies. Met soveel aktiewe velsorgbestanddele afkomstig van plante, maak dit sin dat daar ’n groot fokus is op ons plaaslike ekstrakte,” sê Sarah Hetherington, direkteur van handelsmerkkommunikasie van African Extracts Rooibos.
Gelukkig is daar geen tekort aan plaaslike skoonheidshuise wat A-skoonheid omarm nie.

- ProbeerPlaaslike byewas en heuning is superbevogtigend in die Simply Bee Body Lotion with Fynbos Honey (R145). By simplybee.co.za
- Buiten kenmerkende rooibos bevat die African Extracts Rooibos Hydrofirm-C+ Anti-Wrinkle Serum (R338) ook olyfblaar-ekstrak. By africanextracts.com
- Aalwyn-ekstrak in The Natural Africa Cape Aloe Serum (R1 150) is voedend, anti-inflammatories en ryk aan antioksidante. By thenaturalafrica.co.za
Op jou lippe

Klassieke rooi lippe bly tydloos en elegant vir die feestyd, maar dieper bessieskakerings en fuchsia-pienk is tans ook gewild
– Kelly Paitaki, plaaslike grimeerkunstenaar vir Chanel
’n Katoog met kleur!
As jy met kleurvolle grimering wil eksperimenteer, is ’n gekleurde oogomlyner of maskara ’n prettige, subtiele manier om dit te doen.
Ons is mal oor dié elegante katoog-voorkoms wat met Chanel se beperkte uitgawe Holiday 2025 Makeup Collection geskep is.
Kelly Paitaki, plaaslike grimeerkunstenaar vir Chanel, verduidelik hoe:
- Omlyn jou boonste wimperlyn met ’n fyn swart oogomlyner en trek ’n klassieke katoog-vlerkie.
- Smeer ’n blougrys oogskadu-skakering liggies onder jou onderste wimperlyn en trek dit ook uitwaarts om ’n dubbele vlerkie te skep.
- Nou vir die feestelike kinkel: Trek met ’n metaalkleurige oogomlyner (probeer koper of warm rooi) ’n fyn vlerklyn tussen die omlyner- en skadu-lyne.
Onmiddellik treffend en uniek!

* Produkpryse is voorgestelde pryse en kan verskil van winkel tot winkel












