Styl

Sexy op die Seychelles!

Pasgetroud pas die Dancing with the Stars-ster Julianne Hough en haar yshokkiespeler-man Brooks Laich klaarblyklik soos ’n handskoen. Hulle hou tans wittebrood op die Seychelles en dié foto’s is genoeg om enigeen groen van jaloesie te maak.

Die paartjie lyk verlief, verlore ... en vreeslik sexy in hulle swemklere.

Julianne het ook ’n selfie van haar sonder ’n kriesel grimering gedeel en sy lyk steeds beeldskoon!

Gister het sy haar verjaardag op die La Digue-eiland gevier en Brooks het die oulikste foto en gelukwense gedeel.

Nou ja, as dít jou nie laat glo in die mooi van die liefde nie, weet ons nie.

En ons weet nie van julle nie, maar die SARIE-span vergaap ons met elke foto aan Julianne se vietse lyfie.

Julianne het onlangs aan People Magazine verklap hoe sy haar lyf so kry, en sulke inligting moet gedeel word.

Dís wat sy op ’n normale dag eet:

• Voor ontbyt: ’n Groen-sap bestaande uit komkommer, spinasie, peer, seldery, wortel, ’n groen appel, gemmer, suurlemoen en beet.

• Ontbyt: Twee geposjeerde eiers met avokadopeer en tamatie, en ’n koppie tee met afgeroomde melk en stevia.

• Peuselhappie: Nog ’n smoothie, dié keer bestaande uit 5 rou amandels, ’n rooi appel, ’n piesang, Griekse jogurt, ’n halwe koppie amandelmelk en ’n halwe teelepel kaneel.

• Middagete: ’n Hoenderborsie sonder vel, met ’n slaai.

• Peuselhappie: ’n Lemoen.

• Aandete: Salm, berei met suurlemoen, olyfolie en roosmaryn, saam met 2 koppies spinasie.

• Nagereg: (Ja, sy eet nagereg!) 4 amandelneute in donkersjokolade.

Totale kalorieë:1 526

Sy drink ook baie water (4-6 glase per dag), en behalwe dat sy natuurlik tonne kalorieë op die dansvloer verbrand, probeer sy gereeld ander oefeninge doen. Haar gunsteling is joga wat die kernspire teiken (CorePower).

Plesier! Nou moet julle ons verskoon, ons is op pad gimnasium toe.

Bianca Terblanche

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM