Styl

Dís die geheim agter hare wat gesond groei

As jou kopvel gesond is, groei jou hare optimaal, sê Trevenen Bam, plaaslike konsulterende trigoloog (haarkundige) van die haarsorgreeks Philip Kingsley. Ons besef dit nie altyd nie, maar ons kopvel word daagliks aan dieselfde skadelike omgewingsfaktore en vuiligheid as ons gesig blootgestel.

Onsuiwerhede soos sweet, stof en haarprodukte bou in jou hare en op jou kopvel op, sê Trevenen. Daarby raak jou kopvel daagliks as deel van die natuurlike selvernuwingsproses van miljoene dooie selle ontslae, wat ook op die oppervlak van jou kopvel gaan lê.

Gelukkig vorm die natuurlike olie wat deur jou haarwortels vervaardig word, 'n beskermende lagie op jou vel. Dit sorg vir 'n gesonde balans tussen dooie selle, onsuiwerhede en olie op jou kopvel. Jou hare groei dan beter en sterker omdat die nodige suurstof en voedingstowwe die haarwortels kan bereik.

Maar volgens Trevenen kan spanning, hormoonwanbalanse, 'n ongebalanseerde dieet en die gebruik van die verkeerde haarsorgprodukte dié sensitiewe balans versteur. Minder voedingstowwe kom dan by die haarwortels uit, meer dooie selle word afgeskud en te veel olie geproduseer. Mettertyd bou dié oortollige onsuiwerhede op, wat jou kopvel begin uitdroog en irriteer. Dit gaan lê binne-in die haarfollikels en lei tot droë vlokkies of 'n uitslag. Dit kan selfs voortydige haarverlies veroorsaak.

Ernstiger oorsake van olierigheid en skilfers sluit in ekseem, seborree-dermatitis en die ontsteking van jou kopvel. In dié gevalle is dit beter om jou dokter te besoek, volgens Trevenen.

Sorg só vir jou kopvel

#1 Hou dit skoon

Die belangrikste is om jou hare en kopvel skoon te hou, sê Trevenen. Was jou hare minstens elke tweede dag en maak seker jy spoel die sjampoe deeglik uit.

FOTO Instagram / @zoesaldana
FOTO Instagram / @zoesaldana

#2 Gebruik die regte produkte

Die regte haarsorgprodukte maak ook 'n groot verskil, sê hy. As jy geneig is om kopvelprobleme te hê, gebruik 'n sjampoe en opknapper wat ewe veel vog en proteïene aan jou hare gee. Kyk vir woorde op die verpakking soos "balancing" en "clarifying".

FOTO Instagram / @mirandakerr
FOTO Instagram / @mirandakerr

#3 Eet gebalanseerd

'n Streng of ongebalanseerde dieet kan veroorsaak dat te min voedingstowwe die wortels bereik. Kos ryk aan gesonde vette, soos avokado, olieryke vis en sade, stimuleer die bloedsirkulasie na jou haarfollikels. Só word meer suurstof en voedingstowwe na die follikels vervoer. Dit voed jou haarwortels en bevorder gesonde haargroei.

FOTO Instagram / @chrissyteigen
FOTO Instagram / @chrissyteigen

#4 Skilfer af

Skilfer sowat een keer per week jou kopvel met 'n haarmasker af of meng 'n bietjie suiker of growwesout met jou sjampoe waneer jy jou hare was.

FOTO Instagram / @jessicachastain
FOTO Instagram / @jessicachastain
Monica Pienaar

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM