Ons almal weet hoe dit voel om met gesplete haarpunte te sukkel. Dié onooglike "gebreekte" punte wat in alle rigtings staan vorm wanneer jou hare droog is as gevolg van chemiese, fisieke of omgewingskade. Tot dusver was die maklikste manier om daarvan ontslae te raak om die beskadigde punte gereeld te laat afsny, maar dit beteken jy boet van jou hare se lengte in. Gelukkig is daar nou 'n ander oplossing!
Die plaaslike salongroep Sorbet bied nou 'n nuwe Split Ender-haarbehandeling waar 'n unieke haarsny-toestel gebruik word om fyn, droë en gesplete hare al langs jou haarlengte af te sny, sonder dat jy lengte verloor.
Jou hare word eers gewas en dan glad en reguit uitgeblaas. Daarna knyp 'n haarstilis dun stroke hare in die toestel vas en beweeg dit stadig van bo na onder (nes 'n haaryster). Fyn lemmetjies aan die binnekant van die toestel sny dan slegs die beskadigde punte wat opstaan af.
In die skoonheidswêreld staan dié tegniek om gesplete punte te sny bekend as hair dusting, en dit word al jare lank sommer met die hand deur sommige haarstileerders gedoen. Dit laat jou kroon onmiddellik vars en glad lyk, en voorkom dat jou haarpunte verder beskadig en breek. Met die hand is dit egter 'n baie tydsame proses - hiervoor is die nuwe toestel perfek.
Dít sê Monica Pienaar, SARIE se skoonheidskrywer, oor die Split Ender-behandeling:
"Ek het 'n kans gekry om dié behandeling te beproef. My hare is relatief gesond omdat ek dit nie baie kleur nie, maar die onderste deel was grof en droog omdat ek dit gereeld saans droogblaas. Ná die behandeling was dit weer glad en sag. En ek het niks van my hare se lengte verloor nie!"
* Die Split Ender-behandeling is by Sorbet Dry Bars beskikbaar vanaf R300.
Het jy geweet?
Daar is 'n hele paar interessante maniere wat mense gebruik om hul gesplete punte te sny. In Suid-Amerika gebruik vroue 'n proses wat bekend staan as candle cutting, waar 'n haarstileerder 'n kersvlam gebruik om die gesplete puntjies af te skroei. Die Victoria's Secret-model Alessandra Ambrosio is glo 'n voorstander van dié tegniek. Lees hiér meer.
Bronne: www.refinery29.com













