1. Weg met lyntjies
Dis belangrik om die deel om jou oë goed te bevog met 'n oogroom, sê Kelly Paitaki, plaaslike grimeerkunstenaar van Chanel. Dit plomp fyn lyntjies op sodat dit sagter vertoon en keer dat grimering aangeplak lyk.
2. 'n Basislaag vir houkrag
"Jou ooglid is die olierigste deel van jou vel, daarom moet jy dié deel goed voorberei voordat jy oogskadu aanwend," sê Alicia Buckle, grimeerkunstenaar en haarstileerder van Kaapstad. Wend vooraf 'n basislaag wat spesiaal vir oë geformuleer is, op jou ooglede aan. Dit sal help dat jou oogskadu langer aanbly en dat die oogskadukleur sterker vertoon.
3. Lipstiffie vir donker kringe
Het jy geweet? 'n Dun lagie van 'n mat lipstiffie met 'n oranje of perske ondertoon kan help om donker kringe onder jou oë te neutraliseer, sê Alicia. Gebruik daarna 'n verligterpen met ligweerkaatsende deeltjies om die deel te verhelder.
4. Verbronser vir definisie
Wend 'n romerige verbronser in die vou van jou oog aan en skakeer dit met jou onderlaagborsel in. "Dit warm jou vel op en laat jou gesond lyk. Dit definieer ook jou oë en laat dit wakkerder lyk," sê Alicia.















