Die hertogin van Cambridge, Kate Middleton, kan altyd deur 'n ring getrek word. Sy is stylvol, elegant en sjiek. En sagte rokerige oë is deel van haar staatmaker-voorkoms.
Saam met haar welige wenkbroue en 'n tikkie pienk op haar wange en lippe laat dié voorkoms haar glansryk, dog gemaklik en toeganklik lyk. Dis ook geen geheim nie dat Kate daarvan hou om sélf haar grimering voor glansgeleenthede aan te wend. Sy het selfs op haar troudag haar eie grimering gedoen!
Dit hoef jou nie ure te neem om jou rokerige oë te skep nie - al wat nodig is, is 'n veelsydige oogskadu-palet en dié maklike stappe …
Kate se rokerige oë in 5 stappe
Die geheim van rokerige oë is om jou oogskadu-kleure goed in te skakeer vir 'n soort ombré-gevoel. Kies 'n oogskadu-palet met drie neutrale kleure in skakerings van medium tot donker.
Stap 1: Wend die medium skakering van die binnehoek van jou oog tot in die middel van jou ooglid aan met 'n oogskadu-kwas.
Stap 2: Skakeer die donkerder skakering van die middel van jou ooglid na die buitehoek van jou oog in. Gebruik redelike ruim kwashale.
Stap 3: Wend die donkerste skakering teenaan jou boonste wimperlyn aan. Wend dié skakering ook in die vou van jou ooglid aan en skakeer die kleur baie goed in.
Stap 4: Vir ekstra drama, wend ook die donkerste skakering net onder jou oog aan en skakeer dit liggies na die buitenste hoek in.
Stap 5: Tik 'n bietjie van die ligste skakering in die binnehoek van jou oog aan om dit groter te laat lyk. Nou het jy net 'n paar lae maskara nodig om die voorkoms perfek af te rond.













