Die lewe was vir 'n paar jaar baie stormagtig vir Sondag se deelnemer aan Glam Guru.
Melaney Janse van Vuuren se man is aan kanker oorlede en hy het haar met miljoene rande se skuld gelaat. Sy was skielik 'n enkelma sonder 'n inkomste of enige luukshede.
Sy het uiteindelik werk gekry, maar die omstandighede was nie ideaal nie.
Janse van Vuuren se lewe is nou meer stabiel. Sy het 'n nuwe werk en 'n standvastige verhouding.
Sy het uiteindelik vrede in haar hart en sy sien uit na die toekoms en daarom is sy ook gereed vir 'n nuwe voorkoms. Hiermee het Glam Guru haar gehelp.

"Die lekkerste manier om jou mooi toekoms in te draf is met 'n haarstyl wat jou haartipe, gesigvorm en nuwe lewenstyl die beste pas," het Hannon Bothma, aanbieder van Glam Guru, gesê terwyl hy vir 'n nuwe kapsel vir Janse van Vuuren gesorg het.
Hy het ook opgemerk dat Janse van Vuuren 'n velprobleem en donker kringe om haar oë het. "Albei is maklik om te behandel met 'n ensiemafskilferaar twee maal per week," is sy raad.
Janse van Vuuren se klerekas was, volgens Glam Guru se modestilis, Lizel van der Westhuizen, net so donker soos haar verlede.
Van der Westhuizen het daarom gesorg vir 'n "kleurinspuiting". Van der Westhuizen stel kleure soos pienk, geel, blou en pers voor om Janse van Vuuren se voorkoms nog meer op te helder.
- Glam Guru word Sondae om 17:30 op kykNET uitgesaai.
Wen met Beeld en Glam Guru
Jy kan 'n geskenkpak met Hannon-produkte ter waarde van R2 500 wen in Beeld se Glam Guru-kompetisie.
Soek die advertensie in die koerant met 'n vraag oor gister se episode van Glam Guru.
SMS dan HANNON, die antwoord op die vraag, jou naam, van, woongebied en e-posadres na
35986. 'n SMS kos R1,50. Die SMS-lyn sluit Woensdag om 12:00.
Daar sal elke week tot en met 22 Junie 'n wenner gekies word.
Verlede week se wenner was Hester Rijnen van Pretoria-Oos.
















