Die bekende TV-aanbieder en aktrise Therese Benade het Saterdag met die Kaapse argitek Christian Bam getrou.
Die seremonie, op die wynplaas Saronsberg naby Tulbagh, was onder 'n oorgroei- prieel met 'n uitsig oor wingerde en blou-blou berge. Die plek is elegant sonder om opgesmuk te wees, sê sy.
Therese het aan die arm van haar broer, Eugene, haar bruidegom tegemoet gestap. Sy het 'n noupassende, ivoorkleurige trourok gedra en haar sluier was lank, "net vir die prentjie want dis vreeslik romanties".
Onder die 102 gaste, almal familie en goeie vriende, was die aktrise Christel van den Bergh. Ná die seremonie het hulle onder die majestueuse eikebome gedans. Vir Therese was die belangrikste dat almal lekker moet kuier "want familie en vriende is van die belangrikste dinge in die lewe".
"Ek't glad nie gefaff oor die tafels en allerhande tierlantyntjies nie. Ek wou nie vasgevang raak in detail nie, want dan fokus jy nie op die oomblik nie. Net gesê van watter kleure ek hou en die gevoel wat ek soek - en dit toe in die hande van die venue se span oorgelaat."

Oor waar die wittebrood gaan wees, is sy in die duister. Sy weet wel hulle het aansoek gedoen om drie visums. En dat hulle 'n nag in Londen gaan wees waar sy 'n vriendin gaan ontmoet wat sy lanklaas gesien het. "Maar ek weet sonder twyfel ons gaan besig wees. Christian kan glad nie stilsit nie."
Twee jaar ná hy haar voete onder haar uitgeslaan het, dryf sy steeds op 'n pienk wolkie rond. "Sjoe, ek't nog nooit iemand soos hy ontmoet nie. Plat op die aarde, so gemaklik met homself. Hy behandel my soos 'n prinses."
"Therese is 'n wondervrou wat, behalwe hope talent, ook 'n mooi hart het en omgee vir mense," sê Herman Lensing, SARIE se kosredakteur, wat ook op die troue was. "Sy verdien elke stukkie geluk en Christian is die laaste juweel in haar kroon van sukses."
* Die troue met foto's verskyn eksklusief in SARIE se Januarie 2018-uitgawe, wat voor Kersfees op die rakke sal wees. Hou ook SARIE.com dop.













