Styl

Verruklike verkwisting

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Hoe regverdig 'n mens dit om luukse, peperduur skoonheidsprodukte in die moeilike ekonomiese tye te koop?

Eerstens, jy kan nie. Dis onnodig, oordadig en dalk so 'n rapsie amoreel - amper soos om jou kinders se skoolfonds op 'n Chanel-handsak en Jimmy Choo-spykerhakke te blaas. In vandag se tye moet ons dupes Google en rondkrap in Clicks se winskopiemandjie.

Maar ek kan myself nie beteuel nie - soos 'n ware Menloparkse Marie Antoinette gee ek myself oor aan premiumprys-produkte se sintuiglike lekkerte, met môre se bekommernisse ver in die stowwerige gedeeltes van my agterkop.

Sou jy dalk, nes ek, voor die versoeking swig, wees solank gereed met 'n wit leuentjie en 'n geheime wegsteekplekkie. Maak elke sent van jou spandabelrigheid die moeite werd.

Voor vroomheid en 'n gesonde verstand jou keer om verder te lees, bied ek darem die troos: Die produkte werk regtig en die pryse is nie so belaglik dat jy klein Denique se Laeveldse hokkietoer-fonds op 'n enkele buisie gaan verkwis nie. Sou jy regtig jou gewete wil sus - geen van die produkte is op diere getoets nie en almal, met die uitsondering van Laura Mercier, is geskik vir veganiste.

  • Mulder, 'n vryskut-skoonheids­redakteur en grimeerkunstenaar van Sandton, het self die onderskeie produkte aangekoop en ontvang geen kommissie of voordele van die genoemde skoonheidshuise nie.

Laat die wenkbroue lig

Huda Beauty Bombbrows Micro­shade Brow Pencil in Medium Brown (R425), beskikbaar by ARC. Besoek arcstore.co.za vir jou naaste tak.

Onnatuurlike, getatoeëerde wenkbroue en permanente grimering is een van die meer betreurenswaardige skoonheidstendense.

Huda Beauty Bombbrows Micro­shade Brow Pencil in Medium Brown
Huda Beauty Bombbrows Micro­shade Brow Pencil in Medium Brown

Soveel van my kliënte bel my histeries vir raad nadat dit lyk asof 'n kleuter met 'n stomp vetkryt op hul oogbanke gekrabbel het.

As jy 'n brouspul wil verdoesel of nugtere denke werklik in die geval seëvier, is 'n gehalteproduk jou beste vriendin.

Ontmoet vir Instagram-beroemde skoonheidsentrepreneur Huda Kattan en haar Huda Beauty Bombbrows Microshade-wenkbroupotlood.

Die reeks wenkbroupotlode se punte is 'n verbysterende ragfyn 0,9 mm, en sorg waarlik vir 'n trompe l'oeil-effek ('n ghrênd kunsterm vir oëverblindery) wat die illusie van welige wenkbroue skep. Ek het deur my loopbaan tientalle wenkbrouprodukte beproef - Huda s'n sal perdalks vir Lord Voldemort in 'n jong Brooke Shields kan omtower.

Glinster vir die gemoed

Fenty Beauty Diamond Bomb All-Over Diamond Veil in How Many Carats?! (R975). Beskikbaar by ARC en Edgars-winkels.

Hoera! Die Kardashian-geïnspireerde kontoervoorkoms is besig om 'n stille dood te sterf. Daar is egter altyd plek in ons smuktassie vir ietsie blink.

Fenty Beauty Diamond Bomb All-Over Diamond Veil in How Many Carats?!
Fenty Beauty Diamond Bomb All-Over Diamond Veil in How Many Carats?!

As jy nie natuurlik geseënd is met 'n uitsonderlike beenstruktuur soos Michelle Pfeiffer nie, kan jy steeds die illusie van wangbene skep. 'n Kwasveeg glinsterpoeier aan weerskante skuins onder jou oë, en siedaar! Rihanna se Fenty-glimpoeier is my gunsteling hiervoor.

Die kosmetiese chemikus wat die produk se formule opgedroom het, verdien myn insiens 'n Nobelprys vir chemie. Dit skep 'n subtiele, glinster-effek sonder daardie grinterigheid wat jou laat lyk asof jy op pad is na 'n Barbie-temapartytjie. Dis ook veelsydig!

Gebruik dit bo-oor mat oogskadu of gee 'n bietjie ekstra sprankel aan jou sleutelbene - dis immers goedkoper as 'n diamanthalssnoer.

Versekeringspolis vir jou grimering

Laura Mercier Translucent Loose Setting Powder (R1 450), beskikbaar by Skins Cosmetics-boetieks. Besoek skins.co.za.

Julia Roberts, Madonna en Jennifer Lopez tel onder die Franse grimeerkunstenaar se aanhangers en top- Hollywood-grimeerkunstenaars beskou die poeier, met goeie rede, as 'n smuktas-staatmaker.

Laura Mercier Translucent Loose Setting Powder
Laura Mercier Translucent Loose Setting Powder

Dis fluweelsag en superfyn gemaal wat 'n natuurlike, foutlose afwerking aan jou grimering gee. Dit gaan koek ook nie in jou plooitjies en porieë nie, 'n lastige newe-effek van die meeste gesigpoeiers.

Draai 'n fluweelpoeier­sponsie rondom jou wysvinger, rol dit in die poeier en rol die sponsie oor jou gesig om te verseker jou grimering bly tot twaalf ure vars en foutloos.

Boonop sal die poeier jou nie soos 'n spook laat lyk as iemand jou met 'n kameraflits kiek nie.

'n Heerlike veeldoelige mooimaakdoepa

Nuxe Huile Prodigieuse (R495 vir 50 ml), beskikbaar by Foschini, Woolworths, Truworths en Superbalist.

Soos die olie in die weduwee se kruik hou Nuxe Huile Prodigieuse net aan om te gee, en te gee, en te gee . . . Die meeste skoonheidsredakteurs wat ek ken, het 'n bottel van die wonderolie op hul badkamertoonbank of in hul handsak.

Nuxe Huile Prodigieuse
Nuxe Huile Prodigieuse

'n Simfonie van sewe suiwer botaniese olies streel droë velle, tem statiese hare en vertroos jou sintuie met 'n subtiele geur, sonder om jou vel taai en jou hare olierig te laat voel.

Koop 'n bottel vir jou en een vir jou moeilike skoonma - jy sal blitsvinnig die gunsteling- skoondogter wees.

Ryno Mulder

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM