Styl

Wow! So dít is wat die Marsmanne aantrek

Die twee oumas, Lena van der Wat (links) en Joanne van Wyk.
Die twee oumas, Lena van der Wat (links) en Joanne van Wyk.

Twee plaaslike oumas brei en hekel uiters gesogte internasionale prys los, skryf Jana Smit.

Wie sou nou kon dink dat twee doodgewone ou­mas van Noordwes, Jo­anne van Wyk (81) en Lena van der Wat (86), wat albei kan toor met wol en breipenne, se werk op internasionale vlak raakgesien én bekroon sou word!

Joanne en Lena het vir 'n inskrywing van 'n Marsmannetjie-kostuum uit wol vir 'n wêreldbekende skou meer as 400 blokkies en meer as 500 blommetjies gebrei - en is onlangs as die gehoor se skougunsteling vir 2023 aangewys!

Erna sê die skou is vanjaar die 33ste keer tussen 20 September en 8 Oktober aangebied, en is een van die grootste en indrukwekkendste tot nog toe, waarvoor 120 ontwerpers van 23 lande gekies is om hul ontwerpe op die verhoog te vertoon.

Hierdie prestasie volg nadat hul inskrywing getiteld Blooming Proof! onlangs by dieselfde skou - die World of Wearable Art Show (Wow)in Nieu-Seeland - ook as afdelingswenner aangewys is.

Die Marsman was een van die inskrywings wat Joanne se dogter, Erna van der Wat, vanjaar vir die skou ingeskryf het.

Erna en haar man, Karl, woon al 26 jaar in Auckland, Nieu-Seeland, en skryf sedert 2006 vir dié skou in.

Hulle het die afgelope 17 jaar 13 inskrywings vir Wow ingeskryf, waarvan 11 as finaliste gekies is.

Daarmee het hulle drie naaswenner-toekennings gekry, een afdelingswenner, 'n ander was die wenner van die Wow Factor-toekenning, asook die Dominion Post People's Choice-toekenning.

Erna sê die skou is vanjaar die 33ste keer tussen 20 September en 8 Oktober aangebied, en is een van die grootste en indrukwekkendste tot nog toe, waarvoor 120 ontwerpers van 23 lande gekies is om hul ontwerpe op die verhoog te vertoon.

Vanjaar se tema was Journey Into a Futuristic World: Beyond.

Toe die tema bekend gemaak is, hetErna 'n tas met allerhande snuisterye en stukkies lap deurgegaan vir inspirasie. Sy het afgekom op die sak gebreide blommetjies wat sy vyf jaar gelede ná 'n besoek aan haar ma van Suid-Afrika af saamgeneem het Nieu-Seeland toe.

Die Marsmannetjie waarvoor twee oumas van Noordwes ure lank gebrei het.
Die Marsmannetjie waarvoor twee oumas van Noordwes ure lank gebrei het.

Blommetjies word iets skouspelagtig

Destyds het Erna haar ma belowe sy sou eendag iets van die blommetjies maak. En toe kry sy die inspirasie waarvoor sy gehoop het - 'n gebreide Marsman-kostuum!

Erna wou graag die twee oumas by 'n inskrywing betrek, en toe sy besef hulle sit heeldag en brei, het sy hulle in die werk gesteek.

Die blommetjies het uiteindelik die Marsman-kop geword, maar haar ma en haar skoonma, Lena, sou nóg moes help - haar ma aan honderde blommetjies en haar skoonma aan honderde vierkante.

Die kunswerk se naam, Blooming Proof!, is tong-in-die-kies en verwys na yarn bombing, 'n soort graffiti of straatkuns uit gebreide of gehekelde materiaal eerder as verf of kryt.

Joanne sê die blommetjies en blokke was maande en maande se werk.

Sy het nooit getel nie, maar sy skat meer as 2 000 blommetjies is gebruik vir die Marsman.

Die Marsman-kostuum is in Wellington, Nieu-Seeland, deur Erna en haar span aanmekaargesit. 'n Professionele danser het dit by die vertonings gedra.

Joanne sê die danser kon deur die wol sien en asemhaal.

Joanne van Wyk en Lena van der Wat aan die werk.
Joanne van Wyk en Lena van der Wat aan die werk.

Ouma Joanne brei al jare

Joanne brei al baie jare. "Ek het begin so met die kinders grootmaak, ons het nie die voorreg gehad om net te gaan koop nie. Ek was al die jare baie lief vir naaldwerk."

Haar blommetjie-bydrae tot die wen­inskrywing beskryf sy as 'n liefdestaak.

"Ek was al die jare lief vir naaldwerk, maar met die rumatiek kan ek dit glad nie meer doen nie. Toe ek destyds afgetree het, het ek begin brei en hekel. Ek het later 'n bietjie daarvan verkoop en sowat 15 jaar gelede, toe die naaldwerk te swaar word, het ek meer blommetjies begin brei."

Sy sê sy en Lena het gedurende die projek nie geweet wat presies om te verwag nie, maar sê die Marsman het amper vir hulle soos 'n "soort troeteldiertjie" geraak. Joanne sê gewoonlik gebruik sy die blommetjies om goed soos kombersies op te dollie.

"Ek weet nie eens meer hoeveel ek al daarvan gebrei het nie. Elke kleinding het al 'n kombersie met 'n blommetjie op gekry," sê sy. Sy sê sy kan 'n hele klomp blommetjies per dag brei as sy nie onderbreek word nie. "Ek kan 'n plein blommetjie omtrent binne minute brei. Party is basies net ringetjies. Die blommetjies lyk soos 'n kosmos met gekartelde blaartjies."

Om gesiggie-blomme te brei, neem langer. Dié blomme brei sy in herfskleure.

Sy twyfel of haar kreatiewe dogter weer so 'n soort projek sal aanpak, "maar as sy haar ma nader roep en ek kapabel is, sal ek wéér help".

Ouma Lena doen die hekelwerk

Lena was verantwoordelik vir die hekel van die vierkante waarmee die mannetjie aanmekaargesit is. Sy sê eerste het sy 'n patroon van 10 cm x 10 cm uitgewerk. Toe het die groot gehekel van die honderde blokkies gevolg. Toe sy klaar is, het sy haar blokkies per koerier na Erna gepos.

Sy sê toe hul inskrywing as wenner aangekondig word, kon sy dit nie glo nie.

Toe Rapport haar bel oor hulle die algehele skouprys gewen het, was haar eerste woorde: "Ons het alwéér 'n toekenning gewen!"

Lena onthou toe sy destyds die honderde blokkies na Erna wou pos, het 'n sikloon getref en moes sy dit per koerier laat aflewer.

Tans brei sy vir haar kleindogter in gr. 2 (haar dogter wat in Suid-Afrika woon, se kind) se nuwe troetelkat speelgoed soos muise, visse en hasies in al die kleure. "Ek brei muise met lang stertjies, visse en hasies. Die kat speel te lekker."

Sy het ook vir die kat 'n huisie gehekel. "My skoonseun het draad ingesit. Die kat is dolgelukkig met sy huisie."

Erna sê die skouspel is uniek aan Nieu-Seeland, maar internasionaal bekend as 'n wêreldklas-ekstravaganza.

"Dis 'n geleentheid vir ontwerpers om op die wêreldverhoog erken te word."

En sy sou vanjaar se oorwinning nie sonder haar ma en skoonma hier in Suid-Afrika se knap werk kon doen nie!

Jana Smit

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM