Breek jou roetine en stort met jou oë toe: Oefen só jou brein om dit vars en fiks te hou

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Gebruik jou niedominante hand

Om dinge andersom te doen as waaraan jy gewoond is, kan voordelig wees, aangesien nuwe ervarings meer verbindings tussen ver­skillende dele van die brein stimuleer. Dit verbeter jou geheue en maak omliggende selle meer bestand teen die uitwerking van veroudering, volgens die Amerikaanse neurobioloog Lawrence C. Katz.

Volgende keer as jy tande borsel, doen dit met jou "verkeerde" hand. Probeer dit ook ­wanneer jy jou hemp toeknoop, brood smeer of blomme rangskik.

Draai dinge op hul kop

Nog 'n breinoefening om te doen is om gewone goed onderstebo te draai. As jy na iets soos 'n prent teen die muur kyk, is die linkerbrein daaraan gewoond om dit te herken, waar te neem en dan dwaal jou aandag af. Wanneer iets on­derstebo is, word die reg­ter­­kant van jou brein geprikkel.

Dit besef iets is anders en probeer dit identifiseer volgens vorm, grootte en kleur. Ruil ook die items in jou kombuiskas om. Jou brein raak gewoond aan waar jy goed sit en begin outomaties optree wanneer jy iets uithaal. As jy dit herrangskik, sal jy volgende keer moet dink voor jy jou volgende koppie koffie maak - en dis goeie breinoefening.

Stort met toe oë

Maak jou oë toe en gebruik jou tassin om uit te werk waar die krane is en watter bottel die sjampoe en opknapper is. Dit sal jou brein leer om situasies te hanteer waar jou sig belemmer is.

Breek jou roetine

Wanneer ons elke dag dieselfde ding op dieselfde manier doen, raak ons brein lui. Maar as jy dinge effens anders doen, word jou brein weer wakker.

Breek jou roetine en begin jou oggende met meditasie, of gaan stap met die hond of lees terwyl jy 'n koppie tee maak. Klein veranderinge kan 'n groot verskil maak.

Kyk rond in die supermark

Volgende keer as jy kruideniersware koop, tel 'n item op wat jy nie noodwendig gaan koop nie en lees die etiket. As daar 'n bestanddeel is waarvan jy nog nie gehoor het nie, gaan soek dit op. So gee jy jou brein 'n nuwe ervaring en oefening.

Maak oop jou motorvensters

Die hippokampus, die deel van jou brein wat herinneringe verwerk, is verantwoordelik vir die herken van reuke, klanke en gesigte om breinkaarte te bou.

Jy kan dit bevorder deur nuwe reuke en klanke te identifiseer volgende keer as jy uit die huis gaan. Een manier is om jou vensters oop te maak as jy weer in die kar ry.

Dink in prentjies soos toe jy klein was

Prente is 'n kragtige hulpmiddel om gesigte, name, gebeurtenisse of ervarings mee te onthou. Dit aktiveer meer dele van ons brein as woorde en is 'n goeie manier om jou geheue te verbeter.

"Ons word as kinders grootgemaak om in prente te dink, maar namate ons ouer word, verloor ons daardie vermoë," sê Ian Robinson, 'n sielkundeprofessor van Dublin. As jy weer 'n roete iewers heen beplan, visualiseer elke baken langs die pad, of sien die items op jou inkopielys in jou geestesoog.

Roxanne Mooneys (Saamgestel)

SPELETJIES VANDAG

CTA