Welstand

Bloedkanker: Só kan ’n vreemdeling jou help

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: ISTOCK
Foto: ISTOCK

Bloedkanker eis elke jaar meer as 4 000 lewens in Suid-Afrika. Dit is desondanks 'n bloedstamseloorplanting van 'n bypassende skenker wat potensiële genesing kan bied.

Hoewel baie mense verwag dat 'n familielid 'n perfekte skenker sal wees, is dit vir slegs 30% van pasiënte 'n oplossing. Die oorblywende 70% maak staat op die onbaatsugtigheid van vreemdelinge om hulle 'n tweede kans te gee.

Ná afloop van Nasionale Kankeroorwinnaarsdag op 2 Junie vanjaar sê Palesa Mokomele, die hoof van gemeenskapsbetrokkenheid en kommunikasie by DKMS Africa, 'n nieregeringsorganisasie (NRO) wat fokus op die stryd teen bloedkanker en bloedsiektes, dat skenkers by pasiënte geplaas word op grond van hul mensleukosietantigeen (HLA)-merkers.

"Dit is spesiale merkers op selle wat deur die immuunstelsel gebruik word om te herken watter selle in die liggaam hoort en watter nie. As daar dus nie 'n pasmaat is nie, sal die pasiënt se liggaam die stamselle wat deur die skenker verskaf word, verwerp. Maar as daar gewenste ooreenstemming is, sal die pasiënt se immuunstelsel waarskynlik die selle as sy eie aanvaar," sê Mokomele.

"Anders as bloedgroepe waar daar net vier moontlike opsies is, is sommige steeds versoenbaar, selfs al stem hulle nie presies ooreen nie. Daar is meer as 20 000 bekende HLA-merkers wat in miljoene kombinasies kan voorkom.

"Die kans om 'n gepaste skenker te vind is dus uiters skaars - een uit 100 000, om presies te wees," sê sy.

" 'n Skenker word slegs as pasmaat beskou as hy en die pa­siënt minstens agt uit 10 weefselkenmerke gemeen het, maar die ideaal is 10 weefselkenmerke."

As dit kom by die opsporing van 'n gepaste skenker binne 'n pasiënt se familie, beklemtoon Mokomele dat pasiënte die helfte van hul HLA-merkers van elke ouer moet erf, wat net 'n 50%- pas­­sing met elke ouer tot gevolg het. "Die kans is selfs laer met broers en susters (25%), aangesien hulle dalk geen of slegs sommige van die pasiënt se HLA-merkers deel."

Mokomele verduidelik dat as 'n broer of 'n familielid nie 'n moontlike skenker is nie, word die soektog wyer uitgebrei na die plaaslike stamselregister waar 'n vreemdeling die sleutel tot die pasiënt se toekoms kan hou.

"Hoe meer geregistreerde skenkers, hoe beter is die kans vir 'n geskikte pasmaat. Daar is boonop 'n kritieke behoefte aan meer diverse skenkers, aangesien die grootste kans vir 'n gepaste skenker uit 'n pasiënt se eie etniese groep kom," sê sy.

"Tans het swart, bruin, Indiër- en Asiatiese pasiënte 'n aansienlik laer kans om 'n skenker te vind, aangesien die plaaslike en globale registers hoofsaaklik uit wit skenkers bestaan."

Mokomele doen 'n beroep dat gesonde individue tussen die ouderdom van 17 en 55 jaar as stamselskenkers registreer. "Dis 'n eenvoudige proses met minimale ongemak. Moet asseblief nie wag nie, want 'n pasiënt wat met bloedkanker sukkel, wag dalk net vir jou skenking."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM