Prins William van Brittanje sê 2024 was die moeilikste jaar van sy lewe.
William het dié opmerking gemaak op die program The Reluctant Traveler waarvan ’n voorskou vertoon is, berig AP.
“Ek sou sê 2024 was die moeilikste jaar wat ek nóg gehad het.”
William sê ook die lewe toets ons en om dit te oorkom is wat ons maak wie ons is.
Die voorskou van die episode, wat op 3 Oktober op Apple TV+ uitgesaai sal word, wys William wat Eugene Levy, die gasheer, die Windsor-kasteel wys en die twee gesels dan terwyl hulle bier in ’n kroeg drink, berig CNN.
Levy vra William ook wat hy doen wanneer hy by die huis is, berig die BBC.
“Slaap. As jy drie klein kinders het, is slaap ’n belangrike deel van die lewe.”
William se vrou, Catherine, prinses van Wallis, het verlede jaar kankerbehandeling ontvang. Sy het verlede September aangekondig dat sy chemoterapie voltooi het. Sy het nie bekend gemaak watter soort kanker sy het nie.

Catherine het op 16 Januarie 2024 ’n buikoperasie ondergaan.
Sy het byna twee weke in die London Clinic deurgebring ná die operasie en was tuis aan die herstel toe sy uitgevind het dat sy kanker het en chemoterapie moet ondergaan.
Catherine het in Julie gesê sy het ’n dapper gesig voorgehou in haar kankerstryd.
“Jy hou ’n soort dapper gesig, ’n gelatenheid voor en probeer sterk bly gedurende die behandeling. Sodra die behandeling afgehandel is, reken ’n mens jy kan bloot met jou lewe aangaan, maar in werklikheid is die fase daarna werklik... moeilik.”
Die Buckingham-paleis het op 5 Februarie verlede jaar bekend gemaak William se pa, koning Charles, het kanker, maar dit duidelik gestel dat die diagnose nie verband hou met sy hospitalisering weens ’n nie-kwaadaardige vergrote prostaat nie.

Charles se kankerdiagnose, gevolg deur dié van Catherine, het die senior koninklikes verlede jaar swaar getref.
Binne ’n maand was twee van die mees senior lede van die koninklike gesin buite aksie en koningin Camilla en prinses Anne moes die koninklike skip stuur.
Charles was einde Maart steeds gehospitaliseer weens newe-effekte wat hy weens sy behandeling ervaar het.
Tog bly die koning blymoedig en hoopvol. Hy het in Mei, gedurende ’n openbare verskyning, vir ’n medekankerlyer wat hom gevra het hoe dit met sy behandeling gaan, sy duime na bo gedraai. “Ek hou daarvan om te dink dat ek nou aan die beter kant van my kanker-reis is,” het die koning gesê.























