Bly uit die ‘stil moordenaar’ se kloue

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Osteoporose word meestal eers bespeur as dit reeds skade aangerig het, maar dit kan voorkom word, skryf Ting Zhang en Jianying Zhang.

Gereelde oefening kan jou risiko vir osteoporose verminder. Foto's: Pixabay
Gereelde oefening kan jou risiko vir osteoporose verminder. Foto's: Pixabay

Omdat daar gewoonlik geen simptome is voordat die eerste fraktuur voorkom nie, word osteoporose as 'n stil siekte beskou. Party mense noem dit 'n stil moordenaar.

Osteoporose is 'n beensiekte wat gekenmerk word deur laer beendigtheid en -sterkte, wat lei tot breekbare, bros bene wat die risiko van breuke verhoog, veral in die ruggraat, heupe en polse.

Die Nasionale Osteoporosestigting in die VSA raam meer as 10 miljoen Amerikaners het osteoporose. Nog 43 miljoen het 'n lae beenmassa, wat die voorloper van osteoporose is. Teen 2030 sal die getal volwassenes met osteoporose of lae beenmassa na raming met meer as 30% tot 71 miljoen toeneem.

Die redes vir die toename sluit leefstylkwessies in, veral rook, gebrek aan fisieke aktiwiteit en alkoholmisbruik. Die feit dat die bevolking verouder, tesame met die onvoldoende aandag wat aan dié siekte geskenk word, dra ook tot die toename by.

As jy ouer is, kan dit jou dalk mismoedig maak om dié statistieke te lees. Maar as ortopediese spesialiste wat dié siekte bestudeer het, weet ons osteoporose is nie onafwendbaar nie. Om vir die res van jou lewe gesonde bene te hê moet jy sekere eenvoudige voorkomende maatreëls tref - hoe vroeër hoe beter.

Al is die simptome nie vroeg reeds ooglopend nie, is daar sekere tekens wat aandui jou bene word swakker. Die ernstigste komplikasies van osteoporose is breuke, wat tot chroniese pyn, hospitalisering, gestremdheid, depressie, verminderde lewensgehalte en verhoogde sterfte kan lei. Wêreldwyd veroorsaak osteoporose jaarliks byna nege miljoen frakture. Dis een elke drie sekondes.

'n Illustrasie van osteoporose van die ruggraat. Let op die sponsagtige weefsel wat gedeeltelik tot niet gegaan het. Illustrasie: BSIP/Universal Images Group via Getty Images
'n Illustrasie van osteoporose van die ruggraat. Let op die sponsagtige weefsel wat gedeeltelik tot niet gegaan het. Illustrasie: BSIP/Universal Images Group via Getty Images

Lengteverlies, rugpyn

Geringe stampe of valslae kan tot frakture lei, veral in die heup, pols of ruggraat. Dié soorte breuke is dikwels die eerste teken van die siekte.

As jy agterkom jy word korter, kan die oorsaak daarvan samepersingsbreuke in die ruggraat wees; dis ook 'n algemene simptoom van osteoporose.

Al verloor die meeste mense van hul lengte namate hulle ouer word - sowat 2,5 tot 3,8 cm oor 'n leeftyd - kan dié met osteoporose wat veelvuldige ruggraatfrakture het tot 5 tot 7,5 cm of meer in 'n betreklik kort tyd verloor.

'n Geboë postuur, of opmerklike veranderinge in postuur, kan tot 'n geboggelde rug lei, wat 'n teken kan wees dat jou ruggraat verswak en digtheid verloor.

Volgehoue rugpyn is nog 'n aanduiding - dit is ook die gevolg van klein frakture of samepersing van die ruggraat.

'n Mens moenie te lank in die son bly nie, maar jy het direkte sonlig op jou vel nodig sodat jou liggaam vitamien D kan vervaardig.
'n Mens moenie te lank in die son bly nie, maar jy het direkte sonlig op jou vel nodig sodat jou liggaam vitamien D kan vervaardig.

Kalsium en vitamien D

Osteoporose kan nie heeltemal genees word nie, maar sekere leefstyl- en dieetfaktore kan jou risiko daarvoor verlaag.

Kalsium en vitamien D is noodsaaklik vir beengesondheid. Kalsium help om bene sterk te hou, terwyl vitamien D help om kalsium te absorbeer. Vroue ouer as 50 en mans bo 70 behoort daagliks minstens 1 200 mg kalsium uit kos en, indien nodig, aanvullings op te neem.

Die maklike manier om kalsium in te kry is deur suiwelprodukte. Melk, jogurt en kaas is onder die beste bronne daarvan. 'n Koppie melk bevat sowat 300 mg kalsium, 'n kwart van wat 'n mens per dag nodig het. Vir veganiste is daar kalsium in baie plantgebaseerde kos, waaronder soja, bone, ertjies, lensies, lemoene, amandels en donker blaargroente.

Mense wat diereprodukte vermy, kan amandels as bron van kalsium eet.
Mense wat diereprodukte vermy, kan amandels as bron van kalsium eet.

Volwassenes moet probeer om daagliks twee tot drie porsies kalsiumryke kos te eet. Om dit regdeur die dag met maaltye in te neem help om die opname te verbeter.

Vitamien D word hoofsaaklik verkry uit aanvullings en sonlig, wat die maklikste manier is om die aanbevole dosis te haal. Jou liggaam sal genoeg vitamien D vervaardig as jy jou arms, bene en gesig twee tot drie keer per week tien tot 30 minute lank tussen 10:00 en 15:00 aan direkte sonlig blootstel. Dis die beste om kort moue en 'n kortbroek te dra, maar dra gerus 'n sonbril en smeer sonskermroom op jou gesig.

Sonlig deur 'n ruit sal nie dieselfde uitwerking hê nie - glas verminder die opname van die ultravioletstrale wat nodig is om vitamien D te vervaardig. Mense met donkerder vel, of dié wat in minder sonnige gebiede bly, kan meer sonlig nodig hê vir dieselfde uitwerking.

As 'n dokter osteoporose by jou gediagnoseer het, is dit moontlik dat die kalsium en vitamien D wat jy deur kos en sonblootstelling kry nie genoeg is nie; jy moet jou dokter vra of jy medikasie nodig het.

Suiwelprodukte soos kaas is 'n goeie bron van kalsium.
Suiwelprodukte soos kaas is 'n goeie bron van kalsium.

Dans, draf, maar drink minder

Gereelde oefening is 'n uitstekende aktiwiteit wat jou kan help om osteoporose af te weer. Gewigdraende oefeninge, soos om vinnig te loop, te draf en te dans, help baie om beendigtheid te verhoog. Kragoefeninge, soos om gewigte op te tel, help met stabiliteit en buigsaamheid, wat die risiko van val verlaag.

Mik daarna om minstens vier dae per week 30 minute lank gewigdraende oefeninge te doen, gekombineer met spierversterkende oefeninge minstens twee keer per week.

Veral vir vroue, wat tydens en ná menopouse beendigtheid verloor, is gereelde oefening van kritieke belang. Om voor menopouse te oefen sal die risiko van osteoporose in jou later jare verklein.

En vermy skadelike gewoontes - om te rook en baie alkohol te drink kan beendigtheid verswak en die risiko van breuke verhoog.

Strategieë om te keer dat jy val, asook balansoefening, is van kardinale belang en kan die risiko van frakture help verlaag.

Nasporing en behandeling

By vroue moet daar van 65-jarige ouderdom gereeld nagegaan word of hulle osteoporose het, aldus die Amerikaanse taakmag vir voorkomende dienste. Mans behoort dié proses te oorweeg as hulle risikofaktore het soos om te rook, 'n alkoholverwante siekte of sekere chroniese siektes soos diabetes het of bejaard is. Mans bo 70 het 'n hoër risiko daarvoor.

Mediese prosesse soos 'n beendigtheidskandering en X-strale van die ruggraat kan osteoporose help bevestig en samepersingsbreuke opspoor. Dié basiese toetse, gekombineer met ouderdom en mediese geskiedenis, is genoeg om 'n duidelike diagnose te maak.

Om osteoporose te bestuur is 'n langtermynproses waarvoor volgehoue toewyding tot leefstylveranderinge nodig is.

Om die vroeë waarskuwingstekens te herken en dié proaktiewe leefstylveranderinge te maak is die eerste stap om die siekte te voorkom en jou bene gesond te hou.

  • Dr. Ting Zhang en prof. Jianying Zhang is navorsers in onderskeidelik ortopedie en ortopediese chirurgie aan die Universiteit van Pittsburgh in die VSA. Dié artikel het op The Conversation verskyn.
Ting Zhang en Jianying Zhang

SPELETJIES VANDAG

CTA