Borskanker, die mees algemene kanker onder Suid-Afrikaanse vroue, word toenemend by vroue onder 40 jaar gediagnoseer.
Hierdie tendens weerspieël 'n wêreldwye patroon waar aggressiewer vorms van die siekte by jonger vroue gediagnoseer word, wat die behoefte aan vroeë opsporing en bewustheid onderstreep.
'n Onlangse studie in Amerika het bevind dat borskanker die grootste oorsaak van kankersterftes onder vroue van tussen 20 tot 49 jaar daar is.
Net so het 'n Suid-Afrikaanse studie getoon dat die gemiddelde ouderdom van borskankerdiagnoses 34 jaar was vir vroue jonger as 40.
Borskanker raak een uit 27 vroue in Suid-Afrika; dis 23% van alle kankers wat gediagnoseer word.
Die Borsbeeldingsvereniging van Suid-Afrika (Bissa), 'n sub-spesialiteitsgroep van die Radiologievereniging van Suid-Afrika (RSSA), waarsku dat jong vroue meer geneig is om borskanker met aggressiewe biologiese eienskappe te ontwikkel.
Hierdie kankers kom dikwels voor met groter gewasse en meer gevorderde stadiums van die siekte by diagnose, wat vroeë opsporing noodsaaklik maak vir die verbetering van uitkomste.
Dr. Peter Schoub, voorsitter van Bissa, beklemtoon die belangrikheid van vroeë opsporing deur gereelde selfondersoeke wat in 'n vrou se 20's begin, en jaarlikse mammogramme vanaf 40-jarige ouderdom.
"Bewusmaking en opvoeding oor borskanker by jong vroue kan lei tot vroeëre diagnoses en minder indringende behandelingsopsies.
"Die groeiende getal jonger vroue by wie borskanker gediagnoseer word beklemtoon die behoefte om bewusmakingsveldtogte uit te brei en om siftingsprogramme te verbeter, veral vir diegene met 'n hoër risiko," sê Schoub.
Een van die grootste struikelblokke in Suid-Afrika bly die laat diagnoses van borskanker wat behandelingsopsies ernstig beperk en oorlewingsyfers verlaag.
Laat diagnoses word dikwels toegeskryf aan 'n kombinasie van faktore, waaronder 'n gebrek aan bewustheid, sosio-ekonomiese ongelykhede en beperkte toegang tot gesondheidsorggeriewe.
"Hoewel die meeste groot mediese skemas komplimentêre mammogramme vir vroue ouer as 40 aanbied, maak net sowat 20% van vroue van hierdie voordeel gebruik," sê Schoub.
"Ons moet ook daarop bedag wees dat borskanker toenemend by vroue in hul 30's opgespoor word wat meer aggressiewe vorme van die siekte ervaar wat vinnig kan versprei as dit nie vroeg opgespoor word nie."
Schoub sê hoewel die risiko van borskanker toeneem met ouderdom, diskrimineer die siekte nie - vroue van alle ouderdomme, rasse en sosio-ekonomiese agtergronde kan getref word.
"Dit is hoekom roetine-selfondersoeke en kliniese borsondersoeke deur 'n gesondheidswerker minstens een keer per jaar noodsaaklik is.
"Enige abnormaliteit, ongeag ouderdom of familiegeskiedenis, moet onmiddellik deur 'n mediese beroep geëvalueer word," aldus Schoub.
Hy sê die doel van borskankersifting is om die siekte op te spoor voordat simptome opduik.
"Kankers wat deur roetinesifting gevind word, is dikwels kleiner en gelokaliseer, wat die kans op suksesvolle behandeling en oorlewing verhoog.
"Die grootte van die gewas en of die kanker versprei het, is sleutelfaktore om die prognose te bepaal."





















