Servikale kanker is die naasgrootste kanker onder vroue in Suid-Afrika.
Huidige skattings toon dat altesaam 10 702 nuwe gevalle aangemeld word en 5 870 vroue jaarliks weens die siekte sterf.
Vir enige vrou by wie servikale kanker gediagnoseer is, is die newe-effekte van chirurgie, bestraling en chemoterapie (wat haarverlies insluit) reeds 'n skrikwekkende vooruitsig - wat nog te sê om die kanker self te beveg.
Maar nuwe benaderings in geneeskunde kyk nou na die teiken van spesifieke kwesbaarhede in kankerselle en werk met die immuunstelsel as deel van 'n holistiese kankerbehandelingsplan.
Een so 'n deurbraak is in die veld van hipertermie, wat behels dat 'n gewas verhit word om dit sensitief te maak vir bestraling of chemoterapie.
Alhoewel hipertermie self al dekades lank bestaan, het die koste en kompleksiteit van die tegnologie wat nodig is om gewasse veilig te verhit die gebruik daarvan in lande soos Suid-Afrika belemmer.
'n Nuwe tegnologie genaamd gemoduleerde elektrohipertermie (mEHT) pas nou gemoduleerde radiofrekwensiegolwe toe om die gewas veilig en selektief te teiken, wat die behandeling bekostigbaarder en makliker maak om toe te pas.
Navorsingsresultate wat vanjaar deur 'n span van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) bekend gemaak is, wys mEHT het die potensiaal om 'n kragtige hulpmiddel in die behandeling van servikale kanker in Suid-Afrika te wees.
Hoekom hitte?
Die gebruik van hitte om siektes te behandel dateer uit die antieke Griekse beskawing. "Hiper" beteken toename, en "therme" beteken hitte.
Hippokrates (460-370 v.C.), die vader van moderne geneeskunde, het trouens 'n sterk geloof uitgespreek in die genesende krag van hitte.
Dokters het reeds in die 1900's begin om hitte toe te pas om kankergewasse te beheer, hoewel die tegnologie destyds nie voorsiening gemaak het vir die veilige gebruik van hitte om kanker te behandel nie.
Vandag het dokters 'n meer wetenskaplike begrip van die uitwerking van hitte op weefsels, sowel as die tegnologie vir meer presiese en beheerde metodes om hitte te lewer.
Hipertermie is reeds 'n goed gevestigde behandelingsopsie in baie lande, met 'n lys van toepassings wat groei namate meer proewe op verskillende tipes kankers gedoen word.
Dit word gewoonlik gebruik om groot, onopereerbare gewasse, of gewasse wat nie goed reageer op ander behandelings nie, te behandel.
Internasionale en plaaslike studies het getoon dat hipertermie die potensiaal het om behandelingsuitkomste te verbeter, terwyl dit ook behandelingskoste verlaag.
'Moontlike paradigmaskuif'
In 2006 is mEHT in die Europese mark bekend gestel en in 2014 het 'n span navorsers aan Wits hierdie tegnologie vir servikalekankerbehandeling begin toets.
Die navorsers het die byvoeging van mEHT tot standaardbehandelingsprotokolle vir plaaslik gevorderde servikale kanker ondersoek en die deelnemers ná behandeling vyf jaar lank gemonitor.
Hierdie 10-jaar-proef was om verskeie redes baanbrekerswerk.
Dit is die eerste fase III-proef oor die tegnologie, die eerste hipertermieproef wat in Afrika uitgevoer is en die eerste hipertermie-proef wat MIV-positiewe deelnemers insluit.
Die resultate wat onlangs bekend gemaak is, is bemoedigend.
Dit toon dat die toevoeging van mEHT by chemoterapie en bestraling pasiënte se lewensgehalte en kans om 'n siektevrye oorlewingstatus van vyf jaar te bereik, kostedoeltreffend kan verbeter. Deur mEHT as 'n ondersteuning vir chemoradioterapie vir plaaslik gevorderde servikskanker te gebruik, het die navorsing bewys dat dit 'n kostebesparende, suksesvolle manier is om pasiënte te behandel.
Dit is veral belangrik in die lig van die ongelykheid in toegang tot sifting en behandeling wat in Suid-Afrika bestaan.
Dr. Carrie Anne Minnaar, studieleier en 'n navorser van die Wits Donald Gordon Mediese Sentrum, sê die bevindinge van die navorsing strek verder as statistiese sukses. "Dit bied 'n potensiële paradigmaskuif in hoe ons servikale- kankerbehandeling kan benader."
Terwyl toegang tot hierdie tegnologie en opgeleide professionele persone in Suid-Afrika opgang maak, behoort die bekendmaking van die resultate die aanvaarding daarvan te versnel en ook proewe op ander gewastipes te bevorder.
Hoe werk gemoduleerde elektrohipertermie?
Die mEHT-tegnologie skep 'n elektromagnetiese veld om die gewas tot tussen 39 °C en 41 °C te verhit sonder om gesonde weefsel te beïnvloed. Dit maak die gewas meer vatbaar vir die skade wat deur bestraling aangerig word, en in sommige gevalle chemoterapie, en vertraag die kanker se vermoë om homself te herstel.
Die tegniek is ook in staat om 'n immuunrespons op die kanker te aktiveer. Hipertermie word dus saam met standaardbehandelings gebruik om die uitwerking van die kankerbehandeling te verhoog, sonder dat dit die newe-effekte vererger.
- As jy meer inligting oor hipertermie wil hê, besoek www.onc-hyperthermia.co.za. Om uit te vind of jy vir hipertermiebehandeling in aanmerking kom, gesels met jou onkoloog of kontak carrie@onc-hyperthermia.co.za.


















