Volgens navorsers kan akupunktuur, wat beteken fyn naalde word in sekere dele van die liggaam ingesteek, die duur en intensiteit van die simptome van maandstonde verminder.
'n Groep van 74 vroue, tussen 18 en 45 jaar oud, met bevestigde of vermoede maandstondepyn, is aangesê om 'n menstruasiedagboek te hou terwyl hulle individuele akupunktuur ondergaan het nadat hulle lukraak aan 'n behandelingsgroep toegewys is: lae en hoë frekwensies van akupunktuur met die hand aangewend of elektro-akupunktuur met dieselfde intensiteit.
Vroue het 12 sessies ondergaan gedurende drie menstruele siklusse, óf een afspraak per week by die laerfrekwensie-groepe óf drie keer gedurende die sewe dae voor hul maandstonde in die geval van die hoërfrekwensie-kategorie, terwyl al die vroue 'n sessie ondergaan het binne 48 uur nadat hul maandstonde begin het.
Meer as die helfte van die vroue het oor die drie maande wat die studie geduur het, aangedui die intensiteit van hul pyn het met 50% verminder, terwyl sommige tot selfs 12 maande later steeds beter gevoel het.
Die studieleier, dr. Mike Armour, van die National Institute of Complementary Medicine (NICM) in Australië, het opgemerk: "Pragmatiese proefnemings van akupunktuur het 'n verlaging in die intensiteit van pyn en 'n verbetering in lewensgehalte getoon by vroue wat menstruasiepyn ervaar. Bewyse van die manier waarop die verandering van die ‘dosis' van akupunktuur die resultaat kan raak, is egter beperk.
"Ons aanvanklike studie het bevind die gebruik van handstimulering van die naalde, eerder as 'n elektriese polsing, wat algemeen gebruik word in baie Chinese studies oor maandstondepyn, het gelei tot 'n verminderde behoefte aan pynstillende medisyne en 'n verbetering by sekondêre simptome, soos hoofpyne en mislikheid."
Dr. Armour doen tans navorsing oor verdere ondersoeke van die teorie en hoop om binnekort groter proefnemings te doen.
Die bevindings is in die tydskrif PLOS ONE gepubliseer.
© Cover Media













