Welstand

Dié podsendings beter as skape tel

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Kan jy jouself aan die slaap verveel? 'n Toenemende aantal "sleepcasts" mik om die gedagtes van gefrustreerde slaaploses te sus deur hulle so te verveel dat Klaas Vakie kom kuier.

Benjamin Boster was per motor iewers heen op pad saam met sy baas en wou 'n opwindende staaltjie vertel toe hy ontdek dat sy hooftalent as storieverteller elders lê.

"Hy stop my in die middel van my staaltjie en sê: ‘Ek is jammer, Ben, jou stem is so strelend dat ek aan die slaap wil raak," vertel Boster, 'n 42-jarige pa van drie.

As jy tevergeefs op Klaas Vakie wag, kan jy dalk 'n vervelige podsending oorweeg om droomland te betree. Foto: iStock
As jy tevergeefs op Klaas Vakie wag, kan jy dalk 'n vervelige podsending oorweeg om droomland te betree. Foto: iStock

Eerder as om sy baas se opmerking as 'n belediging te sien, het Boster, 'n verkoopsman vir 'n tegnologiemaatskappy in Salt Lake City, Utah, 'n bemarkingsgeleentheid bespeur.

In 2019 het hy dus die I Can't Sleep-podsending geskep. Hiérin gebruik hy sy baritonstem om Wikipedia-inskrywings oor boeiende onderwerpe soos "karton", "logistiek" en "Henry Wadsworth Longfellow" voor te lees.

"Ek verveel jou met my strelende stem totdat jy aan die slaap raak," verduidelik hy.

Saam met podsendings soos Boster s'n het tegnologiemaatskappye soos Headspace Inc., Peloton Interactive Inc. en Fitbit Inc. ook toegetree tot die slaaptyd-oudio-programruimte.

Hierdie podsendings is die pioniers van 'n "onattente ekonomie" wat elke maand miljoene laatnag-luisteraars bereik.

Beter gehalte slaap

Al laat die podsendings nog nie die dollars inrol nie, is dit steeds besig om die slaapsektor, wat eens oorheers was deur matrasvervaardigers en slaapmedikasie, te verander. Saam met fiksheid en voeding word die slaapsektor deesdae deur die internasionale konsultasiemaatskappy McKinsey & Co beskryf as 'n "$1,5 triljoendollar- globale welstandsmark".

"Die helfte van alle verbruikers wêreldwyd het 'n behoefte aangedui vir meer produkte en dienste wat hulle kan help om beter gehalte slaap te geniet," het McKinsey in 'n 2021-verslag bevind. Hulle het ook bevind dat die welstandsmark tot 10% per jaar groei.

Die ontploffing in slaapdienste kom juis op 'n tydstip wanneer miljoene mense sukkel om 'n balans te vind tussen die vereiste van al hoe groter produktiwiteit en die feit dat slaap 'n deurslaggewende komponent is van geestes- en fisieke gesondheid.

Selfs voor die pandemie het gesondheidskenners gewaarsku dat ons meer moet rus.

In 2016 het dieAmerikaanse sentrum vir siektebeheer en voorkoming (US Centers for Disease Control and Prevention) aangedui dat 'n derde van alle Amerikaanse volwassenes ly aan 'n gebrek aan slaap wat hul risiko vir hartsiekte, motorongelukke en foute by die werk verhoog.

Die Covid-19-era het slaapsake vir baie mense vererger. Stres- en angsvlakke was hemelhoog, wat dit selfs moeiliker gemaak het om aan die slaap te raak en te bly, het verskeie studies bevind.

Vergeet van jou bekommernisse

Ná dekades as die direkteur van die kinder- en jeugslaapkliniek by Flinders-Universiteit in Adelaide, Australië, het Michael Gradisar verlede jaar die hoof geword van slaapwetenskap by die Switserse sagtewaremaatskappy Sleep Cycle AB.

Hy het besef dat die mark vir slaapwelstand aan die groei is en wou seker maak dat die bedryf so naby as moontlik aan die nuutste wetenskap bly.

"Om net eenvoudig aan die slaap te raak is die mees algemene uitdaging waarmee baie mense sukkel," sê Gradisar.

"Die klassieke geval van die onrustige slaper is die persoon wat wakker lê en aan alles en niks dink. Ná 'n rukkie kyk hulle na die horlosie en begin hulle bekommerd raak dat hulle nie genoeg gaan slaap nie, wat alles net vererger.

"Die geheim is om te besef wat gebeur en wat om daaromtrent te doen. Jy kan nie jou brein soos 'n ligskakelaar afsit nie. Ek sê vir mense jy kan wel probeer om jou gedagtes te laat verdof. Een manier om dit te doen is om jou aandag van jou bekommernisse af te lei."

Soos baie ander apps in die mark bied Sleep Cycle s'n oudio-programme wat presies dit doen via begeleide meditasies en lang, dwalende stories wat voorgelees word deur glansmense soos die Sweedse akteur Alexander Skarsgård.

Verveel tot jy slaap

Sleep Cycle bied slaaptydfiksie, maar sommige mense verkies om by die feite te hou - verkieslik droë, vervelige feite. In Sharon Handy van Florida se weeklikse 45 minute-podsending "Boring Books for Bedtime" lees sy voor uit werke oor geskiedenis, wetenskap en filosofie terwyl dromerige musiek op die agtergrond speel. Handy ontwerp inhoud vir wetenskap- en kindermuseums, maar haar podsending hou haar al hoe besiger. Ongeveer 10 500 mense laai gewoonlik elke nuwe episode van haar podsending af en daar word elke maand 260 000 keer na haar werk geluister.

Toby Baier se benadering is soortgelyk in sy Duitse "Einschlafen Podcast" wat al 13 jaar lank luisteraars verveel met lang, omslagtige staaltjies oor alles van die Hamburg-sokkerspan tot Baier se herhaalde virale infeksies tot die 18de-eeuse filosoof Immanuel Kant.

Die Britse skrywer James Ward het al lank en diep nagedink oor die dun grens tussen vervelig en interessant. Dié grens is die hart van sy jaarlikse Boring Conference in Londen, wat mense aanhou bywoon ten spyte van Ward se waarskuwings dat dit 'n algehele mors van hul tyd en geld is.

Vorige sprekers op die konferensie sluit in 'n man genaamd Peter Fletcher, wat sedert 2007 al sy niese getel en gedokumenteer het.

In 2018 het Ward sy eie BBC Radio-podsending bekend gestel. "The Boring Talks" ondersoek onderwerpe soos potlode en lamppale en Ward beskryf dit as "baie interessant . . . miskien".

Ward se doel is nie om luisteraars aan die slaap te maak nie, al gee hy nie om as dit die gevolg is nie. Vir sy eie slaaptydbehoeftes luister Ward na vreemdtalige radioprogramme. Hy sê dit laat hom toe om die intonasie van die taal te geniet sonder dat sy aandag afgelei word deur die betekenis. Ward is nie verbaas dat vervelige podsendings al hoe gewilder word nie.

"Ons lewe in 'n wêreld wat ongelukkig nié vervelig is nie. Baie mense sal inderdaad 'n realiteit verkies wat 'n bietjie verveliger is, en om nie met vrees in hul hart na die nuus te kyk en te dink, "O hemel, wat nou" nie.

'n Kalmerende stem

Dit bring ons terug na Boster, die man wat sy baas aan die slaap verveel het. Hy het altyd geweet hy het 'n talent wanneer dit by sy stem kom. By die Brigham Young-Universiteit, waar Boster sy meestersgraad in stem-aanbieding gekry het, het hy dikwels eerder groot voetbalwedstryde op kampus vermy en koers gekies na operas of toneelstukke.

Hy het eers 'n verkoopsman geword toe hy besef hy wil nie die res van sy lewe 'n loopbaan op die verhoog najaag nie. Boster het egter nooit ten volle sy drome oor die vermaaklikheidsbedryf laat vaar nie. Nie lank ná die rit saam met sy verveelde baas nie, het Boster 'n na episode van Parks and Recreation gekyk wat hom geïnspireer het om sy eie radioprogram te begin.

"Ek het gedink, miskien kan ek dit probeer, ek verveel reeds mense aan die slaap, miskien kan ek dit net oor die radio doen."

In sy eerste episode in Februarie 2019 het Boster tien minute lank die Wikipedia-inskrywing vir "gilet" gelees ('n moulose baadjie).

Hy het vier luisteraars gehad, en was opgewonde. Die volgende jaar het hy lojale luisteraars bymekaar gemaak; ongeveer 15 000 mense het maandeliks nader geskuif. En toe tref die pandemie ons. Ewe skielik het Boster se luis­teraarsgetalle die hoogte ingeskiet.

"Ek onthou hoe mense vir my geskryf het en goed gesê het soos: ‘Ek bly alleen in Frankryk, en jou stem het my geselskap gehou toe niemand anders by my was nie.' "

Een van sy mees lojale luisteraars is Lilly, 'n sewejarige van Vermont, wat volgens haar ouma al drie jaar na Boster luister en só aan die slaap raak.

"Sy noem my ‘die man met die stem'," lag hy.

Tans maak Boster se radioprogram staat op donasies en inkomste van advertensies wat aan die begin van elke episode gespeel word sodat luisteraars nie wakker skrik nie. Mense kan ook $3 per maand betaal vir 'n advertensie-vrye ervaring. - Bloomberg

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM