"Ek staan kwaad op," vertel iemand in 'n sepie.
Dadelik vra sy vriend: "Beteken dit jy gaan slaap kwaad?"
Goeie vraag.
Daar's 'n baie goeie rede hoekom Paulus in Efesiërs 5 skryf die son moenie oor ons woede sak nie. Bedoelende, ons moenie ons woede en ons innerlike gevegte saam met ons bed toe vat nie. Dan verander dit deur die loop van die nag in nagmerries. En dan verander dit elke nuwe dag in dagmerries.
Hoe gemaak met ons daaglikse kwota frustrasies en probleme?
Wel, ons leer om dit in die oë te kyk en om dit aan die Heer se voete neer te sit. Ons verander ons aandgebede in gebede van lof en dank aan God.
In die taal van Psalm 3 en Psalm 4 briek ons elke aand al ons daaglikse sorge en stryde deur ons aandag bewustelik na God toe te verskuif. Ons kom innerlik tot bedaring.
Ons weier om kwaad te gaan slaap. Ons weier ook om kwaad te slaap. Dan gaan ons nog kwater wakker word. Dan gaan elke nuwe dag moeiliker wees as elke vorige een. Dit is eerlikwaar nie hoe ons moet slaap en wakker word nie.
Uit die Woord
Wanneer ek hardop roep na die Here,
antwoord Hy my van sy heilige berg af.
Ek kan gaan lê, aan die slaap raak en wakker word,
want die Here ondersteun my. - Psalm 3:5-6
In vrede kan ek gaan lê en aan die slaap raak,
want net U, Here, laat my veilig woon. - Psalm 4:9






















