Sielsdinge

Stephan Joubert: By God het ons g’n vervaldatum

Vervaldatum
Vervaldatum (Getty Images)

Vervaldatums is volop. Soms lees jy op produkte iets soos “best before”. Ander kere weer sien jy “use by”. Of sommer net “expiry date”. Sulke vervaldatums is belangrike datums op enigiets van kos tot medisyne. Die meeste produkte het ’n beperkte rakleeftyd. Dan is hul fut uit. Dan moet hulle nie meer gebruik word nie.

Op verskillende maniere word ’n rakleeftyd ook aan ons elkeen gekoppel. In Prediker 3 se taal is daar vir ons elkeen ’n tyd om te kom en ’n tyd om te gaan. Iewers moet ons uittree. Of aftree. Of ophou om mededingend aan die een of ander sportsoort deel te neem. Dan moet ons plek maak vir ander.

Beteken sulke “vervaldatums” dat ons ons nuttigheidswaarde meteens verloor het? Moet daar dan die een of ander plakker op ons aangebring word wat sê “useless”? Of is dit eerder “use-less”? Nee, nooit nie. As ons rakleeftyd by die werk of by ander plekke in die lewe verstryk het, beteken dit nie ons waarde is meteens ook verstreke nie. Dit is nie hoe die Here na ons kyk nie. Hy meet ons waarde nooit aan ons produktiwiteit, of die verlies daaraan, in die een of ander beroep nie.

Al verklein ons leefwêreld dalk drasties ná groot skuiwe in ons lewe, en al het ons dalk nie meer dieselfde invloed as vroeër nie, het ons waarde nooit in God se oë verminder nie. By Hom is daar altyd nog ’n porsie lewe beskikbaar ná elke aardse sell-by date wat verstryk het.

Uit die Woord

’n Mens, soos gras is sy lewensdae,

soos ’n veldblom, so bloei hy.

As die wind oor hom waai,

is hy nie meer daar nie

en sy plek ken hom nie meer nie.

Maar die troue liefde van die Here

is van altyd af en vir ewig

oor hulle wat vir Hom ontsag het,

en sy geregtigheid geld vir die kinders se kinders,

vir hulle wat sy verbond hou,

en vir hulle wat sy opdragte in gedagte hou, om dit uit te voer.

– Psalm 103:15-18