“Moes julle dit nie maar net gevat het toe julle ingeloop is nie?” Dit vra Paulus vir gelowiges in Korinte in 1 Korintiërs 6:7. Hy doen dit nadat hy gehoor het hoe sommige van hulle mekaar hof toe vat oor onderlinge rusies. Met name skryf Paulus hier in vers 6-7: “Moet een broer in die Here ’n regsaak teen ’n ander broer begin? En dan boonop nog voor nie-gelowiges wat dit moet uitsorteer? Julle het die saak verloor nog voordat julle hiermee begin het. Die blote feit dat julle regsake teen mekaar het, verander julle outomaties in die verloorders” (NNT).
Om skade te ly en boonop stil te bly is ’n baie moeilike roete. Tog is dit soms beter om skade te ly as om Christus se naam oneer aan te doen. Om ingeloop of bedrieg te word, veral deur mense wat sê dat hulle glo, is geen grap nie. Elkeen wat al so iets beleef het, sal weet watter onaangename smaak dit in die mond agterlaat. Hoe ons egter sulke onregverdige skade of verliese in ons lewe hanteer, vertel alles oor ons karaktergroei voor God. Nee, dit beteken nie ons is blind vir dit wat verkeerd is nie, maar ons maak nooit ‘n openbare spektakel van daardie skades wat ons onregverdiglik moet deurstaan nie. Ons hang dit nie aan elke openbare klok nie.
Uit die Woord
Wat sal ons van die liefde van Christus skei? Swaarkry of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? Soos daar geskryf staan:
“Ter wille van U word ons die hele tyd aan die dood uitgelewer, word ons soos slagskape behandel.”
Maar in alles is ons selfs meer as oorwinnaars deur Hom wat sy liefde aan ons bewys het. – Romeine 8:35-37












