Suid-Afrika se eerste proefbuisbaba, Falcon de Vos, word op 29 April 1984 deur middel van 'n keisersnee in die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad in die wêreld gebring. Dit was danksy die baanbrekerswerk van prof. Thinus Kruger, nou by die Aevitas-infertiliteitskliniek by die Life Vincent Pallotti-hospitaal en sy span. Ses jaar ná die geboorte van Louise Brown van Brittanje, die wêreld se eerste baba wat verwek is deur eier- en spermselle buite die liggaam te bevrug.
In dié tyd het die werkplek se deure vir vroue oopgegaan, allerlei nuwe geleenthede het gewink en daarmee saam is moederskap uitgestel. Hoewel daar nie betroubare plaaslike data is nie, kry prof. Kruger die indruk dat die gemiddelde Suid-Afrikaanse vrou met 'n Westerse leefstyl swangerskap uitstel en baiekeer eers op 35 en ouer met 'n gesin begin.
Met internasionale sterre wat in hul veertigs en selfs later die eerste keer ma word, kan dit lyk asof jy die wêreld se tyd het. "Maar om in jou laat dertigs of vroeë veertigs swanger te raak is glad nie so maklik nie - selfs met die wetenskap se hulp. Jou vrugbaarheid daal geleidelik tussen 20 en 35 en val skerp ná omtrent 37. Op 45 is byna alle vroue onvrugbaar. Selfs met aggressiewe behandelings soos in vitro-bevrugting (IVB) is daar ná 37 'n afname in swangerskap en 'n drastiese daling ná 40. Op 45 word jou kans om 'n baba met IVB te hê op minder as 3-5% geskat," sê hy.
Ouderdom verhoog boonop die risiko op miskrame, swangerskapprobleme (soos gestasiediabetes wat laat in jou swangerskap verskyn) en chromosoom-afwykings soos Down se sindroom. Soos die meeste selle in jou lyf raak ook jou eier-selle oor die jare afgetakel. Vroue bo 40 se kans is 77% hoër om 'n kind met outisme te hê as dié van vroue jonger as 25. 'n Verdere probleem is dat mans se spermtelling in die moderne tyd afneem én meer abnormaliteite toon. Moontlike redes is dieetveranderinge, omgewingsfaktore, stres en leefstyl. Sogenaamde estrogeniese hormoonontwrigters, wat onder meer in plaagdoders en plastiek voorkom, speel ook 'n rol. Dié chemiese stowwe boots die vroulike geslagshormoon estrogeen na en versteur die liggaam se delikate hormoonbalans.
"Baie vordering is al met die vries en bewaring van eierselle (ova) gemaak. Dit is 'n moontlikheid as jou biologiese horlosie tik, die regte maat nog nie opgedaag het en jy nie 'n alleenouer wil wees nie, maar dan moet jy die eierselle betyds laat vries - op 35 en jonger. Sou jy op dertig 12-20 eierselle laat vries, is jou kans 80% om swanger te raak. Doen jy dit eers op 40, daal dit tot sowat 20-30%. Hoe ouer jy is, hoe meer eierselle moet jy vries om die kans op sukses te verbeter," sê hy. Die eierselle kan onbepaald in die vloeibarestikstof-tenk gestoor word.
Die Aevitas-vrugbaarheidskliniek is die eerste plaaslike kliniek wat by die Amerikaanse voedsel-en-medisyne-beheerraad (FDA) geregistreer is vir die onttrekking, vries en verspreiding van eierselle, wat hulle dan onder meer aan Amerikaanse klinieke voorsien.
Surrogaatswangerskappe is deesdae algemeen, maar dit is 'n taamlik tydsame proses om die regte surrogaatma te vind. "Ons kan mense meestal help, maar dit neem tyd," sê prof. Kruger. Die surrogaatma moet medies, emosioneel en sielkundig geskik wees om iemand anders se baba te dra en ná geboorte af te gee. Die verhouding tussen haar, die voornemende ouers en die baba word in 'n kontrak uiteengesit en deur 'n hofbevel bekragtig.
Kontak Prof. Kruger: 021 531 6999; www.aevitasfertilityclinic.co.za
Ons liggaam werk en leef teen 'n pas waarvoor dit nie gemaak is nie
— Dr. Franco Colin, psigiater
Stres - die hond wat depressie jaag
Stres is meestal slegte nuus en ons taal is gepeper met "raad" om dit te vermy: Tel tot tien! Haal diep asem. Chill.
Volgens die finansiële webtuiste Bloomberg (www.bloomberg.com) is Suid-Afrika naas Nigerië die land met die hoogste stresvlakke ter wêreld. Hoewel hier baie meer korrupsie en geweld is, is Nigeriërs armer en hul lugbesoedeling veel erger. Ons lewensverwagting is wel effens beter - 58 jaar - teenoor hulle 53.
Natuurlik kan stres in kort sarsies ook "goed" wees. Dit kan jou beter laat presteer op die sportveld of in 'n toets. Die stresreaksie is soos 'n skoot donshael wat jou lyf oortyd laat werk, soos wanneer daar 'n slang in jou tuin is of 'n inbreker op jou stoep. Dié outomatiese respons het gehelp om die mens as spesie van die wieg van die mensdom tot in die 21ste eeu te bring, maar nou is die groot probleem dat die streshormoonkraantjie deesdae aanhoudend vol oopgedraai is. Ons stres oor geld, werk, kinders, politiek, egskeiding, misdaad, aflegging by die werk. Ons is soos Duracell-hasies op die dwelm speed wat op dié manier ernstige gesondheidsprobleme kan ontwikkel.
Stres en depressie, ook wêreldwyd aan't toeneem, hou verband met mekaar. Depressie laat sekere chemiese stowwe in jou brein afskakel, verduidelik dr. Franco Colin, Pretoriase psigiater. Die fokus het in die verlede op die neuro-oordragstowwe serotonien, noradrenalien en dopamien geval. (Bestaande antidepressante werk dan ook hoofsaaklik op dié drie, alleen of in kombinasies met mekaar.) Maar die breinafgeleide neurotrofiese faktore (BNF) is ál meer in die kollig. Dis ‘‘kunsmis'' vir jou senuselle, laat dit vinniger groei en sterker verbindings ontwikkel. As dit afskakel, krimp selletjies in sekere dele van jou brein en jy raak depressief.
Dit gaan hand aan hand met die stresreaksie van jou lyf: Jou byniere skei die "oorlewingshormoon" adrenalien af as gevaar dreig sodat jy vinnig in 'n boom kan klim! Met chroniese stres (jy klim elke dag daai boom) word nóg 'n streshormoon, kortisol, afgeskei wat nodig is vir stamina en oorlewing. Maar word jy te lank daaraan blootgestel, raak dit giftig vir jou brein. Jy kan onder meer 'n maagseer kry, jou suiker- en cholesterolvlakke kan styg en jy kan depressief raak.
En jou gene? Aan die een kant is daar 'n aangebore geneigdheid tot depressie, wat soos 'n tydbom in jou brein tik, verduidelik hy. Aan die ander kant is stres, wat deur enigiets van werksverlies tot die buurman se lawaaierige hond veroorsaak kan word. Sien dit só: Jy het slegte skokbrekers in jou motor (die geneigdheid tot depressie) en jy ry deur 'n slaggat of twee (stres). Nou breek jou motor. Gene + stres = kar wat breek. Maar jy kan natuurlik depressief raak selfs sonder die genetiese saadjie. Met die saadjie gebeur dit net vinniger. "Ons liggaam werk en leef teen 'n pas waarvoor dit nie gemaak is nie. Jou kortisolvlak styg en jy kry uiteindelik depressie. Ons noem dit burnout," sê dr. Colin. Kontak Dr. Colin: 012 807 3568, office@drcolin.co.za
Ons beweeg geleidelik in die rigting van 'n dieet wat by elkeen se unieke behoeftes pas
— Mariza van Zyl, dieetkundige
Die groot vetdebat
Vet is met 'n groot lawaai terug op ons bord danksy kamp-vegters soos prof. Tim Noakes en ander ondersteuners van die Banting-dieet. (Dit kom kortom neer op baie vet, 'n matige hoeveelheid proteïene en baie min koolhidrate.) En net toe dit lyk of die gier begin oorwaai, vat die Keto-dieet vlam - met nóg minder koolhidrate. Die banters en kie sê basta met die dieetdogma wat sedert die jare sewentig verkondig word, maar ondersteuners van die status quo hou voet by stuk dat min vet gesonder is vir jou hart, gewigsverlies én diabetes.
Die debat duur voort. "Met begrippe soos ‘genomika' en ‘verpersoonlikte' medisyne wat gonswoorde raak, beweeg ons geleidelik in die rigting van 'n dieet wat by jou unieke behoeftes pas - daar bestaan nie meer iets soos een dieet wat vir almal werk nie. 'n Klein groepie mense kan na hartelus baie vet eet en gesond bly, maar vir die meeste van ons is die Mediterreense dieet nader aan die kol: baie vrugte, groente en ‘goeie' vette soos olyfolie, sade, neute, olieryke vis en avokado, en kleiner porsies rooivleis," sê Mariza van Zyl, geregistreerde dieetkundige van die Paarl.
Volgens haar het die debat voedingkundiges wel opnuut laat kyk na die rol wat vet in die dieet speel.
*Die gehalte (of soort) vet eerder as net die hoeveelheid wat jy eet, word toenemend beklemtoon. ‘‘Gehalte'' verwys na die samestelling van bepaalde vette, want die soort voer wat 'n dier kry, verander die dier se vetsamestelling. Voerkraaldiere se vet bevat gewoonlik meer omega 6-vette, waarvan ons te veel inkry, as diere wat gras en bossies vreet.
Vet is 'n belangrike bron van voedingstowwe. Vetoplosbare vitamiene, soos vitamien A, is byvoorbeeld noodsaaklik vir jou dermgesondheid, immuunstelsel en goeie sig.
*Meer faktore speel 'n rol in die ontwikkeling van hartsiekte as net die cholesterol in jou kos. Kosgehalte en leefstylkwessies, soos rook, min slaap en stres, het ook 'n invloed. Die gebrekkige inname van vitamiene, minerale, aktiewe bestanddele in plantvoedsel en "goeie" vette kniehalter biochemiese doeltreffendheid en is snellers vir inflammasie wat die ontwikkeling van hartsiekte kan aanblaas.
*Vet laat kos lekker smaak en kan jou vinniger versadig laat voel. Meer van 'n goeie ding is egter nie noodwendig beter nie.
* Jou liggaam kan nie omega 3 en 6 self maak nie en jy moet dit dus deur jou dieet inkry. Tans bevat ons dieet egter te veel omega 6 in verhouding tot omega 3. Bronne van omega 6 is veral margarien en sonneblomolie, maar ook die meeste diere-produkte omdat kommersiële vleis meestal uit voerkrale kom.
*Geen produk bevat net een soort vet nie - nie botter, klapperolie of vleis nie. Net soos met enige ander kos is dit belangrik om 'n verskeidenheid vetsoorte in jou dieet in te sluit. Te veel vet, veral versadigde vet wat afkomstig is van botter, klapperolie of diervette, verander die balans tussen die verskillende organismes in jou dermkanaal - die ouens wat, só lyk dit al hoe meer, éintlik in beheer is van jou gewig, cholesterol en bloedsuiker, sê Mariza.
Kontak: mariza@bettereat.net, www.bettereat.net

Geen vorige mediese verskynsel ewenaar die dolle stormloop na die Pil nie.
— Time in 1966
Die Pil bemagtig vroue
"Geen vorige mediese verskynsel ewenaar die dolle stormloop na dié mondelikse voorbehoedmiddel nie," skryf die nuus-tydskrif Time in 1966 oor die Pil, soos dit in die volksmond bekend geword het omdat vroue waarskynlik só diskreet hul dokter daarvoor gevra het. Toe die Pil in 1960 in Europa beskikbaar gestel is, kon net getroude vroue met die toestemming van hul man dit gebruik, sê prof. Leon Snyman van die departement verloskunde en ginekologie aan die Universiteit van Pretoria. Ook in Amerika kon ongetroude vroue dit eers in 1972 wettig bekom.
Min dinge het vroue so bemagtig soos die Pil: Hulle kon nou op gelyke voet met mans meeding vir opleiding en loopbaangeleenthede. Die gebruik daarvan val verder saam met die opkoms van feminisme en die seksuele revolusie en vandag gebruik meer as honderd miljoen vroue wêreldwyd dit. Dit sluit nie vroue in wat op ander doeltreffende metodes van hormonale geboortebeperking staatmaak nie, byvoorbeeld die inspuiting (Depo-Provera); NuvaRing (dit word om die serviksmond geplaas); Ortho Evra-plakker (wat op die boarm, maag of boud geplak word); inplanting (Implanon, 'n stafie met progestien wat aan die binnekant van jou boarm ingeplant word); en die intra-uteriene toestel Mirena wat Time besing as die beste voorbehoedmiddel tot nog toe.
Jaydess, 'n nuwe intra-uteriene toestel, is selfs kleiner as die Mirena en skei minder progestien af (6 mikrogram oor drie jaar teenoor 15 mikrogram oor vyf jaar), volgens prof. Snyman. Jaydess is veral geskik vir jong vroue wat beplan om binne drie jaar of minder swanger te raak. Vanweë die laer hormoondosering kan vroue wel meer deurbraak-bloeding verwag. Nog 'n nuwe verwikkeling is die byvoeging van foliensuur by voorbehoedmiddels. Gebrekkige foliensuurvlakke word verbind met 'n groter risiko vir neuraalbuisdefekte by die fetus en veroorsaak toestande soos spina bifida.
Hans Rosling skryf in sy boek Factfulness: Ten Reasons We're Wrong About the World - and Why Things Are Better Than You Think (2018) daar is net een faktor wat bepaal hoeveel kinders 'n vrou het of wil hê: geletterdheid. Dit word nie beïnvloed deur geloof, politiek, ras of enigiets anders nie. Vroue met tersiêre opleiding het gemiddeld twee kinders, ongeag hul kultuur, ras of geloof. Om bevolkingsgroei in toom te hou moet ons seker maak ons dogters slaag matriek en het toegang tot voorbehoedmiddels en tersiêre opleiding, sê prof. Snyman.
*Depo-Provera kan jou kans op tuberkulose (TB) verhoog, is pas in 'n studie aan die Universiteit van Kaapstad bevind. Dit verswak selle wat met die beskerming teen TB verbind word en versterk ander selle wat die immuunstelsel onderdruk.
Daar is 'n wanopvatting dat uitbranding die beloning vir sukses is.
— Arianna Huffington, Amerikaanse entrepreneur
Slaap . . . ons is diep in die skuld
Slaap is 'n goedkoop betaalmiddel vir al die plesiere van die wêreld, skryf Miguel de Cervantes sowat 400 jaar gelede in sy Spaanse ridderroman, Don Quijote. Hy sou waarskynlik gedink het die moderne mens is effe van lotjie getik, nes sy dwase ridder, want sedert Thomas Edison meer as 'n eeu gelede die gloeilamp ontdek het, slaap ons minder. Edison het self geglo slaap is 'n mors van tyd.
Benjamin Franklin, stigter-vader van Amerika, se uitlating "Time is money!" het die mantra van die korporatiewe wêreld geword en deesdae kry die slaapgewoontes van sy landgenoot president Donald Trump die skuld vir sy dikwels dom-astrante uitlatings. Die Don slaap glo tussen 90 minute en vier uur per nag - en dít boonop met sy selfoon byderhand sodat hy blitsig kommentaar kan lewer as iets gebeur.
Tim Egan, joernalis by The New York Times, koppel dit aan Trump se verklarings wat dikwels nie sin maak of feitelik korrek is nie. Trump het al die simptome van iemand wat chronies te min slaap, soos buie wat wipplank ry, woede-uitbarstings en 'n onvermoë om selfs die eenvoudigste inligting te verwerk, skryf Arianna Huffington in (2016). Slaap is nie net belangrik vir ons gesondheid nie, maar help ons ook ons doelwitte te bereik.
Arianna weet waarvan sy praat, want sy het self weens 'n gebrek aan slaap ineengestort en sorg nou met 'n behoorlike roetine dat sy elke dag minstens sewe uur nagrus kry. Verlede jaar het sy in 'n ope brief by 'n oënskynlik oorwerkte Elon Musk gepleit hy moet meer rus. "Dit gaan nie oor harde werk nie - natuurlik gaan jy altyd hard werk - maar om op 'n manier te werk wat jou in staat stel om jou beste besluite te neem." Ons het 'n slaap-revolusie nodig, glo sy, want net dan sal ons weer beheer oor ons lewe kan neem.
"Daar is 'n diepgewortelde wanopvatting dat uitbranding die beloning vir sukses is," het sy aan The Washington Post gesê. Die baas wat sy lewe aan korporatiewe sukses wy, is mos 'n ikoon in die raadsaal - en nêrens meer as in Amerika se Silicone Valley nie. Dis hoeka daar waar die werktuie - netwerke, skootrekenaars en slimfone - ontwerp word wat dit moontlik maak om ons werk saam te vat huis toe. En saam met vakansie. Oral.
Oorwerktheid is een van die moderne lewe se grootste tameletjies, skryf Alex Soojung-Kim Pang in sy boek Rest: Why You Get More Done When You Work Less (2016). "Om besig te wees het 'n statussimbool geword." Glo dit of nie, maar jy kán jou doodwerk. Dit het selfs 'n naam: karoshi in Japannees, guolaosi in Chinees en gwarosa in Koreaans.













