Nes jy dink jy het die ouerword-ding onder die knie, steek 'n ander klein jakkalsie sy kop uit wat jy nie uit die oog moet verloor nie en jou lewensgehalte 'n tandseerknou kan toedien.
Soos elke liggaamsdeel, vereis mond- en tandhigiëne ook hul daaglikse instandhouding en sorg.
Jy kan verwag dat verswakte gesondheidstoestande jou tand- en mondweefsel negatief gaan affekteer soos jy ouer word, maar dis egter nie al nie.
Jou vermoë om jou tande, kunsgebitte en mondweefsel na wense te versorg word ook hierdeur belemmer, lees ek nou die dag op die Suid-Afrikaanse Tandheelkundige Vereniging (Sada) se webtuiste.
Siektetoestande wat algemeen by ouer mense voorkom soos diabetes, hipertensie en artritis is van die sondebokke, omdat behandeling hiervan gewoonlik verskeie soorte medikasie vereis, elk met hul eie newe-effekte.
Op hul beurt beïnvloed hulle die gehalte en hoeveelheid speeksel in die mond nadelig, wat vererger word deur ouer mense se onvermoë om ordentlik vir hul tande en tandvleis te kan sorg weens beperkte behendigheid, sê Sada.

Dr. Janine Niegaardt van die JNS Dental Care-praktyk in Soneike, Kuilsrivier, stem saam.
Sy noem 'n paar algemene tand- en mondprobleme wat met ouer word gepaard gaan, maar gee ook wenke oor hoe jy dit kan hanteer.
Ses algemene tandprobleme by ouer persone
Tandbederf. Dit word veral vererger deur verswakte versorging van jou tande en laer speekselproduksie in die mond.
Die gevolg is tandpyn, veral wanneer jy kou, bruin of grys kolle op jou tande, slegte asem en gaatjies in die tande.
Behandeling sluit in herstel deur tandvulsels, krone, of wortelkanaalbehandeling vir erge tandbederf. Fluoriede en beter tandsorg is ook belangrik.
Tandvleissiekte (periodontitis). Word veral veroorsaak deur plaak wat opbou, swak mondhigiëne, deur te rook, en siektetoestande soos diabetes wat kan lei tot los tande en tandverlies.
Behandeling sluit in skalering (plaakverwydering) en wortelskawing (intensiewe skoonmaak), beter tandsorg en selfs chirurgie in gevorderde gevalle.
Tandverlies. Oorsake van hierdie probleem is erge tandbederf, tandvleissiekte en selfs trauma.
Behandeling sluit in inplantate, 'n brug of kunsgebit.
Droë mond (xerostomie). Dit word veroorsaak deur sekere medikasies, sistemiese siektetoestande soos diabetes, verswakte speekselklierfunksie, vitamien B-tekort, angs en depressie.
Behandeling sluit in verhoogde hidrasie, speekselstimulante soos suikervrye kougom en aanpassing van chroniese medikasie waar moontlik.
Mondkanker. 'n Verswakte immuunstelsel, rook- en alkoholgebruik asook veroudering kan van die oorsake van hierdie toestand wees.
Simptome is wit of rooi kolle in jou mond, 'n groeisel of knop in jou mond, 'n mondseer wat nie genees nie, jy sluk swaar of kry seer as jy sluk, en mond- en oorpyn.
Moontlike behandeling vir hierdie toestand sluit chirurgie, bestraling, chemobehandeling en gereelde ondersoeke in.
Kunsgebitprobleme: Moontlike oorsake van probleme met jou kunsgebit is dat dit swak in jou mond pas en mondsere veroorsaak, asook infeksies en 'n gesukkel om met jou kunstande te eet.
Daarom moet jy gereeld die gebit laat verstel, dit behoorlik laat skoonmaak of dit laat vervang met 'n stel wat perfek pas.
Raadpleeg egter jou dokter vir behandeling van enige mondsere as gevolg van die kunsgebit wat probleme gee.
Volgens dr. Niegaardt-Smith is dit veral belangrik vir ouer mense om 'n goeie professionele vertrouensverhouding met jou tandarts te hê sodat jy openlik en gemaklik kan praat oor enige kwellinge wat jy oor jou tand- en mondgesondheid het.
"Jou tandarts kan persoongerigte aanbevelings doen en die beste raad gee vir jou spesifieke behoeftes om sodoende groter gerief vir jou te verseker soos jy ouer word," sê sy.
Wenke vir goeie tand- en mondgesondheid
Sada gee die volgende wenke op hul webtuiste:
- Besoek jou tandarts ten minste twee keer per jaar. Sodoende kan tand- en mondkwessies deeglik behandel word en probleme vroegtydig aangespreek word.
- Volg 'n deeglike mondgesondheidsroetine. Kry 'n goeie tandeborsel (met sagte hare en 'n klein kop) en borsel twee keer per dag met fluoriedtandepasta; gebruik ook tandevlos. Vir diegene met beperkte mobiliteit kan 'n elektriese tandeborsel dinge vergemaklik. Vervang jou tandeborsel ten minste elke drie tot vier maande of sodra dit begin uitrafel.
- Borsel jou tande liggies. Aggressiewe borsel kan gevoelige tandvleis en -emalje beskadig. Borsel in klein sirkelbewegings.
- Gebruik tandepasta wat fluoried bevat, asook mondspoel om tandbederf te verhoed en die tandemalje te versterk.
- Moenie van jou tong vergeet nie. Hou dit skoon met 'n tandeborsel of tongskraper om bakterieë in die mond te verminder.
- Masseer jou wange gereeld asook jou verhemelte en tandvleis met jou indeksvinger om bloedvloei na die mondweefsel te stimuleer.
- Drink baie water om 'n droë mond te voorkom en kosdeeltjies en bakterieë af te spoel.
- Eet en drink min of geen suikerkosse en -drankies. Vermy lekkers en gaskoeldranke om tandbederf te verminder. Kies gesonder opsies soos vrugte, groente en melkprodukte.
- Volg 'n gebalanseerde dieet wat ryk is aan vitamine, minerale en voedingstowwe vir gesonde tande en tandvleis. Sluit veral kalsiumryke voedsel in soos melkprodukte en blaargroente.
- Hou op rook.
- Bestuur die newe-effekte van chroniese medisyne. Raadpleeg jou dokter hieroor.
- Versorg jou kunsgebit daagliks met 'n kunsgebitborsel en sagte seep of kunsgebitskoonmaakmiddel. Verwyder die gebit voor jy gaan slaap om jou tandvleis 'n ruskans te gee. Maak dit soggens weer deeglik skoon voor jy dit in jou mond terugplaas. Kunsgebitte raak ook mettertyd los in jou mond. Besoek dus gereeld jou tandarts vir passings sodat enige aanpassings so gou as moontlik aangebring kan word.
- Monitor veranderinge in jou mondgesondheid. Let op vir tandvleisbloeding, slegte asem en mondsere wat moontlik kan dui op onderliggende siektetoestande wat mediese ingryping vereis.
- Oorweeg inplantate, veral waar tande ontbreek.
- Bly aktief en oefen gereeld, wat ook voordelig is vir jou algemene gesondheid. Fokus op oefeninge wat die bloedsirkulasie bevorder, kanse op inflammasie verminder en sodoende gesonde tandvleis bevorder.
- Beheer jou stresvlakke. Chroniese stres verswak die immuunstelsel wat kan lei tot swak mondgesondheid. Beoefen tegnieke wat stres kan verminder soos meditasie, diep asemhaling en genotvolle stokperdjies.
Ek moet byvoeg, dit sal nie skade doen om by 'n koor, kunsvlyt-, pret- of toergroepe vir seniors te gaan aansluit nie.
Dit kan help om klein duiweltjies soos eensaamheid en ongesonde eetpraktyke teen te werk wat jou mond vyandiggesind is. En dis sommer ook net lekker!
- Bykomende bron: https://www.sada.co.za/oral-health-page/oral-care-elderly




















