Mynbaas: ‘Die gety het gedraai, ANC!’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Neal Froneman op een van sy verskeie Harley-Davidsons.
Neal Froneman op een van sy verskeie Harley-Davidsons. (/Rapport Images)

Neal Froneman is ’n legende in die Suid-Afrikaanse mynbedryf. Hy het Sibanye-Stillwater tot ’n wêreldreus uitgebou. En anders as soveel sakeleiers was hy nooit bang om kritiek teen die regering uit te spreek nie.

30 September 2025.

“Dit is my heel laaste werkdag. Môre is ek werkloos.”

Neal Froneman gee ’n laggie, byna benoud.

“Ek het fomo (fear of missing out), maar ek beplan al lank hieraan. Ek kan dalk werkloos wees, maar ek gaan besig wees. Ek wil Formule 1 en MotoGP na Kaapstad bring. Suid-Afrikaners verdien dit.”

Neal Froneman het uitgetree as uitvoerende hoof van Sibanye-Stillwater, een van Suid-Afrika se grootste myn-suksesverhale. Dis die einde van ’n tydvak. ’n Mynkolos groet.

Groter as lewensgroot – só word dié man dikwels beskryf.

Hy het nie ’n bang haar op sy kop nie. Terwyl Suid-Afrikaanse sakeleiers tot stilswye geïntimideer is deur die ANC, was hy deurentyd krities oor hulle.

Maar hy praat nie net nie; hy is voorsitter van ’n taakgroep oor misdaad tussen die private sektor en die regering.

Hy laat hom ook g’n deur grimmige vakbondbase soos Joseph Mathunjwa, Irvin Jim en Gwede Mantashe intimideer nie. Mantashe was selfs by Froneman se afskeidspartytjie – uit respek vir hierdie legende.

Neal Froneman het op 30 September as uitvoerende hoof van Sibanye-Stillwater uitgetree.
Neal Froneman het op 30 September as uitvoerende hoof van Sibanye-Stillwater uitgetree. (Verskaf)

Ook vandag trap Froneman nie briek nie as hy praat oor die sakesektor se stilswye tydens ons land se inploffing.

“Die sakesektor is deels te blameer vir die posisie waarin Suid-Afrika nou is. Hulle het stilgebly. Hulle moes meer opdringerig gewees het, meer vasgeskop het oor wat reg en verkeerd is.

“Ek sê dit reguit, in die openbaar.

“Die sakesektor moet betrokke raak om misdaad en korrupsie te takel. As ons dit nie doen nie, gaan hierdie land ineenstort. En ons doen dit nie om die ANC staande hou nie, maar in die nasionale belang.”

By Froneman se afskeid het Vincent Maphai, voorsitter van Sibanye se direksie, gesê Froneman kry dit reg om altyd 10 jaar vooruit te kan kyk.

“Ek leef nie in hoop en sterf in wanhoop nie. Ek is ’n realis. En ek moet vir jou sê, dinge in Suid-Afrika gaan erger raak, maar vir die eerste keer in ’n baie lang tyd is daar lig aan die einde van die tonnel.”

Hy wys met sy hande ’n trajek wat grond toe tuimel. “Dis ons, maar die regering van nasionale eenheid het dit ’n bietjie gedraai. Wat jy nou sien, is die ANC wat inplof. Dit word vir my glashelder dat die ANC dit nie sal regkry om te verander nie.

“Ons regering druk hul kop in die sand en dink steeds dis betaaltyd vir apartheid. Dit was 30 jaar gelede. As jy nie die speelveld in 30 jaar kon verander nie, is dit nou te laat. Die wêreld het verander en jy moet sorg dat jy saam met hom verander. En nou sit ons waar ons sit. Dis nie anti-transformasie nie; transformasie sál gebeur. Ons almal weet wat ons moet doen. Ons almal weet wat in die verlede gebeur het.

“Die gety het gedraai, ANC!

“ ’n Slim persoon van kleur het eendag vir my gesê as dit nie vir swart ekonomiese bemagtiging was nie, sou sy nooit uitvoerende hoof geword het nie. Ek sê toe vir haar: Weet jy wat? Jy verneder jouself. Slim mense kom op hul eie heel bo uit. As jy dink dit was danksy swart ekonomiese bemagtiging, ondermyn jy jouself. Jy het bo gekom, want jy’s slim. En jy verdien dit.

“Die sakesektor dink nie swart en wit nie. Maar ons land se beleide bly ons terugneem na rassekwessies. Genoeg is genoeg. Dit moet stop.”

Pres. Cyril Ramaphosa is vir hom ’n uiterse teleurstelling.

“Ek het ’n goeie verhouding met Cyril. Hy het al die regte eienskappe. Hy is onafhanklik ryk, hy is slim. Hy sê al die regte goed. Maar hy het nie die moeilike besluite geneem nie. En daardie baie moeilike besluite moes hy lank gelede geneem het. Sy party kom vir hom eerste en die land tweede. Hoe verkeerd is dit nie!

“Ál oplossing is die RNE. Al werk dit nie behoorlik nie, is daar tog ’n beter magsbalans. Ek dink die munisipale verkiesing gaan ’n klomp beduidende veranderinge bring, wat die magsbalans sal verbeter.

“Ek sien die moontlikheid van behoorlike hervorming. Die rasgebaseerde beleide van swart ekonomiese bemagtiging en grondonteiening is sleg. Ons buitelandse beleid skep nie ’n beleggersvriendelike omgewing nie. Ons steek die Weste in die oog, en dis waar ons kapitaal vandaan kom. So die ANC hou aan foute maak en selfs sy eie ondersteuners begin dit raaksien.

“Dis belangrik om die RNE bymekaar te hou, om die plaaslike verkiesing te oorleef. Só keer jy die radikale linkses, die EFF en die MK, om werklike invloed te hê.”

Misdaad en korrupsie is geweldige probleme waardeur Suid-Afrika in die oë gestaar word, sê hy.

“Jannie Durand, Mary Vilakazi en ek is medeleiers in die Joint Initiative on Crime and Corruption (JICC) saam met die regering. Jannie en ek is ook voorsitters van Business Against Crime. En ons maak ’n verskil. Ons is taamlik vol vertroue dat Suid-Afrika van die gryslys verwyder sal word. Dit gaan daaroor om beheermaatreëls in werking te stel om te wys dat ons iets omtrent geldwassery en die finansieringvan terreur doen. Dit is die begin van hoe ons die kartelle en georganiseerde misdaad vasvat. Ons het ook vele ander projekte aan die gang.

“Voor ons lê ’n lang pad. Ons moet hierdie mafias, hierdie georganiseerde misdaadsindikate, ontwrig en ons kan dit doen deur ons skakeling met die bankwese. Ons het suksesvolle vennootskappe met die Nasionale Vervolgingsgesag en die Valke ontwikkel.”

Maar, beklemtoon hy, dit gaan tyd neem.

“Die wiele van die gereg draai stadig. Die Madlanga-kommissie is uiters belangrik. Ons het organisatoriese vernuwing nodig, hetsy in die regstelsel of polisie, en daarvoor moet die regering hul begrotings beduidend vergroot – en nié deur belasting te verhoog nie. Die regering moet eerder sy eie uitgawes onder beheer kry. Ons as burgers moet dié dinge van ons regering eis.”

Wie is Neal Froneman? Gaan soek hom in die motto wat hy sy kinders geleer het: Werk hard, speel hard.

Vir ’n man wat in 2022 die vakbonde revolusierooi laat sien het met sy R300 miljoen-pakket, het Froneman nou die kans om te myn in sy eie hoop geld.

“Ek is mal oor shopping, maar my stokperdjies is duur. So ek sal moet versigtig wees ...”

Sy stokperdjies staan skure vol. Verskeie Harleys. ’n Cirrus 22 en Bell 407-helikopter wat hy self vlieg.

Neal en Roz Froneman by sy vliegtuig.
Neal en Roz Froneman by sy vliegtuig. (Verskaf)
Neal en Roz Froneman by sy Bell407-helikopter.
Neal en Roz Froneman by sy Bell407-helikopter. (Verskaf)

Spesiale gewere waarmee jy ’n teiken 2 km ver kan tref. Dit bied ’n ander soort adrenalien.

Bote, visvang, jag. En musiek, veral tromspel. By sy huis in Florida, Amerika, waar hy vier maande elke jaar deurbring, het hy spesiaal ’n klankateljee ingerig. H’m, hy was al op Mar a Lago, knik hy, maar vir ’n mynboukonferensie, nie vir ’n kuier met die oranje man nie.

Met een van die gewere waarmee hy baie ver kan skiet.
Met een van die gewere waarmee hy baie ver kan skiet. (/Rapport Images)

Hy’s deesdae te lywig om in ’n renmotor te pas, grinnik hy, maar in sy 40’s het hy nog puik gevaar in Formula GTI.

“Motorrenne is waarskynlik die opwindendste ding wat ek in my lewe gedoen het. As jy daar op die renbaan wag, en die ligte gaan aan, jaag jy weg saam met jaers baie jonger as jy, wat báie minder weeg, maar hulle het nie dieselfde bôls nie ... En jy vat daai eerste draai en hulle hou terug, aaa ...”

Plesier spoel oor sy gesig. Waar’s die dae.

Die naaste wat hy nog aan die dood gekom het, was met ’n pulmonale embolisme, toe ’n bloedklont in albei longe beland het. In die waakeenheid het hy vir die dokter aanhou sê hy is eintlik op die verkeerde plek, want hy voel piekfyn. Toe sê die dokter: ‘Jy is sekondes van dood af, lê stil!’

“Dit was ’n skok. Maar ja, luister, ek is dalk mal as dit by spoed kom, maar eintlik is ek versigtig.”

Froneman was as kind reeds mededingend. Hy was goed in sport, maar het jonk reeds besluit om eerder op die akademie te fokus.

“Ek veronderstel ek is nogal materialisties, op ’n manier. Ek hou van goeie dinge, maar nie op ’n ondeurdagte manier nie – ek hou van topgehalte. As ek ’n kar wil hê, moet dit topgehalte wees. So ek het akademies hard gewerk om geleenthede te kon moontlik maak.”

Vlieg lê hom die naaste aan die hart. As jong seun wou hy lugmag toe gaan. Sy pa se voorwaarde was ’n graad. Met ’n Goldfields-beurs kon hy meganiese ingenieurswese gaan studeer. Dit het hom gefassineer en hy is toe nooit lugmag toe nie.

Sy pa, ’n rekenmeester, het laat in sy lewe gaan studeer om as geoktrooieerde rekenmeester te kwalifiseer. Sy ma was ’n haarkapper wat van die huis af gewerk het. “Ons was allesbehalwe ryk, maar ons het ook nie honger gely nie.”

As Wits-student het hy met karre en motorfietse begin smous. Dit het hom geleer om geleenthede raak te sien en om waarde te kan toevoeg.

“As jy waarde wil skep, moet jy óf ’n bietjie meer risiko neem óf ’n bietjie meer geleentheid sien as ander mense. Ek kon baie van daardie lesse later op korporatiewe vlak toepas.

“Ek waag risiko’s, maar dobbel nie. Ek weet altyd wat die gevolge kan wees. In besigheid moet jy ekstra versigtig wees om risiko’s te waag as jy ander mense se geld of belange bestuur. Dis ons vermoë om geleenthede raak te sien, risiko’s te verstaan en te bestuur, wat dit vir ons moontlik gemaak het om byvoorbeeld Uranium One, Gold One en meer onlangs Sibanye te begin. Dinge wat ander mense waarskynlik nie sou doen nie.”

By Froneman se afskeid het Bernard Swanepoel, ’n vorige uitvoerende hoof van Harmony Gold en destyds Froneman se baas, hom beskryf ’n ware entrepreneur en dapper sakeman.

Hulle het baie goed klaargekom, sê Froneman. “Ons het Harmony saam opgebou met logiese, maar nuwe denke. Ons het ’n knap span mense bymekaar gemaak en dit die Harmony Way genoem. Harmony het uiters suksesvol geword. Maar ek kon nie vir ewig onder Bernard se skadu werk nie, toe beweeg ek aan.”

As uitvoerende hoof van Gold One het Froneman een van die eerste splinternuwe goudmyne sedert die 1960’s aan die Oos-Rand opgebou.

Gold One het ’n ander model as Harmony gevolg. As jy iemand anders se strategie probeer navolg, is jy altyd ’n stap agter, sê hy.

Toe Swanepoel se oorname van Goldfields misluk, het Froneman ná die myngroep se ontbondeling die uitvoerende hoof geword. “Juis as gevolg van die Harmony Way het ons geweet wat ons met Goldfields se myne kon doen. Binne twee jaar was ons ’n bedryfsleier.

“Dit het ons die vermoë gegee om die ruimte te betree van platinumgroepmetale (PGM), wat toe ’n windstilte beleef het. Mynbou in goud en PGM’s is baie dieselfde. Ons strategie het ons van heel onder tot heel bo geneem in PGM’s.”

Lonmin was sy beste oorname tot nog toe. Dit was sy heel eerste transaksie nadat Sibanye in 2013 gestig is. “Lonmin se eienaars was so arrogant, hulle wou ons nie eens ontmoet nie.”

Vyf jaar later was hulle op die punt om te vou. Froneman het toe twee transaksies tegelykertyd probeer vasknoop: Stillwater in Amerika en Lonmin. Dit was egter ’n slegte tyd vir sake in Suid-Afrika. Hy sê toe vir Ben Magara (toe uitvoerende hoof van Lonmin) hulle gaan eers die Lonmin-transaksie staak en op Stillwater konsentreer, ’n proses wat ongeveer ’n jaar sou neem.

“Dit was soos om voor die kansel vir jou aanstaande te sê, jammer, ek trou nie nou nie.

“ ’n Jaar later was Lonmin in ’n erger situasie. Ons het die Stillwater-transaksie beklink, een van die beste platinum- en palladium-bates in die res van die wêreld, en toe die verstommende oorname van Lonmin, juis omdat hulle so verswak het. Maar dit was allesbehalwe maklik, met Amcu-stakings en voorwaardes van die raad op mededinging.

“Dit was omtrent ’n oorlog. Maar wat waardetoevoeging vir ons belanghebbendes en aandeelhouers betref, was die verkryging van Lonmin ’n ongelooflike prestasie.”

Hulle wou die Springbokke van die mynwêreld word, om die sakespel enige plek in die wêreld te kan speel en te wen, vertel hy. So kon hulle hulself op omtrent elke vasteland in die wêreld vestig met voetspore in Amerika, Finland, Frankryk, Australië en Suid-Amerika. En natuurlik Suid-Afrika.

“Die belangrikste ding in ’n maatskappy is sy mense. Bates is sekondêr. Met goeie bates en swak leierskap het jy eintlik niks. Maar met swak bates en goeie leierskap kan jy berge versit.”

Die moeilikste tyd in sy lewe was in 2018 toe 12 mense in hul myne dood is.

Die absolute hoogtepunt in sy lewe, sê hy, byna emosioneel, was Sibanye se hantering van die Marikana-weduwees.

Hul heel eerste vergadering by Lonmin was om die weduwees van die gestorwe mynwerkers te ontmoet. Hy het verduidelik dat hulle ’n belangrike deel is van die blaredak van Sibanye se logo, die Umdoni-boom. “Ons sal eer wat Lonmin belowe het, het ek gesê, maar ons sal méér doen. Elkeen van daardie weduwees het huise gekry. Een weduwee het vir my haar man se goue horlosie gegee. Ek het dit geraam, dis vir my ’n trofee.

“Een van die kinders van die slagoffers is deur ons onderwystrust-program en hy werk nou by Sibanye. Hy het vir my ’n Basotho-kombers gegee en dit om my gevou.

“As mense is dit ons doel om ’n verskil te maak.

“Ons het nog ver om te gaan, maar ons kon die gesprek verander. Die vakbonde is geneig om ’n wond te laat aanhou sweer, want as dit gesond word, is daar vir hulle g’n meer retoriek nie.”

Nou lê ’n skoon bladsy voor Neal Froneman.

Hy wil musieklesse neem, leer om nóg instrumente te bespeel, meer tyd bestee saam met sy vrou, Roz (hulle is al ’n ewigheid getroud), die kinders en kleinkinders. Meer vlieg. Steeds entrepreneur wees.

O ja, en hy sou graag skraler wou word. “Ek wens ek was meer aktief. Ek het nou die tyd ...”

Môre wag daar vergaderings oor die misdaadsituasie in ons land, sê hy. En. En.

Hy het vir Roz en die kinders gesê hulle moet eendag op sy begrafnis asseblief Pink Floyd se “Comfortably Numb” speel.

Hy asem stadig in, stadig uit.

Maar éérs ...

hretief@rapport.co.za

5094

SPELETJIES VANDAG

CTA