Vergeet gerus van al jou voornemens vir die nuwe jaar en konsentreer vanjaar eerder daarop om gesonder te leef en gelukkiger te wees.
Jou grootste bate is nie jou spoggerige huis of jou blink sportmotor of jou platskerm-TV nie - dis jou gesondheid. Deur klein, deurlopende aanpassings of net deur te leer om na jou liggaam te luister kan jy in 2024 gesonder leef.
Doen dit só:
•Maak sommer die week al 'n afspraak by jou tandarts, dermatoloog en dokter vir 'n algemene ondersoek. Bespreek vir 'n mammogram of laat toets jou prostaat. En wanneer laas het jy 'n nuwe bril gekry?
• Doen hierdie jaar moeite om te beweeg. Klim trappe. Doen strekoefeninge. Stap in die natuur, in jou woonkompleks, om die blok of selfs net van die een kant na die ander kant van jou plaaslike winkelsentrum.
• Bly veilig in die son. Velkanker is een van die kankers wat wêreldwyd die meeste voorkom en gegewe Suid-Afrika se sonnige klimaat, is dit geen verrassing dat velkanker plaaslik so algemeen is nie.
Sonskade is onomkeerbaar en die sonbrand wat jy as kind opgedoen het, haal jou later in jou lewe in. Selfs net 'n kwartier van erge blootstelling in die son kan jou vel ernstig beskadig.

Die beste manier om velkanker te voorkom is om sonlig te vermy tussen 10:00 en 15:00 en - wanneer blootstelling onvermydelik is - 'n hoed, sonskerm en beskermende klere te dra. Wees ook bewus van jou vel en bring enige veranderings, soos nuwe moesies of vlekke wat verkleur, onder jou dokter of dermatoloog se aandag.
• Eet jouself gesond, nie siek nie. Suid-Afrika is een van die lande in die wêreld met die hoogste voorkoms van diabetes. Oor tipe 1-diabetes het 'n mens nie beheer nie, omdat dit 'n outo-immuun-toestand is. Maar tipe 2-diabetes kan voorkom word en word grootliks verbind aan leefstyl-faktore, sê Arthur Ramoroka, korporatiewe voedingskundige verbonde aan Tiger Brands.
Volgens hom ly sowat vier miljoen Suid-Afrikaners aan tipe 2-diabetes, maar baie mense is onbewus daarvan dat hulle dié toestand onder lede het. "Omdat diabetes die senuweestelsel wat pyn beheer vernietig, het baie mense geen idee hulle is siek nie, tot dit te laat is."
Die goeie nuus, sê Ramoroka, is dat maklike leefstyl-aanpassings die siekte grotendeels kan voorkom. Dit sluit in deur seker te maak jy is nie vetsugtig of oorgewig nie en om 'n groter verskeidenheid van gesonde kosse daagliks te eet. "Sny voedsel uit wat hoog is in onversadigde vette, eet meer volgraankos, beheer jou porsiegroottes en eet meer groente en vrugte," is sy raad. "Dis ook belangrik om jou inname van koeldrank wat baie suiker bevat te beperk - iets wat dikwels deur mense oorgesien word."
Is jy verveeld?
Jou fokus op welstand behoort ook jou psigiese gesondheid in te sluit. Voel jy byvoorbeeld steeds doodmoeg selfs na 'n paar weke van niksdoen? Dit mag wees dat jy uitgebrand is, maar dit nie weet nie.
Uitbranding is 'n toestand wat veroorsaak word weens langdurige uiterste spanning, uitputting en oorlading.
Maar, sê Advaita Naidoo, besturende direkteur van Jack Hammer (Afrika), 'n werwingsmaatskappy, jy kan dalk ook net verby die aanvaarbare punt van verveling wees. Dié toestand word gekenmerk deur lae vlakke van motivering, jy voel asof daar min dinge is wat jou regtig uitdaag in jou werk, jy toon min belangstelling wat meebring dat jy nóg minder doen, daar is te veel roetine in jou werk of te min selfstandigheid. Of dalk het jy net bloot té gewoond geraak aan dit wat jy doen.
Terwyl hierdie langdurige verveling nie so ernstig is as uitbranding nie, kan dit wel 'n negatiewe uitwerking op jou lewensgehalte en loopbaanvooruitsigte hê.

Naidoo waarsku dit kan lei tot minder produktiwiteit, swakker prestasies en minder werksbevrediging. En uiteindelik sal dit jou geluk, welstand en vervulling beïnvloed, wat sal meebring dat jy onbevredig, gefrustreerd en moedeloos voel.
Naidoo meen dis alles tekens dat jy nie jou talente, vaardighede en passies optimaal benut nie, wat kan lei tot groter onbetrokkenheid in die werkplek. "Dit klink dalk na 'n ligsinnige probleem, maar hierdie soort verveling is iets waarvan werkgewers kennis moet neem," waarsku Naidoo.
Dit kan lei tot 'n verlies aan produktiwiteit, meer foute in die werkplek en selfs 'n vermorsing van tyd namate vervelige werkers hulle met irrelevante aktiwiteite besig hou.
Die oplossing? Wanneer iemand uitgebrand is, moet daardie persoon se werkslas verlig word. As iemand bloot vervelig is, moet daar aktief gesoek word na nuwe uitdagings. "Jy kan nuwe geleenthede soek, nuwe dinge leer, meer verantwoordelikhede opneem en vra vir meer gereelde strategiese terugvoer," is haar raad.
Bedankingsbrief
Is jy na dese steeds vuur en vlam om jou werk te bedank en jou eie onderneming te begin of om 'n nuwe, opwindende werk te gaan soek? JustMoney, wat Suid-Afrikaners help om ingeligte beslui- te oor geld te neem, gee dié wenke:
• Het jy regtig 'n nuwe werk nodig, of net 'n vakansie? Doen selfondersoek en vind uit hoekom jy ontevrede voel in jou werkplek. En neem eers 'n finale besluit wanneer jy ontspanne en verfris voel.
• Herbesoek jou langtermyndoelwitte en besluit of 'n nuwe werk daarmee belyn is. Kry 'n mentor se raad as jy hulp nodig het hiermee.
• Lees die fynskrif van jou kontrak voor jy net bedank. Dit beperk jou dalk om vir 'n tydperk vir 'n mededinger te werk of met bestaande kliënte te skakel.

• Hersien al die voordele wat jy in jou huidige pos het, van mediese fonds en aftreevoordele tot bonusse, aandele en selfs toegang tot 'n gimnasium. Wat word hiervan as jy bedank en watter uitwerking gaan dit op jou geldsake hê?
• Kry 'n finansiële beplanner om jou hiermee te help. As jy reeds 'n nuwe werkgewer in die oog het, doen deeglike navorsing oor die korporatiewe kultuur van die maatskappy waarby jy wil aansluit om seker te maak jy gaan inpas.
• As jy beplan om jou loopbaan oorsee voort te sit, kry hulp van 'n belastingkonsultant.
• Dink mooi oor jou huidige werk-leef-balans en hoe dit in 'n nuwe werksomgewing gaan verander. Sal jy byvoorbeeld meer moet reis en gaan jy dus langer van die huis af weg wees?
• Bied jou nuwe werkgewer geleenthede vir opleiding en nuwe ervaring? Is daar 'n beursskema wat jy kan gebruik vir verdere studie?
• Hoe stabiel is die maatskappy waarby jy wil aansluit? En hoe stabiel is die sektor waarin jy wil gaan werk?
• Maak seker jy het 'n noodfonds met genoeg geld om uitgawes vir minstens drie maande te dek. Jy sal dalk onverwagte uitgawes moet aangaan in jou nuwe werksomgewing, of dalk voldoen dit nie aan jou verwagtings nie, of dalk word jy afgelê.
In geval van 'n groot krisis
Natuurlik gaan daar iewers in die jaar iets gebeur wat jou van balans af gaan gooi. Gebruik jou ondersteuningsnetwerk en moenie skaam wees om vir hulp te vra nie.
En wanneer dit 'n krisis is wat regtig ernstig is, onthou die volgende raad: Haal asem. Drink water. Slaap. Herhaal.
Dit is die geheim van geluk
Agt glase water 'n dag, 'n gebalanseerde eetplan, genoeg oefening en daaglikse sonskerm is alles goeie raad om te volg. Maar wat is werklik die geheim van geluk?
Geluk, het navorsers aan die Harvard-Universiteit bevind, kan verkry word deur drie eenvoudige stappe: wees goed vir ander, goed in wat jy doen en goed vir jouself.
Wees goed vir ander deur jou belangrikste verhoudings te koester en te versterk en deur by te dra tot jou gemeenskap.
Wees goed in wat jy doen deur meer te doen van dit wat jy goed doen en minder van dit wat jy nie so goed doen nie.
En wees goed vir jouself deur om te sien na jou gesondheid, jou welstand, jou finansies en deur 'n balans te handhaaf tussen jou werk en jou lewe weg van die werk af.
- Van Eeden is Netwerk24 se Stemme-redakteur.














