Die Nasionale Osteoporose-stigting (NOS) maak gereed om deel te neem aan vanjaar se Internasionale Osteoporosedag-veldtog met die tema "Sê nee vir poreuse bene".
Op Sondag 20 Oktober kan mense wêreldwyd aan die veldtog deelneem om groter bewustheid te skep oor osteoporose en om individue van alle ouderdomme aan te moedig om hul beengesondheid te prioritiseer.
"Ons beengesondheid is kosbaar," sê Teréza Hough, die uitvoerende hoof van die NOS.
"Sterk bene is die grondslag van ons mobiliteit, welstand en onafhanklikheid."
Die veldtog het ten doel om die belangrikheid van die voorkoming van osteoporose te beklemtoon deur voeding aan te beveel wat tot beter beengesondheid lei, asook om gereelde fisieke aktiwiteit en leefstylveranderinge voor te stel wat gesonde beendigtheid beheer.
"Osteoporose is 'n ernstige gesondheidsbedreiging. Vroeë diagnose, osteoporose-ondersoeke en konsekwente nakoming van voorgeskrewe behandelings is van kardinale belang om die risiko van frakture en langtermynkomplikasies te verminder.
"Ons doen 'n beroep op almal om nee te sê vir poreuse bene deur hul beengesondheid ernstig op te neem en te beskerm. Osteoporose kan enigiemand raak, maar met die regte kennis, voeding en lewenstyl kan almal hul risiko verklein," sê Hough.
Osteoporose is 'n siekte wat oor baie jare heen ontwikkel, op die oog af sonder enige sigbare simptome. Dit word gekenmerk deur 'n afname in beendigtheid en die afbreek van beenweefsel wat die risiko vir beenfrakture, veral in die heupe, rug, gewrigte of skouers verhoog.
"Vir mense met lae beendigtheid kan eenvoudige aktiwiteite soos buk, draai, hoes of nies ernstige frakture veroorsaak.
"Hierdie simptome kom veral voor by mans en vroue ouer as 50 jaar. Die gevolge van osteoporose, soos liggaamspyn ná 'n besering, kan 'n mens se lewensgehalte en onafhanklikheid ernstig benadeel," sê Jandri Barnard, 'n geregistreerde dieetkundige van KwaZulu-Natal.
Voorkoming en dieet
Korrekte voeding speel 'n deurslaggewende rol in die voorkoming van osteoporose, veral die gereelde inname van kalsium, sê Barnard. "Namate mense ouer word, benodig hul liggaam meer kalsium. Navorsing toon dat 'n voldoende daaglikse kalsiuminname kan help om beendigtheid te behou en die risiko van beenfrakture te verklein. Vir mense wat laktose-onverdraagsaam of allergies vir suiwel is, is kalsiumverrykte sojamelk of amandelmelk goeie alternatiewe," sê sy.
Proteïen is ook noodsaaklik vir die opbou en herstel van beenweefsel, sê Barnard. "Die inname van proteïen wat ook kalsium bevat, sluit in blikkies vis soos sardiens, maar dan moet die fyn beentjies vol kalsium ook ingeneem word. Indien dit ook 'n bron van vitamien D bevat, word die kalsium beter in die liggaam geabsorbeer.
"Volgens 'n studie wat in 2019 gepubliseer is, het die inname van eiers ook 'n positiewe impak op beendigtheid en verlaag dit die risiko vir osteoporose en beenfrakture. Eiers is ideaal vir die voorkoming van osteoporose omdat dit 'n bron van kalsium en vitamien D is en een groot hoendereier 'n hoë proteïeninhoud van 6,5 g bevat."
- Om Suid-Afrikaners aan te moedig om by die bewusmaking van osteoporose betrokke te raak, bied die NOS die Rattle Your Bonespretloop op 2 November in Constantia aan. Kry meer inligting by osteoporosis.org.za/nofsa-events/rattle-your-bones-5km-fun-run/.
GEBORG
Vacuhealth

Vacuhealth vier al vir 25 jaar gehalte en doeltreffendheid. Dié Vacurect-vakuum-ereksieapparaat dien as 'n oplossing vir ereksieprobleme. Erektiele disfunksie is meer algemeen as wat jy dalk mag dink en deur nie hulp daarvoor te soek nie, rig baie mans skade aan hul belangrikste verhouding.
Ereksieprobleme het dikwels 'n fisieke oorsaak, byvoorbeeld 'n besering, hoë bloeddruk, kanker, 'n radikale prostatektomie, diabetes, die newe-effekte van medikasie of ouderdom.Vakuum-ereksieterapie of penisrehabilitasie is 'n natuurlike, veilige behandeling vir ereksieprobleme en kan deur alle mans gebruik word, ongeag die oorsaak van swak bloedsirkulasie na die penis.
Die Vacurect kan met vertroue gebruik word omdat dit min newe-effekte het en dit die mins ingrypende behandeling is.Vir meer inligting oor die apparaat, skakel gerus 072 688 0795.















