In die week ná Vadersdag drie jaar gelede is kanker by Michael Williams (66) van Mitchells Plain gediagnoseer. Dié diagnose was vir hom en sy gesin nie net 'n gesondheidskok nie, maar ook vreesaanjaend. Hy het die siekte egter moedig aangepak, en vandag is dit al twee jaar dat hy sonder kanker leef.
Op Maandag 21 Junie 2021, die dag ná Vadersdag, het Michael Williams onverklaarbaar siek geword.
Dit was die begin van sy kankerreis, sê hy.
"Ek kon nie loop nie en moes gehelp word om toilet toe te gaan. Daar is vir my gesê my stoelgang is swart. Dit het die hele dag en nag aangehou.
"Ek is die Dinsdagoggend in 'n rolstoel na die Mediclinic Panorama-hospitaal gehaas. Die huisdokter wat my kom sien het, het my ondersoek, maar kon my nie behandel nie, aangesien my mediese fonds nie haar koste gedek het nie.
"Ek moes kontant vir die konsultasie betaal. Die dokter het gereël dat ek na die Mediclinic Louis Leipoldt-hospitaal (in Bellville) geneem word, waar ek dadelik opgeneem is.
"Ná 'n paar dae van omvattende toetse en 'n kolonoskopie het die dokter, sonder vooraf berading, my ingelig dat longkanker by my gediagnoseer is. Ek was geskok en het die dokter twee keer gevra of die diagnose korrek is. Die dokter het bevestig dat dit korrek is.
"Toe ek dit hoor, het dit gevoel of die dood aan my deur klop en vrees het dadelik ingesluip. Ek was bang, verpletter en emosioneel ontsteld, en het net gedink aan my familie en my lewe wat verby is."
Aangesien Williams se diagnose gedurende die Covid-19-pandemie gedoen is, is net sy vrou toegelaat om hom die aand te besoek en hy moes haar die nuus meedeel.
"Sy was geskok, maar tog baie bemoedigend. ‘Jy gaan nie sterf nie,' het sy herhaaldelik gesê.
"Sy moes daarna die nuus aan die res van die gesin oordra. My kinders was platgeslaan deur die nuus."
Nadat Williams uit die hospitaal ontslaan is, het hy 'n pulmonoloog by die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in Kaapstad gaan spreek.
Nog toetse is gedoen, waaronder 'n brongoskopie en 'n biopsie.
"Op 6 Julie is ek ingelig dat die kanker wat ek het, limfoom is. Nog 'n skok, want dit het my dadelik verwar.
"My immuunstelsel was gekompromitteer en ek moes my weerstand opbou voordat ek met behandeling begin."
Williams vertel hy het teen Julie daardie jaar, ten tyde van sy verjaardag, 27 pille per dag geneem en het ses chemoterapie-behandelings ondergaan. "Ek het my verjaardag, 13 Julie, in die hospitaal deurgebring. Ek het al my hare verloor en het van 120 kg na 80 kg gegaan.
"Maar die guns van God was oor my lewe en ek kon die einde-van-behandeling-klok op 25 November 2021 lui, presies vyf maande nadat ek meegedeel is dat ek longkanker het."

Bewusmaking om kanker belangrik
Williams is vroeg in Januarie 2022 meegedeel hy is kankervry.
"Die nuus wat die dokter my meegedeel het, het my so oorweldig dat ek daarna vyf dae gehospitaliseer moes word omdat my hartklop uiters hoog was."
Volgens Williams was die moeilikste deel van sy reis met hiedie siekte die vrees dat die kanker weer sy verskyning sou maak.
"Die vrees vir die terugkeer van die kanker is daar, maar ek moes ek my geloof behou.
"Om by 'n heeltemal nuwe lewenstyl aan te pas was uiters moeilik. Ek het al die gewig weer aangesit wat ek verloor het.
"Maar my liefde vir my gesin, en die wete dat ek nie alleen hierin is nie, het my laat aanhou veg.
"En ook gebed en nog meer gebed het my daarvan weerhou om moed op te gee.
"Ek het 'n getuienis om aan almal bekend te maak; aan diegene wat geen hoop het nie.
"Ek het ook 'n baie goeie ondersteuningstruktuur in my familie en vriende gehad."
Williams sê sy pa is in Desember 2007 aan keelkanker dood. Hy het voor dit nog nooit van limfoom gehoor nie.
"Nooit in my wildste drome het ek gedink ek sou deel van die statistieke word nie.
"Ek het nie geweet wat limfoom is nie. Toe die pulmonoloog bevestig dat dit limfoom is en dat dit behandelbaar en geneeslik is, het ek dadelik geweet ek moet my geloof uitdaag en my vertroue in God stel.
"Ek leer elke dag van die siekte en het onlangs twee limfoom-oorwinnaars ontmoet."
Williams, wat nou 'n kankeraktivis is, sê dit is veral belangrik dat mans oor kanker ingelig word.
"Mans praat nie maklik oor hul gesondheid nie en moet aangemoedig word om gereeld vir ondersoeke te gaan. Vroeë opsporing red lewens."
Williams is deur Mitchells Plain Relay for Life benoem en deur die Amerikaanse Kankervereniging gekies as Global Hero of Hope South Africa Class of 2024.
GEBORG
Vacuhealth

Prostaatkanker is een van die siektes wat kan lei tot verswakte bloedvloei na die penis. Dit beteken egter nie die einde van jou manwees nie. Vacuhealth se Vacurect is die ideale oplossing vir ereksieprobleme. Dié vakuum-ereksieapparaat werk deurdat 'n vakuum in 'n silinder geskep word wat bloed na die are in die penis trek om sodoende 'n ereksie te skep.
Vacuhealth is 'n trots Suid-Afrikaanse produk wat op die proef gestel kan word.


















