Welstand

Lewe ná borskanker in ál groter fokus

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: ISTOCK
Foto: ISTOCK

Borskanker is die kanker wat die meeste by vroue gediagnoseer word.

Vroue oorleef langer, het verhoogde remissiekoerse en leef in baie gevalle so lank soos hul kankervrye eweknieë.

Volgens dr. Justus Apffel­staedt, 'n spesialis-chirurg met belangstelling in bors-, skildklier- en byskildkliergesondheid, is "die lewe ná borskanker" gevolglik 'n toenemend belang­rike onderwerp as gevolg van die negatiewe uitwerking van lewensreddende borskankerbehandelings soos kardiovaskulêre toksisiteit, beenverlies en meer.

"Behandeling-geïnduseerde beenverlies is een van die mees goed nagevorste newe-effekte van algemene borskankerbehandelings. Ná die ouderdom van 30 ervaar alle vroue en mans 'n mate van beenverlies - 'n natuurlike gevolg van ver­oudering.

"By vroue is die estrogeenontneming van menopouse 'n bydraende faktor. Tog is dit net sommige vroue wat genoeg been sal verloor om teen-beenverliesbehandeling te kry," sê Apffelstaedt.

Luidens 'n navorsingsartikel wat in die National Library of Medicine gepubliseer is, kry ongeveer 200 miljoen individue in hul leeftyd osteoporose. Osteoporose is 'n ernstige vorm van beenverlies en ramings is dat ongeveer een uit drie vroue broosheid van hul heup, ruggraat of pols sal ervaar.

"Vir vroue wat borskanker­behandeling ondergaan, is dit 'n feit dat sommige van hul behandelings sal lei tot behandeling-geïnduseerde beenverlies."

Vir diegene wat reeds die risiko loop om beendigtheid te verloor kan dit tot frakture lei as behandelings nie van die begin af bestuur word nie.

Frakture verlaag iemand se lewensgehalte, en indien 'n gewigdraende been soos die femur betrokke is, kan dit tot verlies aan mobiliteit lei, en deur komplikasies selfs voortydige dood.

Vroue wat die risiko van versnelde beenverlies loop, sluit in:

  • Rokers;) Oormatige alkoholdrinkers;
  • Diegene met 'n lae liggaamsmassa;
  • Diegene met 'n familiegeskiedenis van nie-traumatiese frakture en rumatoïede artritis; en
  • Diegene met 'n familiegeskiedenis van osteoporose.

"Die konvensionele voorkoming van beenverlies sluit in om op te hou rook, die inname van baie matige hoeveelhede alko­hol en die verhoging van fisie­ke aktiwiteit. Kalsium- en vitamien D-aanvullings word ook aanbeveel, tesame met beendigtheidsifting van die aanvang van menopouse.

"In die geval van vroue wat borskankerbehandelings ondergaan, moet voorkoming van oormatige beenverlies 'n prio­riteit wees."

Post-menopousale vroue en behandeling-geïnduseerde beenverlies

Volgens Apffelstaedt is dit bekend dat die behandelings wat aan beenverlies gekoppel word, aromatase-inhibeerders (AI) is.

AI verlaag estrogeenvlakke deur te keer dat die aromatase-ensiem in vetweefsel ander hormone in estrogeen verander.

Chemoterapie het ook 'n beenverlies-effek.

"Waar gesonde post-menopousale beenverlies ongeveer 'n 1-2%-verandering per jaar behels met AI, verloor post-menopousale vroue been teen ongeveer 2-3% per jaar.

"Volgens die pasiënt se beendigtheid-risikofaktore kan die mediese span verskeie behandelings voorskryf om beenverlies te voorkom en frakture te beperk."

Pre-menopousale vroue en behandeling-geïnduseerde beenverlies

Behandeling met AI by pre­meno­pousale vroue gaan altyd gepaard met eierstokfunksie-onderdrukkers, sê Apffelstaedt.

"Dit veroorsaak 'n kunsmatige menopouse. Chemoterapie-geïnduseerde voortydige menopouse (CIOV) moet ook oorweeg word. Data oor die uitwerking van tamoksifeen is skraps.

"Hierdie algemene medikasie word gewoonlik saam met eierstokfunksie-onderdrukkers of ná chemoterapie gegee. Dit maak 'n beoordeling van die spesifieke uitwerking van die individuele middels op beengesondheid baie moeilik.

"Die goeie nuus is egter dat ten spyte van behandeling-geïnduseerde beenverlies min pre-menopousale vroue behandeling benodig vir ernstige beenverlies (osteoporose), aangesien hulle nader aan hul piekbeenmassa is."

Lewenstylveranderings, aanvullings en gereelde beendigtheidsifting is voldoende vir die oorgrote meerderheid jong vroue. " 'n Beenverliesrisiko-assessering moet deur die mediese span onderneem word voordat vroue met borskankerbehandeling begin. Gereelde beendigtheidstoetse, berading oor lewenstylveranderings en monitering moet deel wees van die behandelingsplan, maar dit word ongelukkig dikwels oor die hoof gesien."

GEBORG

Apffelstaedt, Hoosain & Associates

Apffelstaedt, Hoosain & Associates is 'n multidissiplinêre bors-, skildklier- en paratiroïede sentrum wat omvattende kliniese en beeldvormingsbeoordelingsdienste bied vir enige gesondheids- en kanker-verwante kwessies rakende die bors, skildklier en paratiroïed. Genetiese toetsdienste is beskikbaar en beeldingsdienste sluit 3D-mammografie met KI-gesteunde kankeropsporing en 2D- of 3D-ultraklank in. Ons bied ook 'n individuele tweede opinie diens oor enige bors-, skildklier- en paratiroïedverwante aangeleentheid.

Gesond-Redaksie

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM