Nuus

Neil de Beer sterf aan kanker

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Neil de Beer, leier van die United Independent Movement, wat Saterdag in die ouderdom van 57 jaar oorlede is.
Neil de Beer, leier van die United Independent Movement, wat Saterdag in die ouderdom van 57 jaar oorlede is. (Foto: Argief)

Neil de Beer, leier van die United Independent Movement (UIM), is Saterdag in die ouderdom van 57 jaar dood nadat hy sy stryd teen kanker verloor het.

De Beer, wat in die ou Suid-Afrikaanse Weermag gedien het voordat hy ’n operateur van Umkhonto we Sizwe (die ANC se gewapende vleuel) in die laat jare tagtig geword het, was een van die meer kleurryke politici in die land en sal veral onthou word vir sy passievolle toesprake.

Die UIM is gestig nadat De Beer uit die ANC bedank het omdat hy volgens ’n onderhoud onder meer nie van dié party se standpunt oor die nasionalisering van die Reserwebank gehou het nie.

Neil de Beer
Neil de Beer (Foto: Deaan Vivier)

De Beer was een van die stigterslede van die Veelpartykonvensie, ’n alliansie van verskeie opposisiepartye wat in Augustus 2023 gestig is en net ná verlede jaar se verkiesing ontbind het.

Die UIM kon net meer as 38 000 stemme in die verkiesing op hom verenig.

De Beer het nie ’n geheim van sy siekte gemaak nie en gereeld ander kankerlyers moed probeer inpraat.

John Steenhuisen, leier van die DA en minister van landbou, het Saterdag in ’n verklaring sy meegevoel met De Beer se geliefdes uitgespreek.

Volgens Steenhuisen het Suid-Afrika met De Beer se dood ’n “kragtige stem vir verandering” verloor.

Steenhuisen het gewys op De Beer wat nie veel nonsens geduld het nie en dikwels konfronterend was.

“Hy het baie ontstel, maar ook namens baie gepraat.

“Sy oortuigings en vreeslose persoonlikheid het van hom ’n krag gemaak om mee rekening te hou en hy was ’n waardevolle lid van die Veelpartyhandves.

Neil de Beer
Neil de Beer (Foto: Tebogo Letsie)

More ToolsCancel

“Die DA sal hom altyd met groot toegeneentheid onthou vir die rol wat hy gespeel het in die totstandkoming van die Veelpartyhandves.

“Hy was ’n man van rustelose energie. Mag hy nou ewige rus vind,” sê Steenhuisen.

Dr. Pieter Groenewald, minister van korrektiewe dienste en leier van die VF Plus met die totstandkoming van die Veelpartyhandves, het sy innige meegevoel aan De Beer se familie en geliefdes uitgespreek.

“Ek het Neil leer ken met die Veelpartyhandves in die aanloop tot 2024 se verkiesing,” het Groenewald Saterdag aan Netwerk24 gesê.

“Hy was ’n omstrede politieke leier gegewe sy agtergrond as lid van die ANC en Umkhonto we Sizwe. Neil het egter nooit geskroom om reguit, soms nogal robuus, sy mening en kritiek teenoor die ANC uit te spreek nie.

“Hy het my altyd met respek hanteer en dit was wedersyds. Jy het altyd geweet waar jy staan met Neil. Sy siekte was ’n keerpunt in sy lewe wat sy geloof versterk het,” sê Groenewald.

“Mag hy in vrede rus.”

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM