Welstand

Maak die beste van semi-aftrede

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die semi-afgetredene Retha van den Berg stel voor jy bly aktief. Sy’t so baie gestap dat haar skoensole tydens ‘n staptog losgekom en afgeval het!Foto’s: VERSKAF
Die semi-afgetredene Retha van den Berg stel voor jy bly aktief. Sy’t so baie gestap dat haar skoensole tydens ‘n staptog losgekom en afgeval het!Foto’s: VERSKAF

Het jy al gehoor van semi-aftrede? Dit is bloot die tydperk na jou "wetlike" aftrede. Dit is veral belangrik vir diegene wat nog die energie het om werk te verrig.

Retha van den Berg is een van daardie mense wat besluit het sy het nog hopeloos te veel om te bied toe sy aftree!

Retha is tans 75 en het op 65 by Die Burger afgetree.

"Ná slegs twee maande tuis, het die maatskappy my weer deeltyds op kontrak aangestel, waar ek eers op 71 tydens die inperking halt geroep het!"

Sy glo aan die woorde: "Don't retire, just refire".

Moenie aftree nie, jy moet aantree, sê Retha. "Aftrede gee jou die vryheid van beweging om jou werk in te pas tussen gim-sessies of om na hartelus in 'n koffiewinkel te ginnegaap of lang ente te gaan stap. Dit beteken dat ek kan kies watter werk ek wil aanvaar en om te kan nee sê."

Sy het ook sommer 'n lekker paar werke losgeslaan met die vaardighede wat sy deur die jare aangeleer het. "Ek het 'n lekker sonnige werkhoekie waar ek my taalvaardighede inspan deur proefleeswerk van M-tesisse vir studente aan verskeie universiteite te doen, asook vertaalwerk vir universiteite en sakemanne. Af en toe versorg ek graag die manuskrip van 'n vriend of kennis wat 'n boek geskryf het. Woorde was nog altyd my geneesmiddel; en om te werk, is vir my terapie.

"Tydens die streng inperking het ek selfs honderde maskers aanmekaar gestik deur tafeldoeke, 'n duvet en ou voorskote op te knip! Dit was pret om foto's te sien van iemand wat 'n blou dolfyn van 'n opgeknipte ou tafeldoek oor sy neus dra," skerts sy.

Vir haar was dit belangrik om besig te bly na haar aftrede, want sy sê niemand wil eensaam of nutteloos voel nie.

"Wanneer jy klaar jou huis herorganiseer en ontrommel het, soek jy na nuwe uitdagings. As jy eensaam is, neem kos of 'n tydskrif vir iemand wat siek is of 'n operasie ondergaan het of 'n geliefde verloor het. As jy self 'n verlies gely het, help dit om simpatie te omskep in empatie," sê sy.

"Om iets tasbaar te skep, kweek kreatiwiteit. Maak iets met jou hande, al is dit brei- of hekelwerk. Ek het byna altyd sowat vier stukke breiwerk aan die gang aan 'n serp, mussie, handskoentjies of 'n teddiebeertjie, wat ek dan weggee waar dit nodig is."

Maar hoe bestuur sy haar semi-aftrede? Sy sê jy moet keer dat jy nie te besig raak nie deur rustyd in te werk.

"Die doel van aftrede is tog eintlik om te kan rus ná 'n lang loopbaan."

Die ses-jarige LeRoux Kilian het vet pret saam met sy Ouma Retha.
Die ses-jarige LeRoux Kilian het vet pret saam met sy Ouma Retha.

Tans bied Retha een keer per maand 'n grootgroep-Bybelstudie aan wat sy self moet voorberei. Hul volgende reeks gaan oor idiome uit die Bybel. As deel van 'n knap bestuursgroep reël hulle praatjies, en help sy ook om uitstappies, speletjiesdae en etes vir 'n groot groep seniors by die kerk te reël.

"Nadat ek 'n knievervanging gehad het en 'n kankerletsel van my voet laat verwyder het, het ek weer 'n paar goeie stapskoene gekoop en by 'n stapgroep aangesluit wat op wandelroetes in die natuur gaan stap. My vorige paar stapskoene was so oud dat die sole tydens 'n staptog losgeraak en afgeval het!"

Haar raad aan mense wat onlangs afgetree het, is om vriendskappe te kweek met mense wat jou verryk en om goeie verhoudinge te behou met jou kinders en kleinkinders. "Toe jy jonger was, het jou kinders die vrae gevra en jy het die antwoorde gehad. Nou gee die kinders vir jou antwoorde, en jy weet soms nie eens wat die vrae was nie! Maar hulle is gewoonlik reg."

Sy sê jy moet deel word van 'n vriendekring, klub of groep waar jy nuwe dinge kan ontdek, aanleer, 'n bydrae kan lewer of nuwe vaardighede kan aanleer.

"Ek moes op 70 leer hoe om 'n uurlange PowerPoint-aanbieding op te stel en voor groepe mense te praat. Moenie terugdeins vir verantwoordelikhede nie, al is dit om eetgoed te bestel vir 'n funksie, die spreker te bedank of 'n kaartjie te maak," gee sy raad.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM