Woolworths wat kontantloos gaan word, het 'n ministorm op sosiale media laat losbars. Dis toe darem net hul WCafe-koffiewinkels, maar die feit is ons lewe al hoe meer in 'n kontantlose samelewing. Hoe maak jy jou kind geldslim as hulle nie regtig geld meer sien nie? Ernusta Maralack berig.
As volwassenes is ons deesdae al so gewoond om vir aankope met 'n debiet- of kredietkaart te betaal, of sommer met jou bank-app op jou selfoon. Daar is selfs apps waarop jy al jou lojaliteitskaarte kan laai, wat beteken jy het amper nie eens meer jou beursie nodig nie. Dit lyk of alles teen 'n vinnige pas ál meer virtueel raak.
So, hoe maak jy jou kinders geldslim groot in 'n kontantlose wêreld? En hoe gaan hulle die waarde van geld verstaan en woordsomme kan doen as hulle nie eens weet hoe lyk ons rande en sente in werklikheid nie?
Die term "kontantloos" neem ons egter tot in die klaskamer en in jou kind se wiskundeboeke, omdat Rapport verneem veral leerlinge in die grondslagfase sukkel met geldwoordsomme omdat hulle nie soos hul ouers en grootouers se generasies met rand en sent winkel toe gestuur word nie. Hulle sien net hul ouers tap hul kaarte om te betaal en daar gaan julle. Hulle sien dus nie fisiek hoe jou geld minder raak as jy vir iets betaal nie. Of as jy jou geld in 'n spaarblik spaar, dat jy kan sien dit raak meer nie.
So, hoe maak jy jou kinders geldslim groot in 'n kontantlose wêreld? En hoe gaan hulle die waarde van geld verstaan en woordsomme kan doen as hulle nie eens weet hoe lyk ons rande en sente in werklikheid nie? In 'n land waar die werkloosheidsyfer in die derde kwartaal van 2023 op 31,9% (16,7 miljoen) gestaan het en die ekonomie reeds talle Suid-Afrikaners met hul rûe teen die muur het, is finansiële geletterdheid en om geld van jongs af te verstaan, baie belangrik, meen kenners.
Om met begrip te kan lees,is belangrik vir woordsomme
"As ons na grondslagfase kyk, is dit belangrik om te weet dat kinders eintlik regtig eers in gr. 3 met woordsomme werk. So, in hierdie graad kan leerlinge al lees, maar hulle sukkel om te lees met begrip, wat woordsomme taamlik moeilik kan maak. In gr. 1 en 2 word geld slegs geïdentifiseer," sê Carline Willemse, 'n vakadviseur vir rekeningkunde en ekonomiese bestuurswetenskappe by die Weskus-onderwysdepartement in die Wes-Kaapse regering.
Carline sê voorts om geldvaardighede aan te leer is belangrik omdat kinders die waarde van geld moet verstaan en hoe jy dieselfde hoeveelheid geld kan skep deur verskillende munte en rekeninge te gebruik. Dit help hulle om vir die regte wêreld voor te berei en te verstaan hoeveel dinge kos en hoe om verandering te maak.
Wat woordsomme betref, sê Carline dis oor die algemeen baie moeilik omdat kinders in hul koppe moet kan tel en aftrek. Dit word "geestelike wiskunde" genoem.
"Maar as kinders byvoorbeeld met muntstukke werk, moet hulle ook kan onthou hoeveel elke muntstuk werd is. Sommige kinders verwag byvoorbeeld dat 'n groter muntstuk meer werd moet wees as 'n kleiner muntstuk, wat natuurlik nie altyd die geval is nie. Kyk byvoorbeeld na die Suid-Afrikaanse R1-muntstuk wat kleiner is as die 50c," sê Carline.
Louis van Vuren, uitvoerende direkteur: trustdienste by Finlac, 'n finansiële beplannings-en-adviesdienstemaatskappy, vermoed die probleem met geldwoordsomme is meer 'n gebrek aan uitdrukkingsvermoë en taalvaardigheid as die feit dat ons nie meer so baie met kontant werk nie.
"Kinders moet basiese rekenkunde kan doen voordat hulle geldwoordsomme sal kan doen. Een manier is om, maak nie saak wat die skool sê nie, seker te maak jou kind kan tel en hoofrekene (berekeninge in sy kop) doen. Gebruik tellers (vrugtepitte, albasters, proppies, enigiets) van kleins af om daardie vermoë te ontwikkel. Basiese boekhouding (self al is dit op Microsoft Excel) van uitgawes (selfs aanlyn uitgawes) kan help. Op die ou end is selfs die tel van kontant hoofrekene, want jy moet in twees, vywe, tiene, twintigs, vyftigs of honderde kan tel. As jy hoofrekene kan doen, kan jy jou uitgawes beheer en sal jy woordsomme kan doen," sê Louis.
Verstaan ook die breër skuldprentjie
DebtBusters is 'n Suid-Afrikaanse skuldbestuursmaatskappy, en het in hul skuldindeks vir die tweede kwartaal in 2023 bevind dat inflasie en rentekoerse verbruikers se geldsake aansienlik affekteer. "Die gemiddelde leengrootte het toegeneem met 78% sedert 2016 en 95% van verbruikers wat aansoek doen vir skuldberading in die tweede kwartaal van 2023 het 'n persoonlike lening gehad . . . 'n Gevolg van mense wat geld leen om dit deur die maand te maak, is dat hulle meer van hul inkomste bestee om skuld te delg - gemiddeld 66%," sê Benay Sager, hoof van DebtBusters, op hul webtuiste.
Franscois van Gijsen, uitvoerende direkteur: regsdienste by Finlac, sê soos kinders ouer word, moet hulle toenemend leer van rente en dan saamgestelde rente. Hy meen 'n gebrek aan begrip van die negatiewe uitwerking van rente wat betaal word op geleende geld, kan nie genoeg beklemtoon word nie.
"Ek het 'n ruk gelede die effek met 'n Excel-spreitabel vir my kinders gewys. Ek het ook uitgewys dat jy minder rente by die bank ontvang as wat jy moet betaal wanneer jy by die bank geld leen," sê Franscois.
Hoe kan ouers help?
Volgens Louis moet jy jou kind van kleins af leer dat geld nie onbeperk is nie, selfs al is jy skatryk. Leer hulle die waarde van spaar, rente en saamgestelde rente en beloon hulle vir prestasie. "Jy doen 'n kind geen guns deur nie van kleins af perke en selfdissipline te leer nie. As die ouer self geen selfdissipline het nie, sal die kind dit ook nie leer nie."
Oor hoe ouers hul kinders by die huis kan help, stel Carline rolspel voor. Leer jou kinders om "winkeltjie" te speel.
"Byvoorbeeld, die kind het 'n R10 en Mamma verkoop die bakkie pap vir R6. Hoeveel kleingeld sal die kind oorhê? So, enige vorm van speletjies met geld by die huis sal werk. Ouers moet ook kinders toelaat as hulle by 'n regte winkel kom, om hul eie produkte te koop en dan hul kleingeld na te gaan," sê Carline.
"Deesdae kan jy geldtemplate op die internet kry en kinders kan dit inkleur in die kleure van die Suid-Afrikaanse geldeenhede. Met die muntstukke kan jy jou kind geld in verskillende glaspotjies laat gooi. Leer hulle dat byvoorbeeld tien 10c-muntstukke R1 is."
Carline sê voorts aanlyn bankdienste is belangriker as ooit vir kinders om te verstaan hoe om geld in 'n digitale wêreld te bestuur. Leer hulle oor aanlyn inkopies, die belangrikheid van privaatheid en sekuriteit, en vermy aanlyn swendelary. Moet nooit hul persoonlike besonderhede aanlyn stoor nie.
Bespreek die voordele en nadele van verskillende betaalmetodes soos kredietkaarte, debietkaarte en digitale geldeenhede. Dit is ook van kardinale belang om die realiteit van app-aankope en aanlyn intekeninge te dek, wat vinnig kan vermeerder as dit nie gemonitor word nie. Ouers moet aanlyn aankope kontroleer op hul eie selfone.
"Maak 'n bankrekening vir jou kind oop en betaal 'n deel of al hul sakgeld daarin. Soos hulle ouer word, wys hulle hoe om te kyk hoeveel geld in hul rekening is. Moedig hulle aan om hul balans na te gaan wanneer geld in hul rekening inbetaal word. Net so wanneer hulle bestedingsgeld onttrek. Om te sien hoe hul saldo afneem, kan die beginpunt wees vir 'n gesprek oor ‘bestedingsbehoeftes' teenoor ‘begeertes', en die implikasies vir hul spaargeld wanneer hulle geld uit hul rekening neem. Dit moedig goeie gewoontes aan," sê Carline.
- Bykomende bronne: www.debtbusters.co.za; bizzcommunty.com; www.gov.za.



















