
'n Sangoma is in Limpopo in hegtenis geneem nadat die onthoofde lyke van 'n ma en haar tweejarige dogter in 'n vlak graf gekry is.
Die 38-jarige man is Vrydag in die Muraga-nedersetting buite Thohoyandou in hegtenis geneem, sê kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder in Limpopo.
"Die twee slagoffers se koppe is glo in sy besit gekry," het Ledwaba gesê.
Die polisie ondersoek die moontlikheid dat die 34-jarige vrou en haar tweejarige dogter vir moetie vermoor is.

Die ma is geïdentifiseer as Rendani Tshigwili (34) en die meisie is Ndingatshilidzi Muronga (2).
Hulle het op 19 Mei spoorloos verdwyn en hul familielede het hulle by die polisie as vermis aangemeld.
Die polisie het 'n taakspan saamgestel en in samewerking met speurders van die Thohoyandou-polisie na die ma en haar dogter gesoek.
Leidrade is opgevolg en die polisie het Woensdag op die reeds ontbinde lyke van die ma en haar dogter in 'n vlak graf in die Thohoyandou-gebied afgekom.
Hul koppe is afgekap. Dit is nog nie duidelik waarmee hul koppe afgekap is nie.
Ledwaba sê die polisie het kort daarna Tshilidzi Phalandwa (43), wat glo die vermoorde vrou se kêrel was, in hegtenis geneem.
Balangani Sedzani Tshivhombedze (32), nog 'n man, is ook in hegtenis geneem. Dit is nie bekend hoe hy aan die vrou of die kind verwant is nie.
Hulle het Vrydag op aanklagte van moord in die landdroshof in Thohoyandou verskyn.

Hulle bly in aanhouding totdat hulle op 12 Augustus weer in die landdroshof in Thohoyandou moet verskyn.
Volgens Ledwaba het die polisie Vrydag, voordat hulle die tradisionele geneesheer in hegtenis geneem het, ook 'n 55-jarige man in Hlabeni in Saselamani buite Thohoyandou in hegtenis geneem weens die grusame moorde.
Hy sal Maandag op twee aanklagte van moord saam met die sangoma in die landdroshof in Thohoyandou verskyn.
* In 'n aparte voorval is 'n 20-jarige vrou Vrydag in Bandelierkop buite Louis Trichardt in hegtenis geneem omdat sy glo haar drie maande oue baba vermoor het.
Ledwaba sê die polisie is Vrydagaand na die Vleifontein-kliniek ontbied.
Twee mense het die ma en baba na die kliniek gebring. Hulle het vir die polisie vertel dat hulle vroeër die middag buite die vrou se huis gesit en gesels het.
Sy het glo die kind in haar arms gehad en in die huis gegaan.
Hulle het bekommerd geraak omdat die vrou lank in die huis was en het gaan kyk of iets fout is.
Ledwaba sê hulle het op die vrou afgekom waar sy glo bo-op die drie maande oue meisie gesit het. Sy het die baba glo ook gewurg.
Die twee mense het die vrou en die baba na die kliniek gebring, waar die kind dood verklaar is.
Die ma van die kind is sedertdien in aanhouding en sal Maandag op 'n aanklag van moord in die landdroshof in Louis Trichardt verskyn.
Lt.genl. Thembi Hadebe, polisiekommissaris in Limpopo, het haar skok uitgespreek oor die grusame moorde op die vrou en haar dogter. Die moontlikheid dat nog mense weens die moorde in hegtenis geneem kan word, is nie uitgesluit nie.





















