Misdaad

Vier mans in Nyanga doodgeskiet

Polisie ondersoek die toneel waar vier mense in Nyanga doodgeskiet is.
Polisie ondersoek die toneel waar vier mense in Nyanga doodgeskiet is. (Matjhiding News Updates)

Die polisie se eenheid vir ernstige geweldsmisdaad ondersoek ’n voorval waarin vier mans Saterdagaand in Nyanga doodgeskiet is, vermoedelik in ’n taxiverwante skietvoorval.

Kol. Andrè Traut, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê speurders verbonde aan die polisie se eenheid vir ernstige geweldsmisdaad het Saterdagaand ’n ondersoek begin nadat vier mans tydens ’n massaskietvoorval in Nyanga doodgeskiet is.

Voorlopige ondersoekwerk toon die vier slagoffers het 21:55 in ’n Toyota Avanza langs Ou Klipfontein-weg gereis toe hulle moes stilhou om ’n pap band te herstel.

“Terwyl hulle met die voertuig besig was, is hulle deur ongeïdentifiseerde gewapende mans aangeval wat op hulle begin skiet het. Die slagoffers het noodlottige skietwonde opgedoen en is deur mediese personeel op die toneel dood verklaar,” het Traut gesê.

Die onbekende verdagtes het van die toneel gevlug en is nog nie in hegtenis geneem nie.

Volgens Traut hou die aanval glo verband met die voortslepende taxigeweld, maar die motief sal deel vorm van die polisieondersoek.

Vier aanklagte van moord is deur die eenheid geregistreer en word ondersoek.

Enigiemand met inligting word versoek om die ondersoekspan by die Stop Misdaadnommer, 08600 10111, te kontak. Inligting kan ook anoniem deur die MySAPS-app gegee word. Traut sê alle inligting wat ontvang word, sal met die strengste vertroulikheid hanteer word.

Skietvoorvalle eis minstens 15 sedert einde Junie

Dit is die jongste voorval in ’n reeks massaskietvoorvalle wat skynbaar oor naweke in die Wes-Kaap plaasvind.

Op 15 Julie is ’n 37-jarige man met veelvuldige skietwonde in ’n wit Chevrolet-bakkie in Mazalenistraat, Langrug, Franschhoek, aangetref en op die toneel dood verklaar.

’n Dag vantevore is twee mense in Lavenderstraat, Langrug, by ’n spazawinkel raakgeskiet en hulle is later in die hospitaal dood. By verdere ondersoek is vasgestel dat nog twee mans gewond is, wat beteken dat twee mense dood en twee beseer is.

Op 13 Julie omstreeks 04:40 is twee mense doodgeskiet toe aanvallers in Wesbank, Malmesbury, op ’n groep mense buite ’n woonplek losgebrand het. ’n 22-jarige man en ’n 21-jarige vrou is doodgeskiet en agt mense is beseer. ’n 27-jarige man is in hegtenis geneem.

Op 9 Julie het ’n skietery omstreeks 20:10 op die hoek van Laurastraat en Agtste Laan in Tafelsig, Mitchells Plain, plaasgevind. Drie slagoffers van onderskeidelik 18, 19 en 51 jaar oud is op die toneel dood verklaar, terwyl twee beseerdes (17 en 22 jaar oud) na ’n hospitaal vervoer is.

Kort daarna, om ongeveer 20:30 op 9 Julie, het nog ’n skietery by ’n woning in Marcus Garvey, Philippi-Oos, plaasgevind. Vier slagoffers tussen 17 en 20 jaar oud het aan hul wonde beswyk, terwyl drie ander na ’n hospitaal geneem is.

Op 28 Junie is ’n 41-jarige en ’n 46-jarige vrou en ’n 21-jarige man met noodlottige skietwonde in die informele nedersetting Kanana in Guguletu, naby Kaapstad, aangetref en al drie is op die toneel dood verklaar. Niemand is in hierdie voorval beseer nie.

– jana.breytenbach@24.com

CTA