Drie mans is Vrydagmiddag in Lusaka in die Nyanga-township naby Kaapstad doodgeskiet.
Luidens ’n polisieverklaring het die polisie in Nyanga inligting ontvang van ’n skietery op die hoek van Klipfontein- en Borcherds Quarry-weg in Nyanga. Met hul aankoms het die polisielede die lyke van die drie mans – onderskeidelik 19, 31 en 44 jaar oud – met skietwonde ontdek, enkele meter uitmekaar.
Daar word verder berig dat twee ander mans na ’n nabygeleë hospitaal vervoer is nadat hulle skietwonde opgedoen het.
Die polisie sê die oorledenes se identiteite is nog nie bekend nie.
Drie sake van moord en twee van poging tot moord word ondersoek.
Die motief vir die moorde is nog nie bekend nie en niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.











