Hannele Steyn is die Absa Cape Epic-bergfietswedren se ‘laaste leeuin' - die enigste vrou wat ál 19 die wedrenne sedert 2002 voltooi het. Dit is egter maar net een van hierdie fenomenale vrou se ongelooflike sportprestasies.

'n Mens weet nie regtig waar om te begin wanneer jy 'n storie oor Hannele Steyn skryf nie. Maar kom ek probeer my beste: Springbok-kleure in tweekamp, driekamp, duokamp en ook in padfietsry en bergfietsry. Plus provinsiale kleure in atletiek, veldloop en padwedlope. En dis net die begin . . .
Wat uithourenne betref, was sy die eerste vrou in die Freedom Challenge oor 2 600 km; wenner van die 3 000 km-trans-Afrika-fietswedren en lid van die vrouespan wat die Cape Epic in 2005 gewen het.
Dit wil gedoen wees vir 'n Kalahari-kind, veral een wat gebore is met 'n gaatjie in haar hart. "Ja, die doktors het daardie jare gemaan dat ek geensins intensief sport moet beoefen nie, maar ek het diep in my binneste geweet ek wil eendag 'n sportheldin word," vertel Steyn.
Sport wat 'n spesifieke tegniek vereis het, het nie vastrapplek gekry nie. "Maar hier om en by 13 jaar het ek my vasbyt ewe skielik ontdek. Hoe moeiliker iets geraak het, hoe meer vasberade was ek om nie tou op te gooi nie - en dis hoe my hardloop-ding begin het," glimlag Steyn.
"Ek moet bieg dat ek 'n bietjie langer en harder as enige van die ander kinders begin oefen het en dit was nie lank voor ek sportsoorte soos tweekamp, driekamp en duokamp ontdek het nie. Die hoogste sport was my enigste dryfkrag, met studie (mikrobiologie en genetika), werk en ontspanning wat - soos die meeste van my teenstanders - in die stof gebyt het."
Springbokkleure het gou gevolg in al dié dissiplines en vir 'n paar jaar het Steyn in die VSA en toe Frankryk gebly om professioneel as 'n driekampatleet mee te ding. Fourie Kotze, haar goeie vriend en mentor, het haar aan fietsry bekend gestel en soos gewoonlik was Steyn nie bereid om te poer-poer nie.
"Van nature wil ek wen en het obsessief begin oefen totdat ek Suid-Afrikaanse en Afrika-kampioen geword het en ook Springbokkleure gekry het. Deel van my oefening was om padfietsbyeenkomste te jaag en toe kry ek sommer my nasionale kleure in dié sport ook!"

'n Epiese droom
Steyn se Epic-loopbaan het begin nadat Kevin Vermaak (die stigter van hierdie wêreldberoemde wedren) haar genader het om aan die oorspronklike bergfietswedren oor agt dae vanaf Knysna tot in die Kaap deel te neem. Die res, soos hulle sê, is geskiedenis.
"Dit was in 2004 en ons het as 'n gemengde span tweede geëindig. Toe oefen ek net harder en maak seker dat ons vrouespan in 2005 met die eerste plek wegstap," vertel sy. Sedertdien het sy elke jaar aan dié wedren deelgeneem.
Steyn was egter op soek na haar volgende uitdaging en het dit gevind toe die Epic se Last Lions-klub in 2015 gestig is.
"Dit het in daardie stadium bestaan uit vyf mans en twee vroue, elk met 11 wedrenne op hul kerfstok, en toe begin die kompetisie alweer . . . Hoe dan nou anders?" Ná vanjaar se wedren staan sy skouer aan skouer met twee mans - John Gale en Mike Nixon - as die "laaste leeus" wat nog saam trap.
"Dis ook juis waar my titel as die laaste leeuin van die Epic vandaan kom. Ek het dus die nodige kloue en slagtande en 'n leeuwyfie het nie maanhare nodig nie," lag sy.
As iemand wat al twee dekades deel is van die Epic-familie, is Steyn 'n inspirasie vir ander vroue wat dié monster van 'n wedren wil aanpak.
Hoekom bergfiets?
"Ek is lief vir Suid-Afrika en die natuur en daar is geen beter manier om dit te verken as op 'n fiets nie. Dus was die uitdaging om op 'n bergfiets te jaag en die uithouvermoë wat daarmee gepaard gaan nooit 'n opoffering nie."
Sy beskryf dit as 'n sentrale deel van haar lewensreis waaruit sy talle lesse geleer het.
"Selfs tydens my hartseerste tye was my fiets altyd my beste medisyne en my lyf het gou die fisieke pyn van kliphard ry vergeet. Wat ek wel behou het, was al die lekker herinneringe . . .
"En ek moet sê, ná meer as vyf dekades se opstaan, eet, oefen, slaap en herhaal, is daar nou 'n boek in my wat wag om uit sy nate uit te bars.
"Ek dink my onwrikbare wil om aan te hou tot die bitter einde is as gevolg van hartseer dinge wat ek as kind beleef het. Ek wil nie nou die besonderhede deel nie, maar daar was tye waar ek geen beheer oor my lewe gehad het nie. Sport het my egter die kans gegee om vlymskerp te fokus en van al die ander dinge te vergeet," verduidelik sy.
Sommige mense - veral diegene wat Steyn nie goed ken nie - dink dalk sy het weens haar streng oefenprogram 'n groot deel van die lewe misgeloop, maar sy meen dis glad nie waar nie. "Sedert my tienerjare het ek nooit 'n lewe geken waar ek nie elke dag vir ure lank geoefen het nie, maar my grootste vryheid het ek nog altyd op my fiets ervaar."

Haar oefenprogram
Steyn benadruk dat haar oefenprogram oor die jare verander het. Twee dekades gelede was dit "soveel as moontlik en so hard as moontlik". Sy het toe 'n vaste program gevolg en vertel sy het haarself altyd langer en harder as haar teenstanders gedruk.
"My mantra was om vriende te maak met pyn, want die atleet wat pyn die langste kon geselskap hou, sou vir seker seëvier. Deesdae is my lewensfilosofie 'n bietjie anders en nou oefen ek eerstens vir my gesondheid en tweedens omdat ek dit geniet. Ek het seker maar 'n bietjie sag geraak, want ek ry nie meer in die reën, koue, of donkerte nie, maar oefen wel steeds elke liewe dag, want die volgende Cape Epic wag, en hy ken geen genade nie, selfs nie vir 'n ou strydros soos ek nie."
Ja, erken sy, soms noem van die ander fietsryers haar deesdae "tannie", maar sy is iemand wat haar ouderdom met albei arms omhels.
"My beste vriendin, Anneke Whelan, het gehelp om my te leer om my lyf meer genadig te wees - en dis 'n vreedsame gevoel."
'n Fyn balans
"Ek is eintlik 'n introvert en 'n alleenmens en miskien 'n bietjie te obsessief en perfeksionisties. Dit gaan gelukkig hand aan hand met 'n onstuitbare passie vir enigiets waarin ek glo en hoe ouer ek word, hoe beter raak ek met daardie fyn balans."
Die realiteit van oudword begin wel een of ander tyd 'n rol speel in sport en Steyn het besef dat sy nie vorentoe baie beter gaan presteer nie. "Wat ek wel kan voorkom, is om té vinnig sleg te word, so nou wil ek net die beste bergfietsryer wees wat 'n mens op my ouderdom kan wees. Dit gaan vir my nou meer oor my liefde vir die sport en ook die dryfkrag om gesond te bly en gesond te voel."
Hierdie soeke na fisieke en emosionele welsyn speel 'n kritieke rol in Steyn se lewe en het in 2015 gelei tot die stigting van Passion4Wholeness (P4W), 'n maatskappy wat pap, muesli, skommels en ander gesonde ontbytkos ontwikkel en vervaardig.
Oor die jare het P4W sy eie produkte ontwikkel, maar die maatskappy is ook verantwoordelik vir die Simple Truth-muesli wat 'n mens in winkels soos Checkers sal vind.
"My maatskappy-logo is 'n hartjie met 'n gaatjie in wat my elke dag herinner hoe gelukkig ek is om gesondheid as so 'n groot lewensgeskenk te hê."
- Marais is 'n avontuurskrywer en bekroonde fotograaf van Kaapstad.
Sweet en eet
"Maandae gim en swem ek, dan pak ek die pad Dinsdae en Vrydae op my gruis-fiets. Naweke los ek oop vir speel op my bergfiets, solank as wat ek kan of lus voel en waar ook al my fiets en vriende my mag neem," sê Steyn.
Haar dieet sluit koolhidrate in, maar sy vermy komplekse koolhidrate.
Sy probeer sover moontlik van verwerkte voedsel wegbly en poog om natuurlike kosse so "naby aan die grond" as moontlik te eet.
Sy eet proteïne wat van diere en plante afkomstig is, asook groente, vrugte en kruie, maar vermy suikers, transvette, souse en wegneemetes.
Epiese raad
Oorweeg jy om in te skryf vir die Cape Epic? Dié wedren vind van 18 tot 24 Maart 2024 plaas.
Hier is Steyn se raad aan voornemende deelnemers:
- Hoekom wil jy dit doen? Skryf dadelik vir jouself 'n motivering;
- Kry 'n oefen- en eetplan;
- Sê vir eers koebaai vir jou sosiale lewe;
- Maak groot beloftes aan geliefdes oor wat jy alles ná die Epic saam met hulle gaan doen; en
- Maak vriende met die pyn.















