Welstand

Outisme: Daar is hoop vir jou kind

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Ilana het vroeg ingegryp met haar seuns se diagnose. David werk deesdae in ’n bakkery waar hy self brood en koekies bak en naweke sop en brood aan minderbevoorregtes uitdeel.
Ilana het vroeg ingegryp met haar seuns se diagnose. David werk deesdae in ’n bakkery waar hy self brood en koekies bak en naweke sop en brood aan minderbevoorregtes uitdeel.

Gesinne met kinders op die outismespektrum het elkeen 'n ander uitdaging, want byna elke kind by wie dit gediagnoseer is, toon ander gedrag. Maretha Botes het met kenners gesels oor opsies met terapie.

Susan Boyle, Anthony Hopkins en Courtney Love. En gaan delf jy selfs verder in die geskiedenis kan jy name byvoeg soos dié van Albert Einstein, Charles Darwin, Emily Dickinson, sir Isaac Newton en Leonardo da Vinci en nog meer. Almal het een ding in gemeen - hulle is op die outismespektrum.

Susan Boyle, Anthony Hopkins en Courtney Love. En gaan delf jy selfs verder in die geskiedenis kan jy name byvoeg soos dié van Albert Einstein, Charles Darwin, Emily Dickinson, sir Isaac Newton en Leonardo da Vinci en nog meer. Almal het een ding in gemeen - hulle is op die outismespektrum.

Outismespektrum-versteuring (OSV) is 'n ingewikkelde neurologiese groep toestande wat iemand se sosiale, kommunikasie- en kognitiewe vermoëns beïnvloed. Ons weet daar is nie net een tipe outisme nie, maar verskeie sub-tipes en die meeste word beïnvloed deur verskeie genetiese en omgewingsfaktore. Daarom het elke persoon met outisme duidelike sterkpunte en uitdagings. Die manier waarop mense met outisme leer, dink en probleme oplos, strek van hoogs vaardig tot erg beperk.

In 1985 was vier uit elke 10 000 kinders op die spektrum. Vandag is die statistieke een uit elke 36 kinders in Amerika, volgens die Centers for Disease Control and Prevention. OSV kom voor in alle rasse-, etniese en sosiaal-ekonomiese groepe. In Suid-Afrika is statistieke vir OSV vaag, maar verskeie bronne teken aan dat 'n geraamde 2% van die Suid-Afrikaanse bevolking op die outismespektrum is.

Tog verstaan baie mense vandag steeds die toestand verkeerd.

Talle navorsers en kenners sê jy kan met die regte ingryping en onderrigprogram iemand sover kry dat hulle geen outismesimptome meer toon nie. Daar is al hoe meer bewyse en gevalle van mense wat ná ingryping van die spektrum afgehaal word. In ander gevalle, waar iemand erg outisties is, kan jy so 'n persoon 'n goeie lewe gee deur vroeë ingryping, en deur agterstande en uitdagings met terapie en dieet te hanteer.

Twee van Ilana Gerschlowitz se seuns is outisties, maar sy sê daar is altyd hoop. By haar van links is haar man, Martin, Eli, David en Aaron.
Twee van Ilana Gerschlowitz se seuns is outisties, maar sy sê daar is altyd hoop. By haar van links is haar man, Martin, Eli, David en Aaron.

Gedragsanalisering kan dalk help

Ivar Lovaas, 'n Noorweegs-Amerikaanse kliniese sielkundige, en sy kollegas maak gebruik van sogenaamde toegepaste gedragsanalisering (of ABA - applied behavioural analysis) en hulle het 47% van die kinders wat in sy program was, suksesvol in die hoofstroom geïntegreer.

Ilana Gerschlowitz van Johannesburg is die skrywer van die boek Saving My Sons: A Journey with Autism. Sy is ook direkteur van The Star Academy, wat geïndividualiseerde opvoedingsplanne vir kinders met outisme bied en ook van ABA gebruik maak.

Ilana het drie seuns, David (21), Eli (19) en Aaron (11). Outisme is by sowel David as Aaron gediagnoseer toe hulle peuters was. David het erge outisme en sal vir die res van sy lewe by sy ouers bly en van hulle afhanklik wees.

Aaron het ná intensiewe terapie en opvoedkundige programme op ses jaar so herstel dat hy bogemiddeld in sy IK-toets gevaar het, en bogemiddelde uitslae in sy assessering deur 'n opvoedkundige sielkundige. Hy kon na 'n hoofstroomskool gaan sonder bystand van 'n oppasser.

"Die diagnose het beteken dat Aaron ‘ononderskeibaar' is van sy maats, en spesialiste geen verdere simptome kon waarneem wat op outisme dui nie," sê Ilana.

Vroeë diagnose en vroeë ingryping

Ilana glo hoe vroeër 'n kind gediagnoseer kan word en hoe vroeër ingryping plaasvind, hoe beter. Aaron en David is albei op 17 maande gediagnoseer. Altwee het so gou moontlik ná hul diagnose begin met ABA en 'n program wat elkeen se unieke vaardigheidsontwikkelings­uitdagings die hoof gebied het.

Vir David het dit beteken dat hy vandag 'n goeie kwaliteit lewe het. Hy werk daagliks in 'n bakkery waar hy self brood en koekies bak en naweke sop en brood aan minderbevoorregtes uitdeel.

"As ons nié vroeg met intervensie en terapie begin het nie, sou David se lewe waarskynlik anders gelyk het.

"Sy gesproke kommunikasie is minimaal, maar hy het geleer om deur middel van 'n tablet sy behoeftes met ons te kommunikeer. Hy kan soggens self opstaan en aantrek, sy tande borsel, bad en hare was. Ons is 'n gelukkige familie," sê Ilana.

Vir Aaron het vroeë ingryping beteken dat hy vandag normaal funksioneer, vry van simptome wat hom op die outismespektrum plaas.

"As jy outisme se gevaarligte vroeg in 'n kind se lewe opmerk, beteken dit ontwikkeling in sekere areas het opgehou, of daar is regressie in sy ontwikkeling. Met Aaron het ons gesien hy reageer nie meer op sy naam nie, hy het nie oogkontak gemaak nie, het uitdagings met spraak gehad en om taal te verstaan. Ons het hom dadelik op 'n spesiale dieet gesit - glutenvry - want ons weet daar is 'n gut-brain-konneksie en dat dieet ook 'n rol in outisme speel.

"Saam met die regte spesialiste kon ons vasstel daar was kosallergieë, inflammasie en dat hy immuun-ondersteuning nodig gehad het. Dit het vier jaar geneem. Hy het sy outisme-diagnose op ses jaar ‘afgeskud'."

Daar is hulp vir ouers en kinders

Annalies van Rijswijk is die direkteur van Snap (Special Needs Adapted Program), 'n sentrum waar ouers en hul kinders op die spektrum individueel gehelp word met werksessies en getutor word.

Annalies en haar span het al kinders van oral in Suid-Afrika en 43 lande oor die wêreld heen gehelp.

"Ons voed ouers op oor die tipe dieet waarby hul kind sal baat vind en aanvullings om te gebruik.

"Daar word aandag aan gedrag gegee, ons gee hulp met toiletbeheer, tafelmaniere, uitstappies, inkopies doen, hare sny en ander ontwikkelingsmylpale word hanteer."

Sy sê talle kinders wat by Snap geland het, en wie se ouers vertel is dat daar nie hoop is vir hul kinders nie, het ná intensiewe ingryping wel in die hoofstroom beland.

Baie van dié kinders het vandag universiteitsgrade, werk en het gelukkige en gesonde gesinne van hul eie.

Haar en Ilana se boodskap aan mense wie se kinders 'n outisme-diagnose ontvang het, is dat daar hoop is. "As jy vanuit die staanspoor glo dat die kind nie iets kan doen nie, ontneem jy hom van sy geleenthede om te leer en om sy volle potensiaal te bereik."

Mites oor outisme

  • Kinders met outisme is verstandelik gestrem.
  • Hulle is almal savante (slegs omtrent 5% het die savantvaardigheid met superieure vaardighede).
  • Wanneer 'n kind slegs gematig outistiese eienskappe toon, benodig hulle nie intensiewe ingryping nie.
  • Outistiese kinders maak glad nie oogkontak nie.
  • Hulle sal nooit kan praat nie (sommige kinders het dispraksie, wat slegs beteken dat dit langer sal duur om te praat.)

Vroeë tekens

  • Vroeë tekens wat dui dat jou kind moontlik 'n assessering nodig het, kan insluit wanneer jou baba of kleuter nie:
  • * Oogkontak maak nie.
  • * Nie terug glimlag wanneer jy vir hom glimlag nie.
  • * Nie op sy naam reageer nie, of op die klank van 'n bekende stem reageer nie.
  • * Voorwerpe met sy oë volg nie.
  • * Wys of totsiens waai, of ander gebare gebruik om te kommunikeer nie.
  • * Nie die beweging volg wanneer jy na iets wys nie.
  • * Geluide maak om jou aandag te kry nie.
  • * Jou bewegings en gesigsuitdrukkings namaak nie.
  • * Na jou uitreik om opgetel te word nie.
  • * Met ander speel of geniet om aktiwiteite te doen nie.
  • Kyk hier vir hulp:
  • www.snap.org.za
  • www.thestaracademy.co.za
  • www.autismspeaks.org
  • www.autismwesterncape.org.za

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM