Ja, kruie en speserye kan ’n vaal maaltyd in ’n fees omtower. Maar dit kan nog baie meer doen as om net jou smaakknoppies te trakteer. In die winter kan hierdie geurmiddels veral nuttig wees!
Brandrissies
Die einste chemiese stof wat aan rissies hul "byt’’ gee, beskerm die liggaam teen vry radikale, wat selle beskadig en verbind word met van kanker tot hartsiektes. Dit desensitiseer ook senuwees in die vel en kan só pyn verlig. Eet dit gereeld en dit kan ná ’n maaltyd ’n uitwerking op jou insulienvlakke hê en help om jou bloedsuikervlakke te stabiliseer. Dit stimuleer die vorming van maagsure, wat bakterieë kan help beveg. As jy gereeld aspirien drink, kan brandrissie ook moontlike skade aan jou maagwand verminder.
Kaneel
Dit word in tradisionele Chinese medisyne gebruik vir naarheid, ’n opgeblase maag en winderigheid. Navorsing wys dit kan die bloedsuikervlakke stabiliseer – en só tipe 2-diabetes help voorkom. Bloedsuikerskommelinge maak jou ook honger en kwaai. Gebruik egter liefs ’n kaneel-ekstrak (beskikbaar by gesondheidswinkels) daarvoor.
Neutmuskaat
Studies wys neutmuskaat is doeltreffend teen skadelike bakterieë in kos soos E.coli, wat dit nuttig as preserveermiddel maak. Dit bevat ’n chemikalie wat ’n soortgelyke werking as antidepressante het. Dit kan dalk verklaar waarom neutmuskaat tradisioneel vir angs gebruik is. ’n Stof daarin kan dalk ook bloedklontvorming en dus hartaanvalle voorkom. Die gemaalde spesery sowel as die olie word in tradisionele medisyne gebruik vir winderigheid en ’n opgeblase maag.
Knoffel
Dis een van die wêreld se oudste genesende kruiesoorte en ook die een wat al die meeste nagevors is. Dis ’n natuurlike antibiotikum en help om die vlakke van "slegte" cholesterol asook hoë bloeddruk te verlaag. Boonop lyk dit asof dit jou risiko vir maagkanker kan verminder, dis ’n doeltreffende ontsmettingsmiddel én dit kan jou bloed verdun (wat jou risiko vir ’n hartaanval en beroerte verlaag). Kap of kneus dit om die genesende bestanddele te onttrek. Kou aan pietersielie en salie om jou asem daarna te verfris.
Gemmer
Dit word tradisioneel gebruik as beskerming teen infeksies van die asemhaling- en spysverteringstelsel. Ook vir winderigheid en slegte spysvertering. Dis bekend as teenvoeter vir karsiekte asook naarheid weens voedselvergiftiging en gastroënteritis. Dis anti-inflammatories en word ook ingespan vir artritis.
Origanum
Dit het 42 keer soveel antioksidante as appels en 12 keer meer as lemoene! ’n Chemiese stof daarin kan dalk kanker beveg. Dit het boonop anti-inflammatoriese eienskappe wat jou gewrigte gesond hou en artritispyn kan verlig. Dis ook ’n goeie bron van kalsium, magnesium, kalium en sink.
Borrie
Borrie word eeue lank in volksmedisyne gebruik. Die wetenskap ontdek nou ’n groeiende lys van siektes waarvoor dit dalk voordelig kan wees, insluitende alzheimersiekte en depressie.













