'n Seldsame tipe bloedkanker is vroeër vanjaar by Andrew Ross, 'n mediese dokter en dosent van KwaZulu-Natal, gediagnoseer. Hy red lewens, nou hoop hy iemand anders kan hóm help, skryf Maretha Botes.
Om te hoor jy het slegs 'n paar maande oor om te leef, is iets waarop niemand jou voor kan berei nie - nie eens as jy self 'n dokter is wat elke dag basies werk met sake van die lewe en dood nie.
Om te hoor jy het slegs 'n paar maande oor om te leef, is iets waarop niemand jou voor kan berei nie - nie eens as jy self 'n dokter is wat elke dag basies werk met sake van die lewe en dood nie.
Dis die werklikheid wat dr. Andrew Ross moet hanteer nadat 'n seldsame tipe bloedkanker vroeër vanjaar by hom gediagnoseer is. Dié kanker verhinder dat sy liggaam witbloedselle vervaardig.
Sy enigste hoop is 'n stamseloorplanting. Daarsonder het hy hoogstens tot April volgende jaar om te leef.
Sy storie is 'n pleidooi vir duisende mense oor die wêreld heen wie se enigste hoop op 'n tweede kans 'n gepaste stamselskenker is. Stamselbehandeling is tans die enigste manier om bloedkanker te behandel.
Volgens Deutsche Knochenmarkspenderdatei (DKMS), 'n Duitse beenmurgskenkersentrum met takke oor die wêreld heen, ook in Suid-Afrika, word bloedkanker elke 72 minute gediagnoseer by iemand in Suid-Afrika. Jou kans om 'n gepaste skenker te vind is egter maar 1 uit 100 000.
Ross (62) sê: "Ek deel my storie, want elke stamselskenker is hoop vir iemand, iewers in die wêreld, by wie bloedkanker gediagnoseer is. Ek wil mense aanmoedig om as skenkers te registreer."
Ross en sy vrou, Glenys (60), woon in Durban. Hulle het twee volwasse seuns, Michael (27) en Jonty (25), en Kait, 'n skoondogter (23) - 'n hegte familie wat diep spore in hul gemeenskap trap.
Ross se wêreld is egter in Maart omver gegooi gedurende 'n vingerpriktoets toe hy wou bloed skenk - iets wat hy twee tot drie keer 'n jaar doen. Sy hemoglobienvlakke was kommerwekkend laag. Hy was eers nie te bekommerd nie, want dit kon moontlik dui op iets kleins soos 'n bloeiende poliep iewers in die dermkanaal. Hy het 'n volbloedtelling laat doen, wat tot 'n rits toetse aanleiding gegee het. Behalwe vir 'n lae hemoglobientelling, was sy witbloedsel- en bloedplaatjietelling ook laag. Eindelik is 'n beenmurgbiopsie gedoen en is hoërisiko- miëlodisplastiese sindroom (MDS) by Ross gediagnoseer. Sou hy nie stambehandeling kry nie, is sy lewensverwagting tussen ses en 15 maande.
Die nuus het dié dokter, wat sy lewe daaraan wy om ander te red, bemoedig en hoop te gee, soos 'n vuishou in die maag getref.
Siekte bekruip hom
Daar was geen tekens of simptome dat MDS in sy lyf skuil nie. Selfs in sy onderhoud met Rapport wat via Zoom plaasgevind het, het hy blakend gesond gelyk. Was dit nie vir die vingerprik nie, het hy bes moontlik te laat uitgevind van sy siekte, met te min tyd om 'n skenker te probeer kry.
Hy sê: "Ek voel goed. En dís die ding met hierdie kanker. Teen die tyd wat jy besef jy is siek, wanneer jy een of ander infeksie kry en jou liggaam nie daarteen kan veg nie (want jy het nie witbloedselle nie), is dit te laat en het jy min tyd om toetse te doen, diagnoses te maak en skenkers te soek."
Ross het kort voor sy onderhoud met Rapport vasgestel dat die DKMS 'n gepaste skenker vir hom in Brittanje opgespoor het. Dié skenker is een van net meer as 10 miljoen potensiële skenkers wat op hul databasis geregistreer is. Ross se stamseloorplanting sal na verwagting in Desember in Pretoria plaasvind. Hy en sy gesin se harte borrel oor van dankbaarheid oor die vooruitsig van 'n tweede kans. Intussen daal sy bloedseltelling amper weekliks en met elke bloedtoets is dit laer as die vorige keer.
"Enigiets kan in vyf weke gebeur. Die onsekerheid is maar 'n nare ding," sê Ross. Hy ontvang die afgelope drie maande chemoterapie om te verhinder dat hy miëloïede leukemie ontwikkel, 'n risiko van MDS. Indien dít sou gebeur, moet die leukemie eers behandel word voordat 'n oorplanting kan plaasvind.
Ross mentor steeds sy 10 doktorsgraadstudente aanlyn. Iets wat hom konstruktief besig hou terwyl Glenys, 'n fisioterapeut, bedags doenig is by haar organisasie sonder winsbejag waar sy ma's met serebraal gestremde kinders help.
Hy vertel hulle sukkel nog om die werklikheid en die omvang van sy diagnose te verwerk. "Waar begin 'n mens? Dit is werklik moeilik om te beskryf hóé so iets jou raak. Om te hoor hoe kort jou tyd op aarde is, is iets waarop niemand jou kan voorberei nie. Dis oorweldigend. Ons vind hoop in ons geloof. Ons hou vas aan die wete dat God in alles met ons is. Ons het 'n waardevolle ondersteuningsnetwerk wat ons dra. Maar daar is altyd onderliggende spanning en kommer. Ons besef enigiets kan voor en ná die oorplanting gebeur," sê Ross.
Hy het besluit om sy storie in 'n missie van hoop te verander om bewustheid oor die lewensreddende impak van stamseloorplanting te skep.
"Selfs al red die oorplanting nie my lewe nie, kan my storie steeds iemand anders s'n red," sê Ross.
Die wonder van stamseloorplanting
"Daar bestaan vele wanopvattings oor stamselle en stamseloorplantings, maar dit is noodsaaklik om te verstaan wat stamselle is, hoe mense gepaste skenkers vind en hoe 'n oorplanting werk om die stigma oor die gebruik van stamselle te breek," sê Theo Gerdener, 'n kliniese bloedkundige en mediese direkteur by DKMS Afrika.
Stamselle word deur die rugmurg geproduseer. Dit is ongespesialiseerde selle wat dus "nog nie besluit het watter tipe selle hulle wil wees nie".
"Gespesialiseerde selle is byvoorbeeld hart-, spier- en velselle. 'n Stamsel kan enige gespesialiseerde sel word en kan self vernuwe deur oor lang tye heen te verdeel.
"Daarom het ons almal genoeg stamselle om te skenk, sou jy 'n gepaste skenker vir iemand met bloedkanker wees," verduidelik Gerdener.
Baie mense dink hulle sal 'n gepaste skenker in hul familie kry, maar dit is dikwels nie die geval nie.
Gerdener sê slegs 25% bloedkankerlyers vind 'n gepaste skenker onder familielede. Daarom is dit so belangrik om as skenker te registreer en deel van DKMS se databasis te word.
Dis baie maklik om op hierdie databasis te registreer. As jy tussen 18 en 55 is, gaan na DKMS Afrika se webwerf en beantwoord 'n paar kort vrae om te bepaal of jy veilig sal kan skenk.
As jy in aanmerking kom, sal 'n koerier kosteloos 'n depper-kissie (swab kit) by jou kom aflaai. Jy vee met die stokkie in die binnekant van jou mond en wange en die koerier sal dit weer binne vyf dae by jou kom haal.
Die deppers word ontleed om te bepaal wat die karaktereienskappe van jou menslike leukosiet-antigene (MLA) is, want dít moet byna 100% ooreenstem met dié van die kankerlyer.
Sodra jou deppermonsters ontleed is, word jy op DKMS se databasis van skenkers geplaas en is jy beskikbaar vir pasiënte wat 'n skenker nodig het.
Op dié manier gee jy 'n bloedkankerlyer 'n tweede kans op die lewe.
"Moenie jou gesondheid as vanselfsprekend aanvaar nie. En as jy kan help, help waar jy kan. DKMS is 'n goeie beginpunt," sê Ross.
- Besoek www.dkms-africa.org.


















