Fay van Eeden deel 'n paar wenke om hierdie jaar se terug skool toe 'n gesonder een vir die kleinspan en die planeet te maak.
Met die skoolvakansie wat tot 'n einde gekom het (vir party van ons nie vinnig genoeg nie) is dit terug skool toe en die begin van besige programme. Ons gesin het besluit om 2024 'n gesonder en groener jaar in ons huis te maak. Daarom moes ek planne beraam om hierdie jaar se terugkeer skool toe en ons benadering vir die res van die skooljaar anders aan te pak. Hier is 'n paar van my gunsteling-idees.
1. Moenie wag tot die laaste minuut nie
Die begin van 'n nuwe skooljaar kan vir kinders én ouers 'n spanningsvolle tyd wees. Veral as 'n mens geneig is om alles op die nippertjie te doen. Hierdie jaar gaan anders wees. Moenie wag tot die aand voor die skool begin om die penneblikke en tasse te merk en te pak nie, of dit selfs te los tot wanneer die skool reeds begin het nie.
Doen dit sommer môre, dit sal sorg vir 'n rustiger begin. Dink solank oor wat in die kosblikke gepak gaan word. Vooruitbeplanning sal sorg dat jy nie op die laaste minuut in die winkels inhardloop en ongesonde en duur kosblikhappies koop nie. Gee jouself 'n dag of twee om 'n paar kosblikhappies vooraf te maak.
2. Als hoef nie nuut te wees
Leer jou kinders van kleintyd af dat, ten spyte van wat die verbruikerskultuur ons wil wysmaak, daar niks fout is om tweedehandse items te koop nie. Inteendeel, dit is goed vir ons planeet en sak. Vind uit by die skool of daar 'n klerebank is waar "min gebruikte" klere gewoonlik teen 'n fraksie van die prys verkoop word. Kyk ook uit vir tweedehandse klere, boeke, legkaarte en tasse op gemeenskapsgroepe. Natuurlik kan klere en boeke ook van ouer niggies en neefs, maatjies of bure geërf word.
3. Neem eers voorraad
Neem eers voorraad van wat julle het voordat julle met die lang lys benodigdhede die winkels invaar. Jy mag dalk verbaas wees oor wat daar reeds in die huis is. Koop saam met ander gesinne skryfbehoeftes in grootmaat en deel die koste.

4. Skryfbehoefte-alternatiewe
As julle skryfbehoeftes aanskaf, oorweeg ekovriendelike alternatiewe. Loer gerus na msulwalife.co.za se oulike planeetvriendelike skryfbehoeftereeks. Ek is gaande oor hul saadpotlode. Die punt van hul gryspotlood is gevul met saadjies. In plaas daarvan om die opgeskryfde potlood in die asblik te gooi, kan die potlood geplant word. Kies uit 'n verskeidenheid sade - laventel, basiliekruid, aarbeie en kersietamaties, om maar 'n paar te noem. Plastiek-merkpenne ( wat maklik uitdroog en dan weggegooi word, kan met 'n merkpotlood van hout en was vervang word. Beskikbaar aanlyn by shopzero.co.za.
5. Saamry of stap
Bespaar brandstof (en verminder uitlaatgasse) en reël rybeurte met 'n gesin in jou buurt. As julle naby die skool bly, stap sommer saam skool toe.
6. Hoe gemaak met toebies?
Vervang kleefplastiek en plastiek-toebroodjiesakkies met 'n goeie gehalte kosblik, soos Yumbox se kosblikke. Dis van vlekvryestaal en die klein afskortings maak dit maklik om gesnyde vrugte saam met brood in te pak. Dis beskikbaar by www.cloudandco.co.za. Toebroodjies kan ook in beeswax wraps toegedraai word. Dié produk van byewas kan herhaaldelik gebruik word en met die hitte van jou hande gevou en gevorm word.
7. Gesonder kosblikhappies
Die meeste snoephappies en droë vrugte word in enkelgebruik-plastiek verpak. Daarom het ek besluit om van Sussa se snoephappies self te maak. 'n Paar dosyn tuisgebakte volgraanmuffins in die vrieskas maak vir 'n vinnige en gesonde middagete. Oondgedroog, gesoute kekerertjies is ook 'n lekker kosblikhappie. Ek hou ook daarvan om my eie vrugterol te maak. Hierdie tuisgemaakte vrugterol is nie net 'n gesonder opsie vir die kleinspan nie, maar sorg ook vir 'n plastiekvrye kosblik, wat beter is vir die omgewing.
8. Water in plaas van sappies
Hierdie jaar maak boks-sappies plek vir 'n herbruikbare bottel water. Nie net is water gesonder nie, maar jy verminder ook die vullis wat jou kleinding se kosblik genereer, aangesien daardie sap se kartonhouer en strooitjie nie herwin kan word nie. Die meeste winkels bied 'n verskeidenheid prettige herbruikbare waterbottels vir kinders. Zoku se vlekvryestaal-waterbottel werk lekker. Beskikbaar by Yuppiechef.com.
9. Doen saam inkopies
Neem die kleinspan om inkopies te doen en soek saam na die mees planeetvriendelike verpakking. Probeer om nie verpakte groente, vrugte en gebak te koop nie. Neem lapsakkies saam om die los groente, vrugte en gebak in te verpak, sodat julle nie van daardie dun plastieksakkies huis toe hoef te neem nie.

10. Maak 'n herwinningshoekie
Herwin blikkies, glas, papier en plastiek. Koop of maak houers en maak 'n herwinningshoekie iewers op jul erf. Leer saam die herwinningsnommers op plastiekverpakking (nommers 1 en 2 word wyd herwin). Maak 'n punt daarvan om in die winkel te kyk of 'n produk se verpakking herwinbaar is.
11. Begin 'n komposhoop
'n Komposhoop of erdwurmplaas maak baie ekologiese sin as jy in ag neem dat 'n derde van huishoudelike vullis organies is. Dit is ook 'n praktiese manier om vir kinders van die ontbindingsproses te leer. Doen saam op die internet navorsing oor die opsie wat die beste vir julle gaan werk.
12. Plant 'n groentetuin
'n Groentetuin is 'n geleentheid om jul huishouding se koolstofvoetspoor te verminder en ook 'n wonderlike manier om vir kinders te leer waar die kos in hulle kosblik vandaan kom.
- Fay van Eeden is 'n vryskutskrywer en 'n volhoubaarheidsblogger. Volg haar op Facebook en Instagram by @enroutefoodie.

Maak jou eie koejawelrol vir 'n snoephappie:
- Meng 2 koppies gekapte koejawel, 'n ¼ koppie heuning en die sap van 'n halwe suurlemoen in 'n voedselverwerker. Smeer dit in 'n dun laag op 'n silikonvel en bak vir twee uur in die oond teen 100 °C. Sny in repe terwyl nog warm en rol.





















