Die matriekuitslae is pas bekend gemaak. Terwyl sommige jubel, is daar ook dié wat deur reuse-teleurstelling in die gesig gestaar word. Wat doen jy as jou kind se punte minder goed is, of selfs druip? En hoe beïnvloed die laat uitreiking van uitslae verdere beplanning? Maretha Botes stel ondersoek in.
Van kleins af hoor jy jou matriekuitslae kan jou toekoms maak of breek. Nou staan jy by die pylvak en jou uitslae is alles behalwe wenslik. Wat nou? Onderwyskenners sê hoewel dit 'n geweldige terugslag is, daar talle opsies is om te oorweeg.
Indien jou uitslae nie na wense is nie, of jy selfs gedruip het, het jy die keuse om antwoordstelle teen betaling te laat hernasien, sekere vakke oor te doen, of die hele jaar te herhaal en só steeds jou professionele drome na te streef.
Johan Louw, 'n opvoedkundige sielkundige en loopbaanadviseur van Pretoria, meen die eerste stap is om 'n tree terug te neem en jou opsies te herevalueer. Dit is ook belangrik om te kyk wat die rede was vir onderprestasie.
Indien jou uitslae nie na wense is nie, of jy selfs gedruip het, het jy die keuse om antwoordstelle teen betaling te laat hernasien, sekere vakke oor te doen, of die hele jaar te herhaal en só steeds jou professionele drome na te streef. Aansoeke vir die hernasien van antwoordstelle kan by jou skool of die distrikskantoor van die departement van onderwys gedoen word. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 2 Februarie.
Uitslae laat uitgereik- hoe nou gemaak?
Die matriekuitslae word reeds die afgelope vier innamejare laat uitgereik. Martin Viljoen, woordvoerder vir die Universiteit Stellenbosch, sê die tydsverloop tussen die bekendmaking van die uitslae, die finale toelatingsaanbod en die aanvang van die verwelkomingsprogram is minimaal.
Dit kan voornemende studente wat voorlopige keuring vir sekere studierigtings gekry het pootjie, sou hul finale matriekuitslae nie aan die vereistes voldoen nie. Dit is dus wys om 'n plan B te hê indien jy nie finale keuring vir jou gekose studierigting kry nie.
Liana van Rooy, registrateur by Akademia, 'n onafhanklike hoëronderwysinstelling, sê wanneer 'n student inskryf by 'n universiteit of hoëronderwysinstelling is dit wys om vas te stel watter verskillende roetes die voornemende student by sy doelwit kan uitbring.
Daar is gewoonlik nie slegs een roete nie - vat byvoorbeeld Akademia se rekeningkunde-grade. As 'n student nie toelating het tot graadstudie volgens hul Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) of nie die minimum persentasie behaal in wiskunde nie, kan die student registreer vir 'n hoër sertifikaat in rekeningkunde. Dit is 'n een-jaar-kwalifikasie wat jou toelating gee tot by BCom (finansiële en bestuursrekeningkunde), maar ook die meerderheid ander BCom-grade. Jy kan dan die daaropvolgende jaar inskryf vir 'n graad. Dit is dus baie belangrik om kontak te maak met die instellings en uit te vind watter verlengde roetes is moontlik indien jou uitslae nie is wat jy gehoop het nie.
Liana sê ook voornemende studente wat moontlik besluit om die matriekvak te laat hernasien of 'n hereksamen wil aflê, moet ook seker maak of die instelling 'n tweede inname in die tweede semester het, waarvoor hulle dan kan aansoek doen.

Verlede jaar se matrieks voel die druk
Pierre van der Merwe het sy 2023-matriek aan Hoërskool Die Wilgers in Pretoria voltooi. Hy sê die laat vrystelling van uitslae plaas druk op alle matrieks, maar veral op die individue wat voorlopig gekeur is vir bepaalde studierigtings.
"Dit veroorsaak spanning by ons," sê hy. Pierre het voorlopige keuring om aktuariële wetenskap by Tuks (die Universiteit van Pretoria) te studeer. Sou hy nie die finale keuring vir aktuarieel kry nie, sal hy by dieselfde universiteit BCom bestuursrekeningkunde of BSc finansiële wiskunde kan doen, en dan later oorskakel na aktuarieel.

Chelsea de Witt, 'n leerling van die Hoërskool Sasolburg, het voorlopig keuring vir BVSc (veeartsenykunde) en dit was haar droom vandat sy vyf jaar oud was. Haar plan B, sou sy nie finale keuring kry nie, is om BSc by die Noordwes-Universiteit (NWU) te studeer.
"Die tydperk wat ons moes wag vir die uitslae was verskriklik senutergend en veroorsaak baie angs en stres. Al het ek 'n plan B, is dit steeds nie wat ek wil doen nie en ek sal weer aansoek doen vir BVSc indien my punte nie genoeg is om my keuring te behou nie. Dit beteken dat dit nóg langer gaan neem en meer geld gaan kos aangesien ons dan vir die ekstra jaar by NWU moet betaal, terwyl ek die eerste jaar van die BSc-graad by NWU voltooi," sê Chelsea.
Chelsea het voorlopige keuring gekry met haar gr 11-punte van 90%. Die voorwaarde om haar keuring te behou is dat haar punte nie met meer as 5% op daardie gemiddelde sal daal nie.
Jy het nie geslaag nie . . . wat nou?
Hou die onderwysdepartement se Second Chance-program in gedagte. Die program ondersteun studente wat nie matriek geslaag het nie en hul uitslae wil verbeter deur sekere vakke in Junie oor te skryf. Die program is gratis en bied ondersteuning in die vorm van groepklasse en aanlyn klasse.
Nog 'n keuse is om matriek oor te doen.
Elbie Liebenberg, direkteur van Oxbridge Academy, verduidelik: "Gr. 12-leerlinge wat hul matriekeksamen druip, kan nie die graad voltyds herhaal by die skool wat hulle bygewoon het nie. Jy kan wel matriek herhaal by 'n kollege (soos Oxbridge Academy) of enige instituut wat 'n gelykstaande kursus aanbied."
As dinge nie volgens plan verloop nie, sê Johan dit is belangrik om die mislukking of teleurstelling wat jy ervaar, te erken deur dit hardop te sê en net te sê dit is oukei om so te voel. Jy mag so voel. Gesels as ouers met mekaar en jul kind. Praat oor die sleg én die goed van die situasie.
Gee mekaar emosionele vertroosting en vra vir jou kind wat hy nodig het op daardie oomblik.
"Ons sê te gou kom ons gaan aan en kyk vorentoe en ons wil planne maak, maar die belangrikste eerste stap is om te erken. Kyk dán na die situasie en besluit wat anders gedoen kan word as in die verlede, wat is jou sterkpunte en wat kan jy doen om op te bou na jou toekomsberoep toe, om die narratief te verander. Die derde stap is om te oorweeg wat die slegste is wat kan gebeur. Ek kan dieselfde punte kry of dalk weer nie goed doen nie - werk hierdeur ook. En bou na die laaste stap: Wat gaan ek hieraan doen?
"Die belangrikste vir my is dat jy die beste sal maak van die jaar. As jy besluit om vakke oor te skryf, dink ook daaraan om die tyd te gebruik om inligting in te win oor verskillende beroepe en wat dit behels. Kyk of jy iewers 'n shadow-werk kan kry om ondervinding op te doen, en gesels soveel moontlik met mense uit verskillende beroepe om te hoor waaroor hul werk gaan," sê Johan.
Loer hier vir hulp





















