Matrieks

SA se topmatrikulant kry heldeontvangs in George

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Abigail Kok van York High in George, wat as Suid-Afrika se topmatrikulant aangewys is, Dinsdag saam met die skoolhoof, Francois Moll, by die skool.
Abigail Kok van York High in George, wat as Suid-Afrika se topmatrikulant aangewys is, Dinsdag saam met die skoolhoof, Francois Moll, by die skool. (Foto: York High)

Abigail Kok van York High in George wat as Suid-Afrika se topmatrikulant aangewys is, is Dinsdagoggend op die George-lughawe deur Francois Moll, haar trotse skoolhoof, verwelkom.

Sy is ingewag deur Moll, leerlinge en onderwysers nadat sy ’n geselligheid vir die toppresteerders in Johannesburg saam met David Maynier, Wes-Kaapse LUR vir onderwys, bygewoon het.

Abigail (18), wat ook as die toppresteerder in fisiese wetenskappe aangewys is, is van die lughawe af na die skool toe waar die ander matrieks van 2025 hul uitslae kom afhaal het.

Die skool het ’n 100%-slaagsyfer behaal met 29 A-gemiddeldes uit 2025 se klas van 194 matrieks. Abigail spog met sewe onderskeidings en het 100% behaal vir rekeningkunde en lewensoriëntering, 99% vir fisiese wetenskappe en wiskunde, 98% vir Afrikaans (eerste addisionele taal) en 96% vir Engels (huistaal).

Abigail, wat hoofmeisie en die dux was, het by die skool gesê dis ’n droom wat waar word, maar “dis ook ’n bietjie oorweldigend”.

“Vandag by die lughawe het hulle ’n klomp blomme gehad en alles,” sê sy. “Dit was baie, baie lekker maar totaal oorweldigend en ’n bietjie surrealisties, maar ook spesiaal. Ek kan net vir God dankie sê dat ek vandag hier staan.”

Abigail saam met haar ouers, Albert (links) en Susi Kok.
Abigail saam met haar ouers, Albert (links) en Susi Kok. (Foto: York High)
Abigail Kok met haar matriekuitslae.
Abigail Kok met haar matriekuitslae. (Foto: York High)
Abigail Kok word Dinsdagoggend op die George-lughawe verwelkom.
Abigail Kok word Dinsdagoggend op die George-lughawe verwelkom. (Foto: York High)

Moll het gesê hy is ongelooflik trots. “Abigail se uitslae is fenomenaal. Ons het verwag dat sy goed gaan doen.”

Benewens die feit dat sy slim is, is sy ook vriendelik, sê hy. “Sy leef ’n lewe van geloof en glo in familie. Sy het verlede jaar ’n eerbewys ontvang as die persoon wat die mees ondersteunende lid van die matriekklas was. Dit sê vir jou watter soort persoon sy is. Sy is die hoofmeisie en het haar soos ’n moederhen oor die gr. 8’s ontferm. Sy en ander matrieks het ook matriekleerlinge geïdentifiseer wat sukkel en hulle gemotiveer en ekstra klasse gegee. Ek het gesien hoe sy wiskunde hier in ’n klas gee, en dis die nalatenskap vir my en die krag van York se leerlinge.

“Ons skool glo in vriendelikheid en respek, en om uit te reik na die persoon langs jou en inklusief te wees. Dis iets wat daagliks by York gebeur, nie net iets wat ons op ’n muur sit nie, dis iets waarin ons glo. Vir my is dit ’n viering van uitslae, ja, dit alles, maar bowenal is dit ’n viering van ’n hele klomp jong mense wat ons uitstuur in die land wat ’n verskil kan maak en hulle ontferm oor ander mense en na gemeenskappe sal uitreik.”

Abigail beplan om datawetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US) te studeer.

– jkruger@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM