Die Afrikaanse Wikipedia, 'n gratis-inhoud-ensiklopedie nes sy Engelse boetie, bied 'n magdom kennis waarby veral Afrikaanse leerlinge kan baat, skryf Ernusta Maralack.
Enige ouer ken die vrees van wanneer jou laer- of hoërskoolkind met 'n taak huis toe kom waarvoor hulle navorsing moet doen, en jou hulp vra oor hoe en waar om te begin.
Natuurlik is 'n mens se eerste gedagte om alles op die internet-soekenjin Google te gaan opspoor, maar dan is die inligting in Engels en moet die taalgrens ook eers oorbrug word.
Volgens www.statista.com het sowat 4,3 miljard unieke besoekers in Desember verlede jaar oor die wêreld heen gebruik gemaak van Wikipedia.org - terwyl die Afrikaanse Wikipedia maandeliks gemiddeld 2,8 miljoen bladbesoeke kry.
Om inligting in jou moedertaal te verkry sal dus altyd die eerste prys wees - en die Afrikaanse weergawe van Wikipedia vul juis hierdie belangrike leemte. Jy kan inligting oor 'n groot verskeidenheid onderwerpe in Afrikaans kry op die webbladhttps://af.wikipedia.org/wiki/Afrikaanse_ Wikipedia.
https://af.wikipedia.org/wiki/Afrikaanse_Wikipediahttps://af.wikipedia.org/wiki/Afrikaanse_Wikipedia
Jy kan ook net "Afrikaanse Wikipedia" op Google intik en sal die skakel vind na die gratis inhoudsensiklopedie se webblad. Jy kan jou nou verdiep in 'n wêreld vol kennis in Afrikaans, jou moedertaal!
Die uitdaging wat Wikipedia die hoof moet bied, is dat sy geloofwaardigheid as 'n betroubare inligtingsbron betwyfel word, aangesien enigeen artikels kan skep en redigeer. Maar vir die toegewyde vrywilligers wat hul kennis op die Afrikaanse Wikipedia deel, is dit 'n taak wat hulle ernstig opneem. Volgens Deon Steyn, die direkteur van die Afrikaanse Wikipedia, het hulle gehaltebeheermaatreëls in werking gestel - onder andere administrateurs en "burokrate" wat as waghonde optree om die verbruikers van inhoud van die hoogste gehalte te verseker.

Dr. Rianne van Vuuren, 'n toekomskundige wat sedert 2005 by die Afrikaanse Wikipedia betrokke is, verseker verbruikers dat jy Wikipedia as 'n goeie wegspringblok vir navorsing kan gebruik, aangesien dit opsommings bevat. Soos die geval met enige navorsingsbronne of inligting wat jy op die internet kry, is dit raadsaam om altyd meer as een bron te raadpleeg en die inligting te verifieer.
" 'n Mens raak verslaaf daaraan. Daar was 'n tyd toe ek my doktorsgraad gedoen het toe ek myself (met moeite) moes weghou van Afrikaanse Wikipedia," sê hy.
Met sy aanvanklike betrokkenheid by die Afrikaanse Wikipedia het Van Vuuren bydraes gelewer oor wêreldgeskiedenis en gebeure van die dag. Hy het in filosofie belang gestel. Nadat hy 40 jaar lank vir die intelligensiedienste gewerk het, is hy nou méér betrokke by die Afrikaanse Wikipedia as voorheen. Dit gaan vir hom daaroor om sy kennis en ervaring te deel, asook oor die behoud van Afrikaans.
"Daar is 7 000 tale in die wêreld waarvan die helfte teen die einde van die eeu waarskynlik nie meer gaan bestaan nie. Meer as 300 tale word tans op Wikipedia verteenwoordig. Die Afrikaanse Wikipedia kan 'n kernrol speel in die voortbestaan van Afrikaans. Daar is 'n kans dat kennis verlore kan gaan weens dinge soos betaalmure," sê Van Vuuren.
Afrikaanse Wikipedia in syfers
Volgens 'n inligtingsdokument van die Afrikaanse Wikipedia het die Engelse Wikipedia tot stand gekom danksy die stigter, Jimmy Wales, se doelwit om vir almal vrye toegang tot kennis te bied.
Die Afrikaanse weergawe is op 16 November 2001 begin, en volgens die Afrikaanse Wikipedia is dit die grootste Wikipedia-navorsingsbron op die Afrika-vasteland. Daar is tans meer as 17 500 artikels op die Afrikaanse Wikipedia en dit beklee tans die 69ste plek op die wêreldranglys. Altesaam 343 Wikipedia-navorsingsbronne (waarvan 330 aktief is) is in uiteenlopende tale beskikbaar.
Die Afrikaanse Wikipedia word beheer en bestuur deur WikimediaZA, 'n organisasie sonder winsbejag wat ook die Wikipedia-navorsingsbronne in Suid-Afrika se ander amptelike tale bedryf. Die naasgrootste Wikipedia in Afrika is die Malgassiese Wikipedia met 97 380 artikels en die Swahili-Wikipedia beklee die derde plek met 81 333 artikels.
Volgens www.statista.com het sowat 4,3 miljard unieke besoekers in Desember verlede jaar oor die wêreld heen gebruik gemaak van Wikipedia.org - terwyl die Afrikaanse Wikipedia maandeliks gemiddeld 2,8 miljoen bladbesoeke kry.
Dit is inderdaad 'n ongelooflike prestasie, maar een wat die Afrikaanse Wikipedia wil oortref, sê Steyn. 'n Deel van sy vyfjaarplan vir die navorsingsbron is onder meer om die mylpaal van 1 miljoen artikels te bereik, die gehalte van die inhoud te verbeter en meer verbruikers te lok. Hy wil ook die wanopvatting dat die Afrikaanse Wikipedia ongeloofwaardig is uit die weg ruim.
Van Vuuren erken dat daar veral in die beginjare van die Afrikaanse Wikipedia gevalle was waar verkeerde inligting voorgekom het, maar sê die foutvlak is sedert die 2010's baie laag. "Dis nooit perfek nie, maar die beleid en verifikasie is van so 'n aard dat die inligting nagegaan word . . . Daar is suksesvolle en geloofwaardige inligting op die Afrikaanse Wikipedia." Hy het al self 1 581 artikels geskep en veranderinge aan 43 779 artikels aangebring.

Nuttig vir die skoolkind of student
Dr. Friedel Wolff, 'n rekenaarwetenskaplike en tegniese bestuurder van die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Digitale Taalhulpbronne, was 'n student aan die destydse Randse Afrikaans Universiteit, nou die Universiteit van Johannesburg, toe hy Wikipedia ontdek het.
"My universiteit het begin verengels en ek was bewus daarvan dat Afrikaans reeds onder druk was. Dit was toe sowat 10 jaar nadat Suid-Afrika se demokrasie tot stand gekom het. En toe kom ek in 2004 op die Afrikaanse Wikipedia af," sê hy.
Dié Afrikaanse aanlyn ensiklopedie was toe nog in sy kinderskoene. Wolff het besef die webblad het 'n bietjie werk nodig en het begin help met die regstelling van foute - hy het self artikels begin skryf en gesorg dat hy op die hoogte bly van die korrekte Afrikaanse taalgebruik en spelreëls.
Hy is nou wel nie meer die laaste paar jaar by die Afrikaanse Wikipedia betrokke nie, maar glo steeds dit voeg waarde toe tot die Afrikaanse gemeenskap en kan 'n nuttige sekondêre hulpbron vir skoolkinders en studente wees.
"Die onderwysers kan ook besluit hoe hulle dit in die klaskamer wil gebruik - dalk deur die gebruik van video's, foto's of tabelle. Die Wikipedia ís nuttig," sê Wolff.

Kompetisietyd
- Die Afrikaanse Wikipedia bied vanjaar weer hul skolekompetisie vir hoërskoolleerlinge aan. Die doel is die aanmoediging van leerlinge om "Wikipediane" te word en dat hulle vir die Afrikaanse Wikipedia sal begin skryf. Die kompetisie begin op 9 Julie en die wenner word op 14 November aangewys. Kry nog inligting by www.akademie.co.za/projekte/afrikaanse-wikipedia. Die kompetisie word ondersteun dur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, FEDSAS, Pretoria FM en Rapport. Hou dié koerant se sosiale media en die Afrikaanse Wikipedia dop vir nog inligting.















