Die bobbejaanmannetjie wat in die Oos-Rand rondswerf, is in die gees van die nasionale verkiesingsdag "Ballot" gedoop.
Daar word al byna 'n week lank oor 'n naam vir dié rondloperkees kopgekrap.
Van al die opsies wat oorweeg is - van Bobby en Bob tot Flash Gordon - is Woensdag op die naam Ballot (stembrief) besluit.
Ballot is verlede week vir die eerste keer in Brakpan opgemerk toe hy in 'n noordelike rigting beweeg het. Hy het Benoni Sondagoggend ingevaar en Maandag het hy in die rigting van Kempton Park koers gekies.
Volgens Jacques Cronjé, hoofbestuurder van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Benoni, is Ballot steeds in Birchleigh in die Kempton Park-omgewing.
Netwerk24 het vroeër berig die bobbejaan is vermoedelik op koers na Bronkhorstspruit, waar die naaste trop bobbejane is. Hy is besig om te migreer om hom by 'n nuwe trop aan te sluit nadat hy óf uit sy trop geskop is óf vrywillig die trop verlaat het.
LEES OOK | Kees kerjakker rond in die Oos-Rand op tog na nuwe trop

Volgens die Craig View-veeartsenykliniek in Boksburg, wat saam met die plaaslike DBV's help om die bobbejaan te monitor, het Ballot reeds sowat 31 km afgelê.
"In die algemeen toon die gemeenskap begrip vir en ondersteun die bobbejaan van Brakpan wat sy pad deur die Oos-Rand baan in die wete dat hy sy pad na die natuur sal vind," lui 'n inskrywing op die kliniek se Facebook-blad.
Ballot knibbel aan bome en struike, en kry hier en daar kos wat mense uit hul huise gegooi het. Geen voorval is nog aangemeld waarin hy kos uit enigiemand se huis gevat het nie.
Cronje sê tot dusver is geen beserings van mense of diere aangemeld nie en Ballot beweeg heel rustig deur die strate.
Die DBV in Brakpan sê dat "hulle almal sal stem vir Ballot se veilige aankoms by sy bestemming".
Inwoners word steeds gemaan om nie die bobbejaan te nader, te jaag, agterna te sit, uit te lok, seer te maak of te voer nie.


















