Aktueel

‘Die brug’ vir Emmy benoem

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die kykNET-werklikheidsprogram Die brug is vir 'n Emmy-prys benoem.

Die benoemings is Donderdag in New York gedoen en die gewilde Suid-Afrikaanse program is in die kategorie vir beste vermaak sonder 'n draaiboek benoem.

'n Internasionale Emmy-toekenning is deel van die glansryke Emmy-toekennings soos dit bekend staan, maar dit gee erkenning aan televisieprogramme wat nie in Amerika verfilm en vervaardig is nie.

Die brug was 'n program wat kykNET aangepas het volgens die internasionale formaat van die program The Bridge, maar met eg Suid-Afrikaanse flair. Deelnemers aan die program word fisiek en geestelik uitgedaag en moet in 'n span saamwerk om 'n brug na 'n eiland te bou waar 'n groot kontantprys wag - net een deelnemer kan dié prys wen. Die spanlede is vreemdelinge van mekaar.

Die brug het die aandag getrek met sy asemrowende natuurtonele, vindingrykheid en kreatiewe kamerawerk.

Neil Sandilands, wat ook al roem op die internasionale verhoog verwerf het, was die verteller van die program se gebeurtenisse.

Die realiteitsreeks 'Die brug' het die aandag getrek met sy asemrowende natuurtonele, vindingrykheid en kreatiewe kamerawerk.
Die realiteitsreeks 'Die brug' het die aandag getrek met sy asemrowende natuurtonele, vindingrykheid en kreatiewe kamerawerk.

Luidens 'n verklaring deur kykNET is die program reeds in Mei 2022 aan Suid-Afrikaners voorgestel.

"Die eindproduk, vervaardig deur die produksiemaatskappy Red Pepper, het ons kykers buitensporig baie plesier verskaf," sê Waldimar Pelser, M-Net-direkteur.

"Om boonop op internasionale vlak erkenning te kry vir 'n Afrikaanse produksie wat naby die beeldskone Swellendam in die Suid-Kaap verfilm is, voel geweldig goed," sê Pelser.

"Die brug is 'n baie besonderse formaat en ietwat van 'n enigma om te vervaardig," sê Cecil Barry, uitvoerende hoof van Red Pepper.

"Om saam met kykNET aan hierdie wonderlike formaat te kon werk, was inderdaad 'n groot avontuur en voorreg. Ons is trots en opgewonde oor hierdie Emmy-benoeming en veral omdat dit vir kykNET en Red Pepper internasionale erkenning gee."

Die tweede seisoen vir die program se verfilming begin eersdaags en die uitsaaidatum sal in 2025 op kykNET aangekondig word.

LEES OOK | KYK | Mense gis oor of 'Die brug' in George gebou gaan word

Die Pretorianer Robert Kruger was die wenner van Die brug se eerste seisoen.

Die Internasionale Emmy-toekenningsgeleentheid vind op 25 November vanjaar in New York plaas.

Daar is 14 kategorieë en 56 benoemdes uit 21 lande wat om dié gesogte toekennings meeding.

Die ander benoemdes in die kategorie waarvoor Die brug benoem is, is Anything Goes (Mexiko), Restaurant Misverstand (België) en The Summit (Australië).

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM