Suid-Afrika se Ayanda Thabethe se reis in die Mej. Supranasionaal het Vrydagaand by die top-24 geëindig, terwyl Andrea Aguilera van Ecuador die kompetisie gewen het.
Pauline Amelinckx van die Filippyne was tweede terwyl Sancler Frantz van Brasilië die derde plek inneem.
Lalela Mswane van Suid-Afrika, voormalige kroondraer, het die kroon op haar opvolger se kop gesit. Sy was in 'n elegante swart rok geklee en het trane afgevee toe haar tyd as skoonheidskoningin verstreke is.

Thabethe het die top-24 gehaal as een van die kortste deelnemers, maar sy kon nie na die top-12 vorder tydens die kroningsaand in Malpolska, Pole, nie. Die troosprys is egter dat Thabethe Vrydagaand aangewys as Mej. Vriendelikheid. Dié toekenning word gegee aan die vriendelikste, gaafste en mees positiewe deelnemer. Al die deelnemers stem vir die wenner van dié toekenning.
Dit is aan die begin van die kompetisie aan Thabethe oorhandig, terwyl toekennings aan Mej. Fotogenies (El Salvador), die beste talent (Korea) en beste nasionale kostuum (Thailand) ook uitgedeel is.
Jo-Ann Strauss, Mej. SA 2000 en TV-persoonlikheid, was 'n medeaanbieder van die program, wat ook sangers en dansers ingesluit het.
Strauss het tydens die kompetisie gesê toe syself 'n kroon gewen het, het haar lewe verander en sy het verskeie geleenthede gekry. Sy sê sy het later haar graad voltooi en verskeie sakeondernemings begin.
"As dit reg gebruik word is dit een van die wonderlikste platforms," het sy gesê. "En ook, hallo aan my dogtertjie wat kyk. Gaan slaap nou!"
Mej. Zimbabwe is aangewys as die Afrika-wenner, Mej. Peru as die wenner van die Amerikas, Indië van Asië, Curaçao van die Karibiese eilande en Gibraltar van Europa.
















